Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 11

GESOND EN GEHIDREER

Оглавление

Water vervul ’n lewensnoodsaaklike rol in die liggaam. Dit vervoer voedingstowwe en suurstof na alle liggaamsdele en voer afval uit die liggaam. Dit reguleer liggaamstemperatuur, beskerm en smeer gewrigte en hou mukusmembrane vogtig. Sonder genoeg water sal jy vinnig dehidreer, wat lei tot talle probleme soos hardlywigheid, verwarring, verlaagde energievlakke, swak proteïenopname en spieragteruitgang.

Jou ontwikkelende baba se eerste tuiste is ’n sak water. Hoewel dehidrasie nie al is wat daartoe kan lei dat daar te min amniowater is nie, kan kwaai dehidrasie veroorsaak dat daar te min is vir jou baba om na wense te groei.

Om regdeur jou swangerskap goed gehidreer te bly, moet jy na jou liggaam luister en ag slaan op tekens dat jy dors is of ’n punt daarvan maak om tussen 1,5 en 2 liter skoon water en gesonde drankies per dag te drink. Dit is maklik: Drink vyf glase water en drie koppies rooibos- of groentee of iets anders wat gesond is.

Onthou om nie baie water of sap saam met ’n maaltyd te drink nie. Die vloeistof verdun die maagsappe en maak spysvertering minder doeltreffend. Let gerus op die volgende:

•Die liggaamlike siklus sorg dat die uitskeidingsproses vroeg soggens plaasvind. Drink daarom ’n beker warm water vroeg in die oggend as jou spysvertering traag is en eet kos met ’n hoë voginhoud vir ontbyt, byvoorbeeld die meeste soorte vrugte, om die nier- en dermfunksionering te stimuleer.

•Roer ’n bietjie garingboomstroop (agave) of -poeier by jou gesonde tee in as jy angstig of oorstuur voel. Soet smake kan help om angstigheid te verlig en jou ekstra energie gee.

•Volgens Chinese en Ajurvediese geneeskunde help bitter smake om die geheue te verbeter. As jy dus sukkel met “pregnesia”, kan ’n koppie rooibostee sonder suiker en melk twee keer per dag dalk help.

•As jy twyfel of die water by jou huis skoon is, kan jy ’n tuisfiltreerstelsel of ’n waterbottel met ’n ingeboude filter gebruik of die water eers kook.

•Hou ’n bottel water, rooibosystee of ’n ander gesonde drankie byderhand om te sorg dat jy heeldag gehidreer en koel genoeg is.

Water is die enigste vloeistof wat lewensnoodsaaklik vir die mens is. Sekere soorte kruietee (met water gemaak) is natuurlik ’n lekkerder manier om jou genoegsaam gehidreer te hou, maar daar is drankies wat jy liefs moet uitsny. Hier is ’n lysie:

✗Vermy alle alkohol aangesien daar nie bewyse is dat enige alkoholinname veilig is nie.

✗Probeer om nie meer as een koppie koffie per dag te drink nie en maak seker dat dit goeie koffie is. Dit sluit die meeste soorte kitskoffie uit.

✗Beperk kruietees tot nie meer as drie redelike flou koppies per dag nie. Dit kan in jou liggaam opbou en sommige soorte veroorsaak ongemak tydens swangerskap of hou ander gevare in.

✗Gaskoeldrank is vol kafeïen en het dikwels ook ’n onaanvaarbaar hoë suikerinhoud. Kunsmatige versoeters in dieetdrankies is dikwels ook skadelik vir jou en jou baba.

✗Kommersiële vrugtestap word dikwels nie van regte vrugte gemaak nie en kan ook baie ongesonde preserveermiddels en hope suiker bevat.

✗Vars vrugtesap is gesond mits jy dit nie oordoen nie. Wanneer vrugte versap word, word die suiker daarin, fruktose, baie vinnig vrygestel en kan dit die suikervlakke in jou bloedstroom die hoogte laat inskiet. Eet liewer ’n vars vrug; die fruktose word dan aansienlik stadiger vrygestel.

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх