Читать книгу Uit die Beek 2013 - Attie van Wijk - Страница 19

Оглавление

SONDAG 13 JANUARIE 2013

Lees eers Psalm 81:1–11

Geesdriftige kerkgangers

“Jubel tot eer van God ons sterkte, juig tot eer van die God van Jakob!” (Ps 81:2).

GESELSVRAAG: Wat moet verander sodat ons met lus kerk toe gaan?

“Ons is nie haastig huis toe nie. Dit is mos lekker by die kerk!” verduidelik ’n swart lidmaat waarom hul dienste twee tot vier ure lank duur. Hulle sing met lus, en harmoniseer outomaties. Beurtsange is geen probleem nie. Die manne doen dit sonder om geleer te word. Hoe meer kere die lied herhaal word, hoe beter. En almal se lywe swaai saam. Hulle kan nie verstaan hoe ons die Here kan loof terwyl ons soos stywe pilare staan nie. Ons gesigte wys ook nie juis dat ons bly is oor die Here nie.

Die Afrika-manier van aanbidding is baie nader aan die Bybelse manier as die manier waarop ons dit doen. Lees weer die beskrywing van die sang en musiekinstrumente. Daar is geen orrel om die sang te oordonder nie. Ons kan mos nie meer harmoniseer nie. Almal sing dieselfde note. Of bly saam stil!

Kom ons neem ons voor om vandag die Here skaamteloos te loof, al sê of dink ander mense ook wat. Dit gaan nie oor wat die mense sê nie, want ons kom saam om God te loof. Hý is die middelpunt van die aandag, nie die mense nie. Ons gaan nie kerk toe om vermaak te word nie, maar om te aanbid.

GEBED: “Here, gee ons vandag ’n ware ontmoeting met U.”

Lees vanaand in Psalm 81:12–17 hoe mense God se seën misloop deur hul ongehoorsaamheid.

Uit die Beek 2013

Подняться наверх