Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 42

Оглавление

MAANDAG 4 FEBRUARIE 2013

Lees eers Genesis 27:1–13

Seën gekaap

“Jy moet dit dan vir hom vat dat hy dit kan eet en jou kan seën voor hy sterf” (Gen 27:10).

GESELSVRAAG: Na watter soort seën verlang jy die meeste?

“Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien” het die Here aan Rebekka verduidelik nog voor haar seuns se geboorte (Gen 25:23). Sy het dus geweet dat Jakob die uitverkore een is, en het besondere aandag aan hom gegee. Esau was weer die rowwe buitelugkind wat sy pa se liefling was. Hoewel hy nou al twee keer getroud was, het hy nog in sy pa se tente gewoon.

Dit het vir Rebekka die kans gegee om die hele proses te ontspoor – of dalk op die regte spoor te bring? Is sy die held of die boef in die verhaal? Dit hang af van wie se kant jy die storie beskou. Kan die Here leuens en bedrog gebruik? Of voer Hy sy planne uit ten spyte van die sonde van sy kinders?

Ons leer egter dat die woorde van ouers ’n lewenslange effek op hul kinders het. Esau en Isak het dit as onomkeerbaar beskou. (Isak het nog 40 jaar langer geleef, al was hy teen hierdie tyd oud en blind.) Wat gaan ons vir ons kinders nalaat? Net geld? Of dalk kosbare woorde van bemoediging wat hulle hul lewe lank gaan onthou en toepas? Ons saai elke dag in hul lewe. Kom ons maak seker dat dit die regte soort saad is.

GEBED: “Here, ons bid vir ons kinders en kleinkinders, dat hulle op u pad sal bly en u wil sal doen.”

Lees vanaand in Genesis 27:14–29 hoe die bedrog toe verloop het en wat Jakob daardeur gekry het.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх