Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 37

Оглавление

DONDERDAG 31 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 24:49–67

Vir botter of vir wors

“Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad” (Gen 24:67).

GESELSVRAAG: Wat is die mooiste romanse waarvan jy gehoor het?

“Vir botter of vir wors” het die ou boere glo gespot as hulle die Engelse huweliksformulier gehoor het. “Ek en my man is vir beter of slegter getroud,” het een vrou verklaar, “hy kon nie beter doen nie, en ek nie slegter nie.” Elkeen wat getroud is (of was), weet dat dinge nie altyd so vlot in ’n huwelik verloop nie. Daar kom maar tye van misverstand. Ons moet elke dag daaraan werk om ons lewensmaat gelukkig te maak. Maar dis oor en oor die moeite werd.

Isak kon nie sy eie vrou kies nie. Sy pa se bediende het dit sommer vir hom gedoen. Wat is die kans dat so ’n huwelik kon slaag? Tog lees ons dat Isak vir Rebekka liefgehad het en nooit die behoefte gehad het om ’n ander vrou by te vat nie. Sy huwelik was ’n droomhuwelik, al het Rebekka en Jakob hom ’n slag bedrieg.

Die geheim lê waarskynlik in hierdie gesin se gebedslewe. Abraham was die ou geloofsheld, sodat hy vandag nog die vader van alle gelowiges is. Sy toegewyde gebedslewe het sy werksmense se lewe geraak – kyk maar hoeveel keer hierdie slaaf gebid het – en natuurlik sy seun en skoondogter ook. Wat sou jul huishulpe of plaaswerkers getuig as iemand hulle sou vra of hul werkgewers naby aan die Here leef? Dink jul huismense dat julle werklik gelukkig getroud is? Of is daar iets om aan te werk?

GEBED: “Dankie dat U ons bymekaargebring het, Here. Maak ons waarlik een sodat ons u hegte span kan wees.”

Lees vanaand in Genesis 25:1–11 hoe ’n baie ou man weer kans gesien het om te trou en met nog ’n span kinders geseën is.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх