Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 8

Оглавление

HOOFSTUK 2

Jou baba se voorgeboortelike ontwikkeling

Dit is opwindend om jou baba se groei voor geboorte dop te hou, maar dit is net so wonderlik om te weet dat ’n wonderwerk besig is om binnein jou te gebeur. Hier is ’n kort oorsig van elke trimester.

DIE EERSTE TRIMESTER

Die eerste trimester duur vanaf bevrugting tot 12 weke en dit is wanneer ’n baba die meeste ontwikkel. Hier is enkele hoogtepunte:

•In die eerste maand ná bevrugting word ’n baba 10 000 keer groter as die oorspronklike sperm en eiersel. Dit is die tydperk waarin ’n mens vinniger groei as ooit.

•Rondom week 4 het die tros selle ’n binneste en buitenste groep gevorm. Die binneste groep gaan in jou kleinding ontwikkel terwyl die buitenste een die plasenta gaan vorm.

•Teen week 6 sal jou baba sigbaar wees tydens ’n ultraklankskandering en sal jy kan hoor hoe sy piepklein hartjie van sowat 2 mm klop.

•Teen week 8 het die grootste organe gevorm en funksioneer hulle reeds op ’n eenvoudige wyse. In dié stadium is jou baba ’n volledig gevormde mens, selfs al is hy nog net so groot soos ’n appelkoos. In die agtste week sal die oë, neus en lippe begin vorm.

•Vingernaels begin op 11 weke ontwikkel en teen die einde van die eerste trimester sal al die organe en stelsels wat ’n pasgebore baba nodig het, gevorm wees.

•Jou perfekte dog tingerige baba sal vanaf week 12 amniotiese vloeistof in die baarmoeder begin drink; hy of sy sal sowat 8 cm lank wees en 45 g weeg aan die einde van dié uiters belangrike trimester.

DIE TWEEDE TRIMESTER

Die tweede trimester van swangerskap strek van week 13 tot week 28 en word dikwels die wittebroodfase genoem omdat die meeste vroue in dié tydperk baie goed voel. Hier is enkele hoogtepunte:

•Teen die einde van week 14 spog jou baba reeds met sy unieke stel vingerafdrukke en sy voetafdrukke vorm in week 15. Hy gaan ook dan begin reageer wanneer jy ’n helder lig op jou maag skyn.

•Teen week 16 sal ’n ultraklankskandering wys of dit ’n seuntjie of dogtertjie is en twee weke daarna behoort jy te kan waarneem wanneer jou baba slaap of wakker word.

•Teen week 20 kan ’n baba jou hartklop en asemhaling hoor, selfs jou maag as dit grom, en moontlik bewegings maak wanneer hy jou stem hoor. Dit gebeur gewoonlik rondom week 22, maar dit is moontlik dat dit vroeër waarneembaar word.

•Teen die einde van die sesde maand sal jou baba begin om sy oë te knip wanneer ’n skielike harde geluid hom skrikmaak.

•In week 28, die laaste week van die tweede trimester, sal jou baba begin om tussen reuke en soet en suur smake te onderskei.

•Aan die einde van week 28 weeg ’n baba gewoonlik 1,1 kg of dalk ’n raps meer en is hy 34 cm lank. Sy bewegings is energiek en indien jy nou sou geboorte skenk, sal hy dalk self kan asemhaal, selfs al is sy longe nog baie onderontwikkel.

DIE DERDE TRIMESTER

Week 29 lui die begin van die derde en finale trimester van swangerskap in en jy sal waarskynlik begin om ongemakliker te voel. Dit is ’n belangrike fase om te verseker dat jou baba een honderd persent gereed is vir die geboorteproses en die lewe buite die baarmoeder. Kom ons kyk na ’n paar hoogtepunte:

•Aan die begin van die derde trimester weeg ’n baba ongeveer 1,2 kg.

•Teen week 32 begin vetlae onder sy vel vorm. Dit sorg dat hy mooi mollig is wanneer hy gebore word en nie verrimpeld nie. Die vet hou hom ook warm buite die baarmoeder.

•Op week 35 groei ’n baba se brein steeds vinnig en gaan dit nog ’n hele ruk teen dié tempo ontwikkel.

•Selfs in hierdie laaste paar weke groei ’n baba steeds en word hy al meer volwasse namate die laaste “afrondingswerk” plaasvind.

•Vanaf week 37 kan ’n baba enige oomblik sy opwagting maak, maar tensy daar ’n mediese rede is, is dit beter om te wag dat die kraamproses natuurlik begin. Wees geduldig – jy gaan jou baba sommer een van die dae in jou arms hou!

•’n Baba trek nou die skaal op ongeveer 2,9 kg en kan selfs swaarder wees. Sy skelet begin nou om te verhard.

•Groei vind steeds vinnig plaas en aan die einde van week 38 weeg ’n baba gewoonlik sowat 3,1 kg en kan hy 48 cm tot 50 cm lank wees.

•Teen week 39 het sy hare al heelwat gegroei en kan dit tot 4,6 cm lank wees. Sy vel is nou ook oraloor gevoelig.

•Teoreties loop swangerskap in week 40 ten einde, maar as dit jou eerste bevalling is, sal dit glad nie vreemd wees as dit nog ’n week of twee duur nie. Dit is raadsaam om Moeder Natuur haar gang te laat gaan terwyl jy en jou ginekoloog seker maak dat jou baba steeds gereeld in die baarmoeder beweeg. Dit is ’n teken dat alles in die haak is.

•Aan die einde van week 40 weeg babas gemiddeld tussen 3,2 kg en 3,8 kg en is hulle gemiddeld sowat 50 cm lank.

•Eerste swangerskappe kom meestal spontaan tot ’n einde tussen week 40 en 42.

Is dit nie ongelooflik nie?

’n Eiersel het ’n omtrek van 0,8 mm en ’n spermsel is 0,05 mm lank. Wanneer dié twee piepklein selletjies saamsmelt, vorm dit ’n allerpragtige baba wat meer as 3 kg weeg!

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх