Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 24

Оглавление

HOOFSTUK 10

Swangerskap uit die aanstaande pa se oogpunt

’n Swanger vrou is dikwels die middelpunt van al die aandag en selfs wildvreemdes sal om haar kloek. Met al die aandag wat op Ma gerig is, kan Pa afgeskeep voel.

BETREK PA

Soms is al wat nodig is dat jy jou maat verseker dat jy lief vir hom en trots op hom is. Verseker hom dat hy die beste pa gaan wees waarvoor enige baba kan vra. Hier is 10 praktiese maniere om hom te betrek:

1.Nooi hom saam na ultraklankondersoeke, doktersafsprake en voorgeboorteklasse sodat hy kan sien hoe jul baba ontwikkel en ook al sy vrae kan stel. As hy werklik nie die ultraklankondersoeke kan bywoon nie, bring ’n DVD of foto vir hom.

2.Versier die babakamer saam. Selfs al gaan jul baba dit nie onmiddellik begin gebruik nie, is dit ’n lekker projek om saam aan te pak. Pa’s is buitendien handig as dit kom by mure verf, muurpapier hang, bababeddens aanmekaarsit of swaar meubels rondskuif.

3.Hy mag dit selfs geniet om babaklere te gaan koop. Gun hom om al daardie “My Pappa is die beste” -babapakkies.

4.Lees saam boeke en tydskrifartikels oor swangerskap.

5.Gee vir hom ’n vadersgeskenk. Dit sal hom laat uitsien na die dag wanneer hy ’n pa word.

6.Kies saam ’n naam. Dit is groot pret en julle kan selfs ’n speletjie daarvan maak.

7.Laat hom kyk en voel hoe jou maag beweeg wanneer jul baba begin skop. Dit sal hom help om vroeg reeds ’n band met sy baba te snoer. Moedig hom aan om met jul baba te gesels en aan sy gunstelingmusiek bekend te stel.

8.Stel saam ’n geboorteplan op. Verduidelik wat jy sou verkies en hoekom, en luister ook na sy voorstelle. Vra hom of hy by wil wees tydens die bevalling en of daar enigiets is wat hom kwel of waaroor hy wonder sodat julle vroegtydig antwoorde kan kry.

9.Nooi hom na jou ooievaarstee. Dit is nie tradisie nie, maar tye verander en baie vroue geniet dit om mans daar te hê.

10.Vra hom hoe jy hom meer kan betrek en gesels daaroor. Hy kan jou moontlik verras met ’n hele paar fantastiese idees.

AANRAKING IS DIE X-FAKTOR

’n Uitstekende manier om met mekaar in voeling te bly is deur mekaar te masseer. ’n Massering is ’n kragtige, eenvoudige manier om mekaar te verseker van jul liefde vir mekaar en om jul gevoelens uit te druk. Tog is mense bang om ’n swanger vrou te masseer. Ja, daar is sekere voorsorgmaatreëls wat gevolg moet word, maar aanrakingsterapie word al duisende jare veilig in baie kulture gebruik, met tegnieke wat van een geslag na die ander oorgedra word. Die belangrikste is om die eerste stap te doen.

Hierdie afdeling bevat belangrike advies vir die verwagtende pa sodat hy jou met vertroue kan masseer. As hy jou eers beïndruk het, kan jy hom beloon deur hom te masseer, of altans sover as wat jou boepie en stram ledemate jou toelaat.

1.Voordele van aanraking

Baie navorsing oor massering is die afgelope twee dekades gedoen en dit is duidelik dat massering voortydige geboortes asook depressie tydens swangerskap en ná geboorte verminder, help om die pyne en skete tydens swangerskap te verlig en slaappatrone verbeter. Jy sal ook getroos, ontspanne en gekoester voel. As jy ’n hoërisikoswangerskap het, sal jy baie baat vind by algemene aanrakingstegnieke, maar laat vollyfmasserings eerder deur ’n opgeleide terapeut doen.

2.Masseertegnieke

Die beste posisies is om op jou sy te lê of gemaklik agterstevoor op ’n stoel te sit en vooroor op die rugleuning te leun, of om op jou knieë te staan en vooroor op ’n geboortebal te leun of jouself met jou voorarms of hand op ’n tafel te stut. Jou maat kan dan enigeen van die volgende masseertegnieke gebruik:

•Nek- en skouermassering Laat hom net begin, dan kan jy hom lei oor hoeveel druk hy waar kan toepas.

•Rugmassering Laerugpyn is die skeet waaroor die meeste swanger vroue kla. Dit word aansienlik verlig wanneer die area ferm in sirkelbewegings met die basis van die hand gemasseer word (sien Foto 1), asook deur die spesiale tegniek wat in Foto 2 getoon word.

•Heupmassering Lê op jou sy en laat jou maat jou heup met ferm sirkel-bewegings vryf.

•Abdominale aanraking Twee bewese tegnieke is om die hele maag baie saggies kloksgewys te masseer (sien Foto 3) en om liggies met die vingers oor die maag te tik sodat dit soos reëndruppels voel.

•Hand- en voetmassering “Loop” met die duim of wysvinger oor haar hele hand en voet sonder om te lank op gevoelige areas te bly. Trek en beweeg die tone en vingers sagkens. Eindig deur haar hande en voete liggies te streel; werk van die pols na die vingerpunte en van die enkels na die tone.



FOTO 1: Masseer die lae rug ferm in sirkelbewegings met die palm van die hand.


FOTO 2: Druk ferm met die vuis op die lae rug of seer area. Beweeg jou hand rond op die area terwyl Ma terugdruk.


FOTO 3: Vryf die maag saggies kloksgewys.


Spesiale aanrakingswenk

As jou groeiende boep baie druk op jou bekken plaas en dit voel of ’n senuwee vasgeknyp word, kan jy die volgende oefening probeer: Leun agteroor teen jou maat en laat rus jou kop op sy skouer. Laat hy dan sy hande versigtig om jou maag vou, sonder om sy hande stewig vas te vat of met sy vingers in jou maag in te druk, en jou maag saggies effens lig. Jy sal oombliklike verligting ervaar.

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх