Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 13

KOSDRANGE

Оглавление

Dit is belangrik dat swanger vroue hul kosdrange op ’n gesonde manier bevredig. As jy net eenvoudig iets soets moet hê, is dit beter om ’n piesang of ’n paar dadels te eet. As jy droom van ’n lekker southappie, kan ’n paar olywe of ’n avokado jou van aartappelskyfies laat vergeet.

Dit sal ook help om meer gereelde, kleiner maaltye deur die loop van die dag te eet. As jy emosioneel voel en ’n bietjie ekstra bederf nodig het (wat glad nie onwaarskynlik is as jy verwag nie), moet jy jou liefs nie tot kos wend nie. Dit bied kortstondige troos en jy sal na die tyd net vies wees vir jouself. Gesels eerder met jou maat of ’n goeie vriendin en verduidelik dat jy eenvoudig net ’n bietjie ekstra liefde nodig het.

Moenie bekommerd wees oor die vreemde kombinasies wat jy eet nie (mits dit gesond is) of as jy ’n afkeer ontwikkel van kos, byvoorbeeld vleis, waarvan jy eintlik hou nie. Dit is ’n algemene verskynsel en gebeur ook moontlik om jou en jou baba te beskerm. As jy ’n onverklaarbare behoefte het om heeltyd ysblokkies te kou of te suig, is dit waarskynlik omdat swanger vroue dikwels warm kry. Dit is niks om jou oor te kwel nie.

Drange waaroor jy bekommerd moet wees

Die drang om eienaardige dinge soos grond, as, kryt en verf te lek of te eet, word pika genoem en dui op ’n tekort aan ’n spesifieke belangrike voedingstof. Gesels met jou dokter daaroor aangesien dit gevaarlik kan wees.

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх