Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 10

BASIESE BEGINSELS VAN VOEDING

Оглавление

Alle swanger vroue moet een ding in gedagte hou: Ontspan! Daarmee wil ek nie sê dat jy na hartelus net wat jy wil kan eet of dat jy alle raad kan ignoreer nie. Dit beteken liewer dat jy moet staatmaak op die twee betroubaarste en slimste vennote wat daar is. Dit is jou natuurlike instinkte en Moeder Natuur se oorvloedige spens.

Die basiese riglyne vir gesond eet is kortweg gestel as volg:

•Eet meer plantkosse Plantkosse sluit vrugte, groente, peulgroente, neute, sade en grane in. Dit moet die grootste deel van jou dieet vorm en moet verkieslik nie verwerk wees, preserveermiddels of kleurstowwe bevat of geneties gemodifiseer wees nie. As dit organies is of uit jou eie groentetuin kom, des te beter.

•Eet minder vleis en suiwel Nie net is daar ’n verband tussen ’n dieet wat grotendeels uit vleis en suiwel bestaan en ’n verhoogde vatbaarheid vir siektes nie, die diere word ook dikwels grootgemaak met behulp van antibiotika en sintetiese hormone, wat dan uiteindelik in jou gestel beland. In die slagpale skei diere groot hoeveelhede adrenalien en kortisol af en dié hormone bly in die vleis. Dit kan ’n nadelige invloed op swanger vroue en geboortehormone hê. Dit is ook nie waar dat jy koeimelk nodig het sodat jou baba ’n gesonde skelet kan ontwikkel en om jou tande sterk en gesond te hou nie. Wanneer jy diereprodukte eet, moet dit sover moontlik van medikasievrye, vrylopende en organiese diere afkomstig wees.

•Kies kos met al die kleure van die reënboog Mense skep instinktief kosse met verskillende kleure in. Dit is juis die natuur se manier om te verseker dat jy al die voedingstowwe kry wat jou liggaam nodig het. Eet dus gerus met jou oë!

•Eenvoudiger is beter Dit is nie nodig dat elke maaltyd die perfekte balans van kossoorte en voedingstowwe bevat nie. Jy moet net genoeg van alles in die loop van die dag of selfs week eet. Moet ook nie te veel bestanddele in een gereg gebruik nie. Dit sal jou spysvertering belemmer.

•Moenie vir twee eet nie Laat jou eetlus jou lei wat porsies betref. Die belangrikste is dat jy gesonde kos eet. Baie verwagtende vroue verkies om meer gereeld kleiner maaltye te eet om hulle heeldag energie te gee sonder dat hulle ongemaklik voel.

•Sny bymiddels liefs heeltemal uit Dit beteken dat jy so min moontlik verwerkte, verfynde kos moet inneem. Vrugte is per slot van rekening Moeder Natuur se perfekte kitskos en net die ding as jy peuselrig voel.

•Dit sal nie skade doen as jy af en toe toegee aan die versoeking nie As jy die meeste van die tyd gesond eet, sal jou liggaam en jou baba dit kan verwerk wanneer jy jouself die dag ’n bietjie bederf. Wees egter eerlik met jouself en probeer om minstens 80% van die tyd gesond te eet.

•Moenie baie vloeistof met etenstyd inneem nie Te veel vloeistof verdun die ensiembevattende maagsappe en belemmer spysvertering sodat jou liggaam nie die kos optimaal sal kan benut nie. Die kanse is ook goed dat jy las van winde en krampe sal hê.

•Moenie vas nie Dit is nie raadsaam om in enige fase van swangerskap te vas nie. Dit is nie goed vir jou of jou baba nie. Die meeste gelowe wat vereis dat volgelinge soms vas, maak voorsiening vir gedeeltelike onthouding. Mense wat vas loop gevaar om onstabiele bloedsuikervlakke, lighoofdigheid en lae bloeddruk te ontwikkel of om te dehidreer.

Superkosse vir twee

As jy hierdie sewe kossoorte regdeur jou swangerskap by jou dieet insluit en saam met genoeg vars vrugte en groente van ’n groot genoeg verskeidenheid eet, is die kanse goed dat jy en jou baba blakend gesond sal wees.

1.Dadels bevat noodsaaklike vetsure, verskaf energie en stabiliseer bloedsuikervlakke.

2.Avokado’s bevat talle noodsaaklike voedingstowwe asook noodsaaklike vetsure en bevorder doeltreffende spysvertering.

3.Kokosneute bou jou liggaam se immuunstelsel en help om jou sirkulasiestelsel in stand te hou.

4.Pomelo’s reguleer en beheer die drang na kos.

5.Enige soort bone bevat proteïene, yster, vesel, foliensuur en kalsium.

6.Groen groentes bevat foliensuur en kalsium.

7.Goeie heuning (nie te veel nie) het ’n antibakteriese werking.

Oppas: Groeiende baba aan boord!

Sekere kosse word verbind met ’n groter kans op ’n allergiese reaksie, giftige bakterieë of oormatige ongemak in swanger vroue en dit sal wys wees om hierdie ses kosse te vermy of minstens te verminder:

1.Kos met ’n allergierisiko soos suiwelprodukte, verwerkte graanprodukte (brood, pasta, koek en beskuitjies), skulpvis, eiers en grondboontjies

2.Eksotiese sampioene, uie en knoffel

3.Neute – die probleem is eintlik ou of galsterige neute of die preserveermiddels daarin

4.Vleis- en suiwelpatee

5.Bloukaas en beleë sagte kase

6.Gedroogde vleisprodukte soos biltong

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх