Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 8

Оглавление

WOENSDAG 2 JANUARIE 2013

Lees eers Genesis 1:26–2:4a

God se verteenwoordiger

“God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep” (Gen 1:27).

GESELSVRAAG: Waar en hoe moet ons God vanjaar verteenwoordig?

“As ons dan na die beeld van God geskep is, beteken dit dat Hy ook hande en voete soos ons het?” is ’n gewilde vraag in die katkisasieklas. God is Gees, alomteenwoordig en het dus nie ’n liggaam soos ons dit ken nie, al het so baie skilders Hom al as ’n ou man met ’n baard probeer voorstel. Paulus sê ons moet al hoe meer na die beeld van God verander word: “Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig” (Ef 4:23–24). Ons is dus geskep om volmaak gehoorsaam en toegewy te lewe.

Ons moet erken dat ons almal nog ’n ver pad het om te gaan. Daarom moes Jesus kom as die volmaakte beeld van God (2 Kor 4:4; Kol 1:15). Hoe meer ons soos Jesus word, hoe meer word ons wat God bedoel het dat ons moet wees. Dit kan net gebeur as ons baie tyd met Hom deurbring en Hom al beter leer ken. Hoe meer ons onsself aan die Heilige Gees oorgee, hoe meer word ons soos Jesus.

Orals waar ons vandag gaan beweeg, is ons God se verteenwoordigers. Die mense moet iets van Jesus in ons sien. Wat moet verander? God wil deur ons werk en na ander uitreik.

GEBED: “Maak my al meer soos Jesus, o Heilige Gees.”

Lees vanaand in Genesis 2:4b-17 wat die Here se opdragte aan die mens was en is. Dink wat dit vandag beteken.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх