Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 12

Оглавление

SONDAG 6 JANUARIE 2013

Lees eers Psalm 80:1–12

’n Nuwe begin

“Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!” (Ps 80:8).

GESELSVRAAG: Wat is jou een groot gebed vir hierdie jaar?

“Wat kan ons vandag vir ons land bid?” is ’n goeie beginpunt vir hierdie jaar. In baie gemeentes word die eerste week van die jaar, of so gou moontlik daarna, vir ’n week van gebed gebruik. Sonder die Here kan ons niks doen nie. Elke aspek van ons gemeentewerk, boerdery, onderwys en sakewêreld het voorbidding nodig. Ons besef dat ons absoluut van ons almagtige God afhanklik is. Sonder Hom is daar geen sekuriteit nie.

“Hierdie is ’n gebed vir nasionale herlewing,” skryf Matthew Henry oor dié psalm. Dit is geskryf ná die koninkryk van Israel in twee geskeur het, en waarskynlik nadat die noordelike koninkryk reeds weggevoer is, want net die stamme van Juda word genoem. Dit was ’n tyd van militêre bedreiging en onsekerheid. Daarom begin hulle ook by die regte plek – by God. Die selfsug van mense lei net tot verwoesting en die dood. Maar God se redding verander harte en maak mense nuut.

Verlang jy ook na ’n magtige werking van die Heilige Gees in hierdie jaar? Dit gaan opoffering en baie gebed kos. Is jy daartoe gewillig? In die Naam van Jesus kan ons bid en ’n antwoord op ons gebede verwag. Hy belowe dit (Joh 16:23).

GEBED: “Openbaar u almag tog weer in ons land, o Heer!”

Lees vanaand in Psalm 80:13–20 hoe God se inisiatief die basis van hierdie gebed vorm. Hoe troos dit jou?

Uit die Beek 2013

Подняться наверх