Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 32

Оглавление

SATERDAG 26 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 21:22–34

Goeie bure

“Beloof my dan nou met ’n eed ... dat jy net so eerbaar sal optree teenoor my en teenoor die land waarin jy nou woon, as wat ek teenoor jou opgetree het” (Gen 21:23).

GESELSVRAAG: Wat help goeie verhoudings tussen bure aan?

Sonde met die bure het CJ Langenhoven sy boek genoem waarin hy gespot het met die verhoudings wat so maklik tussen bure skeefloop. Dit is duidelik dat die probleme nie net van een kant af gekom het nie. Ons het almal bure. Dit is nie altyd so maklik om die buurman of -vrou se optrede te verstaan of te aanvaar nie. ’n Onbedagsame buurman kan die lewe regtig onaangenaam maak.

Abraham en sy buurkoning het hul verhouding herstel nadat Abraham vir Abimelek probeer bedrieg het (Gen 20). Dit is weer die ongelowige wat die eerste stap tot versoening neem. Hy kon sien dat die Here vir Abraham gehelp het (v 22). Daarom soek hy ’n vaste ooreenkoms tussen die twee partye. Abraham het weer gekla oor die put wat van hom weggeneem is. Abimelek het dit ook reggestel, en Abraham het weer met geskenke gereageer. Dit was ’n wen-wen-situasie.

Wat moet ons doen as ons buurman se seun sy musiek te hard speel? Of sy bal oor die heining skop? Of ’n eier teen jou muur stukkend gooi? Dit help niks om jou eie musiek net so hard terug te speel nie. Gaan praat dit uit. Sommige mense is wel baie selfsugtig en onbedagsaam. Moenie een van hulle wees nie.

GEBED: “Here, maak ons goeie bure met almal om ons.”

Lees vanaand in Genesis 22:1–14 die dramatiese verhaal van Abraham se grootste geloofstoets en hoe die Here voorsien het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх