Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 15

Оглавление

HOOFSTUK 5

Jou gedagtes, gees en gemoed

Verwagtende vroue voel dikwels of hulle vir nege maande lank ’n emosionele wipplank ry en dit is glad nie vreemd om meer stres te ervaar of buitengewoon emosioneel te voel nie. Dit kan jou prikkelbaar, kwaad, gespanne en huilerig maak en laat voel asof jy geen persoonlike ruimte meer het nie.

EMOSIES TYDENS SWANGERSKAP

Vroue wat die eerste keer verwag is dikwels meer buierig vanweë die groot veranderings en aanpassings wat dit bring. Ander is weer meer buierig tydens ’n tweede of derde swangerskap omdat hulle reeds ’n baba het wat hul aandag en energie verg en mense dalk minder begrip toon en hulp verleen omdat hulle meen dat sy nou gekonfyt is.

Hormoonskommelinge dra beslis hiertoe by, maar dit word normaalweg meer stabiel aan die einde van die eerste trimester. Hier is nog ’n paar faktore wat jou bui kan beïnvloed:

•Swangerskap is ’n oorweldigende ervaring wat talle liggaamlike, geestelike en emosionele uitdagings meebring. Jou liggaam, verstand en emosies het nog nooit so iets ervaar nie en dit raak elke faset van jou lewe. Sommige vroue hanteer dit beter as ander, maar dit is glad nie vreemd as ’n swanger vrou gereeld in trane uitbars of angstig en selfs depressief voel nie.

•Swanger vroue voel dikwels alleen. Selfs jou geliefdes sal nie altyd die steun bied wat jy werklik nodig het nie en jou maat sal nie altyd begrip hê vir al die veranderinge wat swangerskap behels nie. Jy mag nie vir ’n oomblik vergeet dat jy swanger is en dat jou lewe besig is om onherroeplik te verander nie, terwyl jou maat maklik kan vergeet van die baba wat op pad is wanneer iets anders sy aandag opeis.

•Ander vroue, selfs familie en vriende, sal jou soms onbewustelik die skrik op die lyf jaag met stories oor bevallings wat baie pynlik was, hoe om dit te hanteer en hoe dit jou liggaam gaan affekteer. Dit veroorsaak groot angstigheid en lei ongelukkig daartoe dat vroue gevolglik ’n tipiese hospitaalbevalling met al die “gewone” mediese bystand as natuurlik beskou. Onthou dat ’n sogenaamde normale vaginale bevalling en keisersnee nie die enigste opsies is nie. ’n Waarlik natuurlike geboorte (soos Moeder Natuur dit bedoel het) is ’n pragtige, bemagtigende ervaring. Om geboorte te skenk is harde werk, maar jou liggaam is gemaak om geboorte te skenk! Jy kan in die volgende afdeling meer lees oor die verskillende maniere om geboorte te gee en pyn te verlig, wat kraam en die bevalling sal vergemaklik.

•Jy moet aanhou werk en kan nie ophou nie terwyl jy terselfdertyd ’n voltydse “broeikas” is. Dít kan jou maklik lus maak om sommer te begin huil, veral as jy reeds sukkel om te slaap, van nature sensitief is en boonop ’n perfeksionis is.

Dit sal baie help as jou geliefdes ekstra liefdevol is en jou ’n bietjie pamperlang. Moet ook nie so streng met jouself wees nie en verslap die pas effens. Dit is ’n besonder “vroulike” en sensitiewe fase in jou lewe en jy is veronderstel om meer emosioneel te wees!

STRESVERLIGTINGSOEFENINGE

Hierdie tegnieke kan enigiemand baat, nie net swanger vroue nie. Span hulle in as jy merk dat jou stresvlakke styg of as jy geneig is om maklik angstig of kriewelrig te raak.

Tongtoertjie

Sit op ’n gemaklike stoel, sluit jou oë maar moenie aan die slaap raak nie. Plaas die punt van jou tong teen jou verhemelte net bo en agter jou voortande. Jy sal dadelik voel hoe jou gesigspiere en -bene van posisie verander en hoe jou gesig en nek ontspan. Dit is dikwels die eerste dele waar jy spanning kan voel. Hierdie eenvoudige dog effektiewe oefening sal veral migraine- en hoofpynlyers help. Dit sal nog doeltreffender wees as jy kan vergeet van alle kwade en wrewelrige gedagtes.

Wonder-minimasseerpunte

Sit gemaklik en masseer die area tussen jou wenkbroue en jou slape met stadige, ligte sirkelbewegings met jou wysvinger. Masseer dan die area agter jou ore liggies met ’n geboë op-en-afbeweging agter jou ore. Dit sal jou help om rustig te slaap en te ontspan.

Kom gereeld uit in die natuur

Bitter min mense is bestand teen die kalmerende en verkwikkende uitwerking van ’n ontspanne piekniek onder ’n boom, uitspan langs ’n meer of die skoon reuk van reën terwyl jy kaalvoet deur die plasse loop. Sit dit hoog op jou doenlysie en laat Moeder Natuur jou help om die stres en spanning van swangerskap te verwerk.

Musiek

Maak dit ’n gewoonte om musiek te luister terwyl jy werk, in die motor ry en terwyl jy tuis met die huiswerk besig is. Elkeen se smaak verskil en daar is nie voorskrifte oor watter soort musiek die strelendste of inspirerendste is nie. Kies waarvan jy hou en wat jou die beste laat ontspan.

As niks van dié raad help nie, kan jy probeer om jou gemoed op een van hierdie maniere op te kikker:

1.Neem ’n homeopatiese middel so dikwels soos nodig. Dit is veilig en dis nie moontlik om ’n oordosis te neem nie. Jou baba sal dus nie daardeur geraak word nie.

2.Besoek die webwerf van die Sister Lilian-sentrum (www.sisterlilian.co.za) waar jy baie raad sal kry.

3.Skakel die Vereniging vir Nageboortelike Depressieondersteuning in Suid-Afrika (PNDSA) by 082 882 0072 of besoek www.pndsa.org.za. Hulle bied ook raad aan vroue met depressie tydens swangerskap en nie net na geboorte nie.

Moenie onnodig tob oor die uitwerking wat jou verhoogde stres, spanning en emosies op jou baba gaan hê nie. Die enigste gevolg is dat pasgeborenes effens meer rusteloos en koliekerig kan wees as hul ma’s ongelukkig of gespanne was terwyl hulle verwag het.

SEKS EN SWANGERSKAP

Die feit dat jy verwag behoort nie jou liefdeslewe te belemmer nie. Inteendeel, dit is dikwels stukke beter! As jy ’n gesonde, normale swangerskap het, is dit heeltemal veilig om seks te hê. Hier is ’n paar dinge om in gedagte te hou:

Dit kan anders voel

Swangerskap verhoog die bloedtoevoer na jou bekken en dit maak jou geslagsdele gevoeliger. Dit veroorsaak gewoonlik dat die vrou meer plesier ervaar, maar dit kan soms effens seer voel; jou borste kan ook baie gevoelig wees. Ontspan dus en trek soveel moontlik voordeel uit al die hormone in jou gestel. Hoe versigtiger en meer bedagsamer jou maat is, hoe lekkerder sal jul sekslewe tydens swangerskap wees. As jy egter ongelukkig of gespanne is, kan dit jou vaginale smering belemmer, wat seks pynlik sal maak.

Jou seksdrang verander

Jou seksdrang kan óf toeneem óf dit kan die laaste ding wees waarvoor jy lus is. Hieronder is ’n paar van die faktore wat ’n rol speel:

•Swangerskapsimptome Tamheid, naarheid, skete en pyne, geswelde ledemate, sooibrand. Nie een van hulle wek juis passie nie, of hoe?

•Skaamte oor jou liggaam Vir die meeste mans is hul vrou se veranderende liggaam pragtig en interessant. Probeer dus om jou nie daaroor te kwel nie.

•Angstigheid oor moederskap Dit kan gewoonlik uit die weg geruim word as jou maat begrip toon en jy met hom daaroor gesels.

Onthou dat intimiteit oor veel meer as seks gaan. Om in mekaar se arms te lê, te gesels, soen en selfs ’n aandjie uit kan baie help om die passie tussen julle te behou.

Hy is bang

Baie mans dink dat seks tydens swangerskap die baba sal seermaak. Party voel selfs ’n bietjie skaam, asof die baba hulle afloer! Mans gesels nie maklik hieroor nie en dit sal help as jy die inisiatief neem en hom gerusstel dat jy wil seks hê en dat dit heeltemal in orde is, veral as jou swangerskap goed verloop.

Verander van posisie

Die meeste paartjies moet ander posisies probeer omdat die man nie meer bo kan wees nie. Namate jou maag groter word, kan dit net te ongemaklik wees en sal jou maat in elk geval nie te hard op jou maag kan druk nie. Eksperimenteer en maak ’n speletjie daarvan. Wie weet, dit kan dalk jul verhouding woema gee.

Dié vyf vrae is van die algemeenstes wat paartjies het:

•V1. Is dit veilig om tydens swangerskap seks te hê? Ja, dit is as jy en jou baba gesond is, jy geen abnormale vaginale afskeiding het nie en die dokter jou nie aangeraai het om nie seks te hê nie. Julle sal nie die baba seermaak nie, maar moet wel versigtig wees dat jou maat nie te hard op jou maag druk nie.

•V2. Sal seks aan die einde van my swangerskap kraam verhaas? Ja en nee. Die hormoon oksitosien word met orgasme vrygestel en kan kontraksies veroorsaak. Kraam sal egter nie plaasvind as jou baba en jou liggaam nie gereed is nie.

•V3. Wat veroorsaak bloeding ná omgang? Dit kan die gevolg wees van ’n klein seerplekkie in die vaginale wand of ’n laagliggende plasenta. Eersgenoemde behoort natuurlik te genees, maar as daar infeksie is, moet jy ’n dokter raadpleeg. ’n Laagliggende plasenta moet deur ’n dokter gediagnoseer word en kan beteken dat jy vir ’n tydperk nie sal kan seks hê nie. As die bloeding nie stop nie of as jy merk dat jou baba anders as gewoonlik beweeg, as jy koors het of as jou baarmoeder pyn, moet jy dadelik jou dokter of vroedvrou raadpleeg. Hulle sal dan bepaal of dit veilig is om voort te gaan met seks. Jy moet hulle ook inlig as daar ’n abnormale afskeiding is of as jy enigsins nie gesond voel nie.

•V4. Wat kan ek doen as seks seer is? Dit beteken selde dat iets skort. As daar ander kommerwekkende simptome is, moet jy ’n dokter raadpleeg. Indien jy gespanne is, kan dit veroorsaak word deur spanning in jou vaginale spiere of deur onvoldoende smering. Ontspan dus en gebruik ’n betroubare smeermiddel om ongemak te verlig.

•V5. En as ons glad nie meer seks het nie? Vra jouself waarom nie. Dalk is jy te moeg as gevolg van al die swangerskaphormone of dalk tas jou liggaam jou selfvertroue aan. Maak tyd om intiem te wees en onthou dat die meeste mans ’n swanger vrou se liggaam aantreklik vind. Kommunikasie is deurslaggewend. Laat jou maat weet dat jy lus is vir seks en dat dit nie gevaarlik is nie. Dit is nie ’n onherstelbare toedrag van sake nie.

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх