Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 22

Оглавление

WOENSDAG 16 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 13:11b-18

Nader al nader ...

“ ... tot by Sodom het hy gaan tent opslaan” (Gen 13:12).

GESELSVRAAG: Hoeveel kan ’n mens drink voor jy ’n alkoholis word?

“Ag, kom nou! Hoe kan jy teen dwelms praat as jy dit self nog nie eens een keer probeer het nie? Enetjie doen tog nie skade nie,” word ons kinders wysgemaak. En een keer se gebruik van tik is genoeg om ’n kind verslaaf te maak en breinskade aan te rig. Elke alkoholis of dwelmslaaf het begin by die eerste sopie, of daardie zol wat die rondte gedoen het. Dit lyk so onskuldig, maar die uiteinde is verskriklik.

Lot het ook gedink dat die Jordaanvallei die beste plek was om te woon. Hy was skatryk en het baie vee gehad. Jou rykdom moet mos geniet word. So lees ons dat hy al nader aan die groot stad Sodom getrek het, tot sy tent langs die stad gestaan het. Die volgende wat ons lees, is dat hy in Sodom woon (Gen 19:1–2). Hy het daar tuis gevoel. Dit het hom uiteindelik alles gekos – sy besittings, sy vrou, sy dogters en sy selfrespek.

Wat is die naaste wat ’n mens aan ’n afgrond kan kom voor jy afval? Hierdie soort kompetisie eindig onvermydelik in ’n ramp. Ons gesin het jare gelede besef dat daar net een manier was om nie aan alkohol verslaaf te raak nie, en dit is om dit te vermy. En dit het vir ons duisende rande gespaar! Hoeveel “onskuldige” flirtasies het uiteindelik in die egskeidingshof geëindig! Wees op jou hoede, en vermy plekke van versoeking ten alle koste.

GEBED: “Here, hou my tog ver van die versoekings af weg.”

Lees vanaand in Genesis 14:1–12 wat die eerste skade vir Lot was omdat hy in Sodom gaan woon het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх