Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 7

Оглавление

HOOFSTUK 1

Is jy gereed vir swangerskap?

Deur behoorlik voor te berei vir bevrugting, swangerskap en ouerskap is die beste manier om jou en jou baba se gesondheid en voortgesette welstand te verseker. Dit is iets wat vroue en hul lewensmaats by die dag duideliker besef.

FISIEKE EN EMOSIONELE VOORBEREIDING

Sonder om doekies om te draai: Moenie kanse waag met dinge waaroor jy nie beheer het nie. Jy is immers verantwoordelik vir ’n splinternuwe lewe. Om die grootste kans op sukses te hê, is hierdie drie dinge nodig:

1.’n Gesonde liggaam

Die ideaal is dat jy reeds voor jy swanger raak, tyd aan jou dieet en oefening afstaan sodat jy blakend gesond is. ’n Gesonde, aktiewe leefstyl voor, gedurende en ná swangerskap sal die hele proses en jou ervaring daarvan baie aangenamer en makliker maak. Gesonde voeding is sonder twyfel die grondslag vir ’n gesonde liggaam. Dit is doodgewoon nie aanvaarbaar om gedurig die maklike uitweg te kies wat jou dieet gedurende swangerskap betref nie. Dit is nie meer net jou gesondheid wat daardeur geraak word nie. Dit beïnvloed ook hoe moeilik of maklik jou swangerskap is. Doen ook die moeite om te leer wat sekere simptome of ongemak veroorsaak en hoe om dit op natuurlike wyse te verlig. Dit sal ook help om jou swangerskap te vergemaklik.

2.’n Gesonde gees

Hoewel jy dalk maklik swanger geraak het, moet jy weet waarom jy ’n kind wil hê en bewus wees van die groot verantwoordelikheid wat dit op jou gaan plaas. Die nege maande voor ’n baba se geboorte bied ’n besonderse geleentheid om jou emosioneel voor te berei, iets waaruit nie net jou kinders nie maar ook jou kleinkinders en hul kinders sal voordeel trek. ’n Positiewe ingesteldheid is net so belangrik soos om die mense om jou en die mensdom in die geheel in gedagte te hou.

3.’n Gesonde verhouding

’n Baba kan nie ’n huwelik of verhouding red nie, maar dit is nogtans verstommend om te sien hoeveel paartjies hoop dat ’n kind hul sukkelende verhouding sal red. Ja, ’n kind kan die beste in jou na vore bring, maar ’n kind kan selde ’n diep skeur permanent genees. Voor jy dus besluit om ’n ouer te word, moet jy eerlik wees met jouself: Is enige van die probleme tussen julle ernstig en langdurig? Is daar onderlinge respek vir mekaar? Deel julle ’n wye verskeidenheid belangstellings en vriende of doen elkeen sy eie ding? Ondersteun jy jou maat se ambisies, en vice versa?

IS OUDERDOM ’N FAKTOR?

Daar is voor- en nadele verbonde aan elke ouderdom en persoonlike situasie wanneer iemand beplan om ’n baba te hê. Hoewel dit ’n persoonlike besluit is, is dit een wat goed oorweeg moet word. Hier is ’n paar dinge om in gedagte te hou:

•As jy ouer is, is jy emosioneel meer volwasse en daarom beter toegerus om die goeie en slegte tye te hanteer. Daarteenoor is iemand wat jonger is ook jonger van gees en meer optimisties.

•Ouerskap verg geduld, deursettingsvermoë en volharding, dinge wat jonger paartjies dalk nog nie ontwikkel het nie. Jonger ouers is egter meer lewenslustig en speel meer met hul kinders, iets wat ook baie belangrik is.

•Ouer paartjies het dikwels minder finansiële kwellings. Om ’n baba te hê is nie goedkoop nie, maar dit is ook nie nodig om baie geld op ’n kind uit te gee nie. Dit gaan eerder oor die ekstra spanning wat geldprobleme in ’n huishouding veroorsaak. Rykdom is egter ook nie ’n waarborg vir geluk nie.

•Ouer paartjies wat gewoond is aan hul onafhanklikheid kan sukkel om aan te pas en 24 uur per dag aan diens te wees. Jongmense is meer aanpasbaar en kan daarom ’n baba fluit-fluit by hul lewe laat inskakel.

•Terwyl ouer paartjies reeds baie van die dinge gedoen het wat hulle wou doen, sal jy, as jy op ’n jong ouderdom kinders het, nog jonk genoeg wees om dié dinge te geniet wanneer jou kinders groot is.

IS JY GEREED VIR BABA NOMMER TWEE?

Wanneer jy en jou gesin gereed is vir ’n tweede baba sal van jul persoonlike omstandighede afhang, maar hier is drie algemene faktore om in gedagte te hou:

1.Ouderdomsverskille

Daar is geen reëls ten opsigte van die ouderdomsverskil tussen kinders nie en groot en klein verskille kom elk met sy eie voor- en nadele. Wanneer jy lank wag, sal dit beteken dat jy al die harde werk wat met ’n baba gepaardgaan, van voor af sal moet doen, maar dit maak dit weer makliker omdat jy nie twee kleintjies gelyk moet grootmaak nie. As die twee minder as ’n jaar uit mekaar gebore is, gaan jy vir ’n tyd lank baie besig wees en sal jy baie hulp nodig hê, maar wanneer dit verby is, is al die “babadinge” agter die rug.

2.Persoonlike omstandighede

Jy moet uit die aard van die saak besluit of jy nog ’n kind – en tyd weg van die werk – kan bekostig. As jou eersgeborene gesondheids- of gedragsprobleme het, sal ’n tweede baba kort op sy hakke nog groter druk op julle plaas.

3.Praktiese oorwegings

Dit is gewoonlik makliker om twee kinders groot te maak omdat hulle gou met mekaar sal begin speel en jou ’n blaaskans gee. Kinders wat boeties en sussies het, leer ook om te deel, geskille uit die weg te ruim en ander te respekteer. Dit is onvermydelik dat die oudste kind ’n bietjie jaloers sal wees wanneer die nuwe baba sy opwagting maak. Begrip en geduld sal jou deur dié fase help. Dit is belangrik om hom nie onder druk te plaas om “groot” te wees nie – hy is ook nog ’n baba.

DIE TOPVYF MOENIES TYDENS SWANGERSKAP

Om te verseker dat jou baba so gesond moontlik is, is daar vyf dinge wat jy moet vermy terwyl jy swanger is. Trouens, dit is belangrik om dit reeds wanneer jy beplan om swanger te word, toe te pas omdat die eerste paar weke van swangerskap deurslaggewend is vir ’n baba se ontwikkeling.

1.Alkohol, rook en dwelmmiddels Hoewel jou liggaam dalk dié middels kan verwerk, kan jou baba s’n dit nie doen nie. Dit sal sy groei en gesondheid benadeel en kan hom later vatbaar maak vir verslawing. Wees dus eerder bang Jan en vermy dit geheel en al.

2.Kossoorte Vermy enige kos waarvoor iemand in jou nabye familie allergies is, produkte wat rou eier bevat, soesji (“groentesoesji” is in die haak), halfgaar vleis en sagte, beleë kaas. Sommige gifstowwe kan jou baba deur die plasenta bereik en ’n dieet wat baie allergiewekkende voedsel bevat, kan ná geboorte allergiesimptome by ’n baba aanwakker.

3.Skoonheidsprodukte Naellak, haarkleursel en lyfrome is van die produkte wat soms chemikalieë bevat en liefs deur swanger vroue vermy moet word, veral in die eerste trimester. Moet onder geen omstandighede ’n sonbed gebruik nie – jou baba kan oorverhit.

4.Medisyne Raadpleeg jou apteker of dokter voor jy medikasie neem waaroor jy twyfel. Daar is baie soorte wat nie getoets is om te bepaal of dit veilig is vir swanger vroue nie.

5.Onnodige stres Sit agteroor, ontspan en dink aan jou groeiende baba. Wees rustig en geniet die klein dingetjies in die lewe. Dit sal die bevalling makliker maak en sorg dat jou baba rustiger en ontspanne is.

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх