Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 19

PYNE EN SKETE

Оглавление

Hoe fikser jy is en hoe gesonder jou leefstyl voor swangerskap was, hoe makliker sal jou swangerskap wees. Eerste swangerskappe is in die algemeen makliker, maar selfs dan kan dié faktore geringe ongemak veroorsaak:

•Verhoogde progesteroonvlakke rek en verslap die ligamente wat die bene van jou skelet en organe in plek hou, asook die gladde spierweefsel in jou hele lyf. Die voordeel hiervan is dat dit geboorte vergemaklik omdat dit die bekken help om te ontsluit sodat jou baba tydens die bevalling deur die opening kan beweeg. Die nadeel is dat dit al voor geboorte plaasvind en nie net in die bekken nie.

•Aan die einde van die nege maande sal jy waarskynlik minstens 12 kg meer weeg en omdat jou middelpunt teen daardie tyd aansienlik verskuif het, sal jy van balans af wees.

•As die vorm en posisie van jou baarmoeder nie presies reg is nie, kan dit pyn veroorsaak.

•As jy ’n lae pyndrempel het, sal alles seerder en erger voel.

•Jou baba se posisie en bewegings sal waarskynlik bydra tot jou ongemak.

Wenk: Kalsiumaanvullings kan talle pyne en skete wat met swangerskap gepaardgaan, verlig.

Daar is agt vername pyne en skete waarvan swanger vroue oor die algemeen las het:

1.Ligamentpyn

Meer daaroor:

•Ligamente is bindweefsel wat bene in die liggaam aan mekaar heg en die gewrigte omsluit om hulle te beskerm en meer buigsaam te maak.

•Ligamentpyne is algemeen in die rug, om die naeltjie, lies, heupbene, bekken, skaambene en bobene.

•Dit kan wissel van ’n steekpyn, ’n spier wat spring, ’n branderige gevoel, stramheid of styfheid; die pyn kan aanhoudend wees of met tussenposes voorkom.

•Dit kan altyd in dieselfde plek wees of rondbeweeg.

•As jy ’n kwaai brandgevoel in die omgewing van jou ribbe het, kan jou baba se geskop dit vererger en inflammasie van die spierweefsels veroorsaak. Dit word tussenrib- of interkostale pyn genoem.

•Die ronde ligament is ’n baie spesifieke ligament in die pelvis wat die groeiende baarmoeder ondersteun en wanneer dit pyn sal jy ’n prikkelsensasie ervaar.

Tuissorg:

✓Gereelde oefening soos stap, swem en dans sal die ligamente versterk en ligamentpyn verminder.

✓Handhaaf ’n goeie postuur: Trek jou maag- en boudspiere in, jou skouers agtertoe en afwaarts en lig jou ken effens wanneer jy stap. Dit sal die druk op jou ligamente verlig.

✓Slaap met ’n kussing tussen jou knieë om heuppyn te verlig.

✓Vou jou hande onderom jou boepie en lig dit effens op om pyn in die buik oombliklik te verlig.

✓Kniel hande-viervoet en vou jou arms voor jou op die grond. Laat rus jou kop op jou voorarms sodat jou boude hoër as jou kop is om pyn in die bekkenarea te verlig.

✓Dra ’n boepieband tydens die derde trimester om jou maag te steun. Dit help baie om ligamentpyn te verlig.

✓Masseer seer areas met arnicaolie.

✓Gebruik die weefselsoute Calc Fluor en Ferrum Phos om elastisiteit te verbeter en ligamente te versterk.

✓Die weefselsout Ferrum Phos help teen brandpyn in die ligamente.

✓As jy ’n lae pyndrempel het sal die homeopatiese middel Sister Lilian Emotion help om angstigheid te beheer en die pyn-spanning-siklus te verbreek.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

Indien jy ’n abnormale vaginale afskeiding, koors, diarree, onverklaarbare ernstige hardlywigheid het, opgeblaas voel of braak.

2.Rugpyn

Meer daaroor:

•Rugpyn is dikwels ’n vorm van ligamentpyn en begin gewoonlik halfpad deur swangerskap wanneer jou rugligamente begin verslap en rek.

•Jou middelpunt en postuur verander tydens swangerskap en dit plaas bykomende druk op jou rug.

•Die groter druk op die gewrigte tussen jou bekken en heupbene kan laerugpyn veroorsaak, iets wat algemeen is tydens swangerskap.

•Wees versigtig wanneer jy buk of swaar voorwerpe optel. Verkeerde bewegings veroorsaak beserings wat weer tot laerugpyn lei.

Tuissorg:

✓Voorsorg is beter as nasorg en daarvoor moet jy sterk wees en ’n goeie postuur hê. As alles in die haak is met jou en jou baba, moet jy dus voor en tydens swangerskap gereeld joga doen, stap, dans of swem.

✓Moenie te lank tussen oefensessies rus of te lank oefen sonder om te rus nie en doen gereeld oefeninge om jou rug te versterk.

✓Verbeter jou postuur deur jou maag en boude in te trek, jou skouers terug en afwaarts te trek en jou ken effens te lig.

✓Kniel hande-viervoet vir oombliklike maar tydelike verligting.

✓Kruis jou hande agter jou rug op jou kruis en druk hard teen ’n muur.

✓As jy heeldag by ’n lessenaar sit, sal dit help as jy op ’n Pilates-bal sit, aangesien dit jou dwing om die regte postuur te handhaaf.

✓Dra ’n boepieband.

✓Vra jou maat om jou met arnica-olie te masseer.

✓Gebruik die weefselsoute Calc Fluor en Ferrum Phos om soepelheid te bevorder en ligamente te versterk.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

Indien jy vroeg reeds rugpyn kry as gevolg van krampe in die bekken, of as jy ’n abnormale vaginale afskeiding het, koorsig is, jou uriene skerp ruik of as daar enige aanduiding is dat jy dalk vroeg gaan kraam.

3. Karpaletonnelsindroom (KTS)

Meer daaroor:

•Die karpale tonnel is die kanaaltjie in die pols waardeur die senuwees en bloedvate na die hand loop. Omdat dit nou is, word dit maklik deur vloeistofretensie aangetas en is dit geneig om te swel. Dit knyp dan die senuwees in die tonnel vas.

•KTS is ’n lam, lomp gevoel of intense pyn in die vingers, hand en/of arm en word deur sowat 62% van alle swanger vroue ondervind.

•Die aangetaste hand kan swak en lomp wees.

•Soms kom die simptome net snags voor weens druk op die skouerpotjie of polse as dit in jou slaap buig.

•KTS word vererger deur strawwe oefening of kragtige bewegings.

•KTS verdwyn selde sonder enige behandeling en duur gewoonlik vir nog ’n paar maande ná geboorte.

Tuissorg:

✓’n Gewrigspalk help soms.

✓Gebruik die weefselsoute Nat Mur en Nat Sulph om swelling te laat sak.

✓Gebruik koue kompresse (klam linnedoeke wat jy om jou gewrigte draai of ’n koue jelsakkie) om pyn en swelling te verlig.

✓Moenie bewegings of oefening doen of jou hand in ’n posisie hou wat die simptome vererger nie. Moet ook nie jou arm vir lank laat hang nie.

✓Doen ligte oefening om die swelling te verlig, soos om jou vuis ’n paar keer te bal en dan jou vingers oop te sprei. Jy kan ook jou gewrig saggies vorentoe en agtertoe buig.

✓Die weefselsout Ferrum Phos sal help om brandpyn in die kanaal te verlig en Kali Phos sal in chroniese gevalle die senuwees help herstel en genesing aanhelp.

✓Ligte vloeistofdreinerende massering wat die beweging van vloeistof na die hart aanmoedig, kan help: Hou die aangetaste hand in die lug en streel die hand en arm liggies in die rigting van jou skouer. Moet nooit van jou skouer af na jou hand toe werk nie.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

•As hierdie wenke nie die simptome verlig nie of die simptome volhard of vererger, sal jy dalk ’n steroïedinspuiting of klein operasie nodig hê. Dit is gewoonlik baie suksesvol en hou geen gevaar vir jou baba in nie.

•Vroue wat ná geboorte steeds las het van KTS sal sukkel om ’n gemaklike posisie vir borsvoeding te kry. Klop by jou vroedvrou of borsvoedingraadgewer aan vir hulp.

4. Krampe in jou voete en bene

Meer daaroor:

•Dit is algemeen by swanger vroue omdat jou liggaam meer magnesium en kalsium tydens swangerskap verbruik en groter druk op die bloedsomloopstelsel geplaas word.

•Dit kom meestal in die laaste trimester voor, maar kan vroeër begin.

•Dit is gewoonlik snags erger.

Tuissorg:

✓Verhoog jou inname van magnesiumryke kosse soos neute, sade, piesangs en groen blaargroente, en kalsiumryke voedsel soos avokado’s, dadels, druiwe, koejawels, kiwivrugte, suurlemoene, mango’s en suiwelprodukte (binne perke).

✓Trek die tone van die aangetaste voet of been opwaarts na jou knie toe en masseer die seer spiere.

✓Neem die weefselsout Mag Phos om jou magnesiumopname te verbeter en vinnige verligting te bied.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As daar duidelike spatare op die aangetaste been is, dit warm voel of die pyn ondraaglik is.

5.Heupjig (sciatica)

Meer daaroor:

•Die heupsenuwee is die grootste senuwee in die liggaam en strek van die onderpunt van die ruggraat af. Wanneer dié senuwee vasgeknyp word, veroorsaak dit pyn en inflammasie (heupjig).

•Tipiese simptome is dowwe pyn in die boud, ’n skerp skietpyn aan die agterkant van die been, ’n brandgevoel of tinteling in die tone en sekere dele van die been, gevoelige vel en beperkte beweging in die voet.

•Die verhoogde progesteroonvlakke in jou liggaam versag ligamente en dit kan lei tot verswakte postuur wat weer druk op die heupsenuwee plaas.

•Jou middelpunt verander wanneer jy swanger is; dit plaas ook druk op die heupsenuwee en irriteer dit.

•Inflammasie van die heupsenuwee kan ander oorsake hê en chroniese heupjig kan lei tot verminderde spier-sterkte en -grootte.

Tuissorg:

✓Goeie spiertonus help om heupjig te voorkom.

✓Rus gereeld terwyl die simptome akuut is om die inflammasie te verlig.

✓Masseer die aangetaste deel met arnica-olie om die pyn, inflammasie en brandgevoel te verlig.

✓Dra ’n boepieband om jou maag en lae rug te steun. Dit verlig die druk op jou heupe en sal jou postuur verbeter.

✓Neem die weefselsout Ferrum Phos om die inflammasie en brandgevoel te verlig, en Kali Phos en Mag Phos om die senupyn en spierkrampe te verlig en senuwees te herstel.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As simptome volhard of ondraaglik is.

6.Stram, seer gewrigte

Meer daaroor:

•Dit word dikwels veroorsaak deur uitermatige gewigstoename, veral as die heupe, knieë en voete kwaai aangetas word.

•Waterretensie kan veroorsaak dat gewrigte stram en minder mobiel is.

•Jou ligamente rek en dit kan jou gewrigte nog ongemakliker laat voel.

•Die simptome is gewoonlik erger soggens wanneer jy opstaan en verbeter namate jy beweeg en aktief is.

•Gewrigpyn is veral lastig in die tweede trimester.

•In seldsame gevalle word dit veroorsaak deur ’n meer ernstige outoimmuuntoestand.

Tuissorg:

✓Vermy suur kos of kos wat suur veroorsaak (rooivleis, kaas, jogurt, gepekelde groente en alkohol).

✓Doen gereeld matige oefening.

✓Wissel rus- en oefenperiodes af.

✓Pas die tuissorgraad vir swelling toe.

✓Gebruik die weefselsout Nat Phos om die liggaam se pH-balans te herstel en Ferrum Phos om brand- of kloppende pyn en ontsteking te verlig.

✓Gebruik warm kompresse of jelpakke om pyn te verlig.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As die pyn voortduur of vererger.

7.Hoofpyn

Meer daaroor:

•Hoofpyn vroeg in swangerskap is gewoonlik nie ernstig nie en kan deur swangerskapaanvullings veroorsaak word.

•Moenie hoofpynpille neem nie. As jy dit regtig nie kan hou nie, kan jy ’n halwe dosis parasetamol neem.

Tuissorg:

✓Neem die weefselsout Mag Phos minstens drie keer per dag en drink ’n warm drankie daarna.

✓As jou hoofpyne deur angstigheid veroorsaak word, sal ’n homeopatiese middel vir stres en angstigheid help.

✓Vermy kafeïen en ryk, vetterige kos.

✓Handhaaf ’n goeie postuur.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As jy tydens die laaste helfte van swangerskap hoofpyne kry. Laat toets jou bloeddruk, veral as jy buitengewoon swel, naar of kortasem is of as jy probleme met jou sig het.

8.Braxton Hicks-kontraksies

Meer daaroor:

•Dit is ritmiese kontraksies van die spierwand van die baarmoeder wanneer jy nie in kraam is nie en word ook “oefenpyne” genoem.

•Die kontraksies kan kort en vinnig wees, maar kan tot 15 minute op ’n slag aanhou.

•Dit kan soms ’n ligte prikkeling of intense pyn veroorsaak.

•As jy angstig of gespanne is of as jou maagspiere geoefen is, sal jy meer vatbaar wees vir Braxton Hicks-kontraksies.

•Die geringste bewegings deur jou baba kan dié kontraksies veroorsaak, veral in die derde trimester.

Tuissorg:

✓Kry genoeg rus.

✓Gaan lê in ’n warm bad vir vinnige verligting.

✓Masseer jou maag liggies met ’n ligte olie.

✓Neem ’n homeopatiese middel as jy geneig is om angstig te wees of ’n lae pyndrempel het.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As jy terselfdertyd vaginale bloeding ondervind.

LAS MET MUKUSMEMBRANE

Omdat die hoeveelheid bloed in jou liggaam tydens swangerskap toeneem, maak die ekstra vloeistof areas wat met slymvliese gevoer is klam en pofferig en gevolglik swakker. Dié areas is dus meer geneig om te bloei. Die algemeenste klagte is ’n toe neus.

Meer daaroor:

•Dit is ’n algemene verskynsel en kan soos ’n kopverkoue, toe neus, allergie of sinusitis voel.

•As jy meer suiwel- en graanprodukte eet as gewoonlik, kan dit moontlik die oorsaak wees omdat dié kosse mukusproduksie stimuleer.

Tuissorg:

✓Gebruik ’n homeopatiese middel wat mukus teenwerk of die weefselsoute Nat Mur en Nat Sulph wat die vloeistofbalans in weefsels reguleer en ’n toe neus verlig.

✓Eet heelwat minder suiwel- en graanprodukte.

✓Moenie sommer ’n antihistamiensproei gebruik nie. Dit is nie altyd veilig tydens swangerskap nie.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

•As jy siek of koorsig voel.

•As jou neus toe is en kwaai of aanhoudend bloei, want dit sal moontlik nodig wees om van die aartjies toe te skroei.

•As jy ’n chroniese of kwaai hoofpyn het, moet jy jou bloeddruk laat toets.

BLOEDSOMLOOPPROBLEME

Die bloedvate verruim tydens swangerskap om meer bloed te kan vervoer en jou groeiende baba só te ondersteun. Daarbenewens neem die hoeveelheid bloed in jou liggaam met 40% tot 50% toe. Boonop veroorsaak die hoë progesteroonvlakke dat die lagie gladde spiere in bloedvatwande verslap sodat dit moeiliker saamtrek. Dit plaas groter druk op jou hart en jou liggaam in die geheel omdat dit harder moet werk om bloed deur jou liggaam te sirkuleer. Dit kan uiteenlopende gevolge hê, maar die meeste is nie ernstig nie. Nogtans is dit nodig om ag te slaan op die waarskuwingstekens.

Daar is drie belangrike toestande wat met die bloedomloopstelsel verband hou:

1.Swelling

Meer daaroor:

•In uitsonderlike gevalle word die vog in die oë aangetas en lei dit tot sigprobleme. Dit kan dan onmoontlik wees om kontaklense te dra of veroorsaak dat jy ’n nuwe voorskrif vir jou bril moet kry.

•’n Mate van waterretensie is te verwagte tydens swangerskap en tas veral die hande en voete aan vanweë die groter volume bloed in die liggaam.

•Die groter wordende baarmoeder en groeiende baba plaas druk op jou buik en dit kan keer dat bloed doeltreffend na jou bene sirkuleer, met die gevolg dat jou voete en enkels swel.

•Namate die swangerskap vorder, raak dit moeiliker om te beweeg en is talle vroue dus minder aktief. Dit belemmer ook die bloedsomloop, wat tot swelling lei.

Tuissorg:

✓Stap flink vir vyf minute elke uur, veral as jy heeldag sit of staan by die werk.

✓Stap daarbenewens ook flink vir 20 minute voor of ná werk.

✓Doen enkel- en kuitoefeninge terwyl jy sit om jou bloedsomloop te bevorder. Rol jou enkels of trek jou tone opwaarts na jou knieë toe en punt hulle weer.

✓Moenie jou bene by die enkels of knieë kruis wanneer jy sit nie. Dit sluit die bloedsomloop in jou bene af.

✓Moenie minder water drink nie. Dit sal nie swelling verminder nie en dit is belangrik dat jy tussen 1,5 en 2 liter water per dag drink om jou sirkulasie te bevorder.

✓Neem die weefselsoute Nat Mur en Nat Sulph wat vloeistofvlakke in jou liggaam balanseer.

✓Kry genoeg rus en onthou om jou voete te lig.

✓Sit met jou voete in ’n skottel koue water om swelling en pyn te verlig.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As jou bene en voete soggens geswel is en dit nie vinnig sak nie en gepaard gaan met naarheid, hoofpyn of sigprobleme.

2.Spatare

Meer daaroor:

•Spatare vorm wanneer ’n groot aar net onder die vel opswel en soms verdraai. Dit gebeur dikwels tydens swangerskap, veral in die kuite, maar kan ook op die labia (vaginale lippe) en in die lieste vorm. Aambeie is ook ’n vorm van spatare.

•Spatare is gewoonlik baie ongemaklik en seer.

•Die ekstra druk wat swangerskap op die bloedsomloopstelsel plaas, veroorsaak spatare. Die kanse dat jy spatare sal kry, is groter as dit in jou familie is.

•Hoewel spatare nie noodwendig ’n ernstige toestand is nie, is dit noodsaaklik om die tuissorgraad en waarskuwings ter harte te neem om komplikasies te vermy.

Tuissorg:

✓Dit is baie belangrik om gereeld te oefen ten einde jou bloedsomloop en spiertonus te verbeter.

✓Wissel tye van oefening af met tye van rus.

✓Lig jou voete wanneer jy sit en moenie jou bene by die enkels of knieë kruis nie.

✓Spataarkouse is baie ongemaklik in die somer, maar dit help sirkulasie aan en verlig pyn.

✓Lê af en toe met jou boude op een of twee kussings om die druk op die spatare in die lies of geslagsdele te verlig. Dit help ook om ’n ferm drukkussinkie in jou broekie te sit.

✓Draai ’n yspak in ’n waslap toe en hou dit teen bultende, seer spatare vir verligting.

✓Neem getrou die weefselsoute Calc Fluor en Ferrum Phos om bloedvatwande buigsamer en sterker te maak. Dit kan selfs help om spatare te voorkom en te behandel.

✓Doen die onderstaande oefening twee of drie keer per dag:


Lê plat op die vloer met jou boude teen die muur en jou bene reguit in die lug teen die muur.


Hou jou voete plat teen die muur en buig jou bene om jou knieë na jou bors toe te bring. Keer stadig terug na die beginposisie. Herhaal 10 keer.


Maak jou bene stadig oop terwyl jy dit teen die muur hou totdat jy die spiere aan die binnekant van jou bobene voel strek. Maak hulle weer stadig toe. Herhaal 10 keer.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As jy aanhoudend brandpyn in jou bene voel, dit lyk of die area om die spatare gekneus is (blou lyk) of as jy olik of buitengewoon kortasem is. Dit kan dui op bloedklonte.

3.Aambeie

Meer daaroor:

•Aambeie is spatare in die anus en rektum en kan inwendig of uitwendig wees.

•Vars bloed in jou stoelgang en los stukkies vel of druifagtige trossies wat by jou anus uitsteek is gewoonlik tekens van aambeie.

•Aambeie veroorsaak brand, jeuk en is baie ongemaklik. As jy aambeie het wanneer jy swanger raak en dit nie behandel nie, sal swangerskap en kraam dit vererger.

Tuissorg:

✓Keer is die beste geweer. Doen gereeld oefening om jou liggaam te versterk, drink genoeg water om hardlywigheid te voorkom en eet gesond sodat jy nie baie gewig aansit nie.

✓Gebruik ’n homeopatiese room of salf wat jou apteker aanbeveel het om hulle te laat krimp.

✓Neem die weefselsoute Calc Fluor en Ferrum Phos om die bloedvatwande te versterk.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As jou bevalling nader en jy aambeie het, aangesien hulle kan skeur tydens die bevalling. Chirurgie is net in uitsonderlike gevalle nodig.

SPYSVERTERINGSPROBLEME

Probleme met spysvertering is seker die grootste klagte by swanger vroue. Sommiges spring dit heeltemal vry, terwyl ander die hele nege maande daarmee sukkel. Gelukkig is daar talle maniere waarop jy self die vier algemeenste probleme kan verlig.

1.Opgeblaasdheid en krampe

Meer daaroor:

•Dit is algemeen aan die begin van swangerskap en gaan gepaard met mislikheid, hardlywigheid, ’n afkeer van sekere kosse en vreemde smake.

•Swangerskapaanvullings kan jou opgeblaas laat voel en krampe en winde veroorsaak.

Tuissorg:

✓Eet minder verwerkte graankosse soos ontbytgraan, fyngebak, pizza en brood. Dit tel onder die grootste sondaars. Wees ook versigtig vir suiwelprodukte.

✓Hou vir ’n paar dae op om jou swangerskapaanvulling te neem. As jy beter voel, moet jy ’n ander plan probeer of bloot meer van die kosse wat die nodige voedingstowwe bevat, eet.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As hierdie raad nie ’n wesenlike verskil maak nie.

2.Mislikheid

Meer daaroor:

•Dit word oggendnaarheid genoem, maar die mislikheid kan jou enige tyd van die dag tref. Dit begin meestal ná die eerste ses weke en neem teen week 12 tot 14 af. In uitsonderlike gevalle duur dit langer of begin dit eers later in die swangerskap.

•’n Tekort aan vitamien B6 en swangerskapaanvulling kan dit veroorsaak.

•Hoewel hormoonveranderings dikwels geblameer word, is daar bevind dat vroue wat angstig en perfeksionisties is meer vatbaar daarvoor is.

•Sommige kenners reken dit is ’n natuurlike meganisme wat jou en jou baba in die eerste trimester beskerm teen kosse wat dalk giftig kan wees.

•Slegte eetgewoontes voor en gedurende swangerskap kan die gevoel van mislikheid vererger.

•Sorg dat jy genoeg rus. As jy moeg is, sal jy nog misliker voel.

Tuissorg:

✓Neem ’n homeopatiese middel wat swangerskapmislikheid teenwerk.

✓Neem ’n vitamien B6-aanvulling.

✓Drink gemmertee vir verligting wanneer jy mislik voel.

✓Eet meer gereelde, kleiner maaltye en eet iets voor jy soggens opstaan. Moenie wag tot jy honger is voor jy eet nie.

✓Hou vir ’n paar dae op om jou swangerskapaanvulling te neem. As jy beter voel, moet jy ’n ander handelsmerk probeer.

✓Skraap of borsel jou tong gereeld. (Die meeste apteke en tandartse hou tongskrapers aan.)

✓Eet elke dag een maaltyd van slegs vrugte – verkieslik ontbyt.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

•Oormatige mislikheid en vomering, bekend as hiperemese (hyperemesis gravidarum), moet behandel word sodat jy nie dehidreer nie.

•As jy eers heelwat later as ses weke begin om mislik te voel, moet jou dokter toets of jy nie dalk bloeddrukprobleme het of aan lae bloedsuiker of bloedarmoede ly nie.

3.Hardlywigheid

Meer daaroor:

•Die ontspannende uitwerking van progesteroon op die dermwand kan die peristaltiese aksie (die spiersametrekking wat gereelde stoelgang verseker) verswak en stoelgang meer ongereeld maak.

•Hardlywigheid word dikwels deur swangerskapaanvullings veroorsaak.

•Vroue wat voor swangerskap met hardlywigheid sukkel as gevolg van ’n spastiese kolon, vind dat dit tydens swangerskap verbeter danksy die ontspannende effek wat verhoogde progesteroonvlakke op die dermwand het.

Tuissorg:

✓Eet elke dag minstens vyf vars vrugte wat in seisoen is.

✓Sorg dat jy minstens 1,5 liter water per dag drink.

✓Drink ’n koppie warm water net ná jy opgestaan het en weer net voor jy gaan slaap.

✓Gee jouself genoeg tyd in die toilet wanneer jy voel jy moet gaan. As jy knyp, droog dit jou stoelgang uit. Die beste tyd daarvoor is vroeg soggens.

✓Maak middagete jou hoofmaal en moenie eet binne drie uur voor jy gaan slaap nie. Hierdie gewoontes verbeter spysvertering.

✓Probeer om elke dag vir 20 tot 30 minute flink te stap of doen ander oefening waarvan jy hou.

✓Jou dermkanaal word gestimuleer wanneer jy in water dryf. ’n Ontspannende bad of swem kan dus help.

✓Gebruik ’n aanvulling soos lyn- of vlasolie wat ryk is aan omega 3-vetsure.

✓Neem ’n homeopatiese middel vir hardlywigheid en opgeblaasdheid, of die weefselsoute Calc Fluor en Ferrum Phos wat dermwandspiere soepeler en sterker maak.

✓Hierdie refleksologie-tegniek is uitstekend: Masseer die middelpunt van jou linkerhak ’n paar keer per dag met jou kneukel. Doen dit vir twee tot drie minute op ’n keer.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

•As geeneen van dié tuissorgwenke die probleem verlig nie.

•Moenie lakseermiddels neem nie; baie is juis nie veilig gedurende swangerskap nie. Dit kan jou ook laat ontwater en die baarmoeder irriteer, wat sametrekkings kan veroorsaak.

4.Sooibrand en slegte spysvertering

Meer daaroor:

•Dit kom algemeen voor in die derde trimester wanneer jou baba groter is en al hoe meer teen jou maag druk. Dit veroorsaak dat die suurinhoud van jou maag tot in jou slukderm vloei en die membraan waarmee dit gevoer is, brand.

•Progesteroon veroorsaak dat die klep tussen die maag en slukderm verslap en minder dig sluit, met die gevolg dat die maaginhoud maklik tot in die slukderm opstoot.

Tuissorg:

✓Eet meer gereeld kleiner maaltye en nie net drie groot maaltye nie.

✓Moenie binne drie uur voor jy gaan lê, eet nie. Sooibrand is erger wanneer jy lê en kos nog nie uit jou maag beweeg het nie.

✓Kort jou inname van pikante, vetterige en ryk kos drasties in.

✓Neem ’n homeopatiese middel vir sooibrand, asook die weefselsout Nat Phos.

✓Drink ’n koppie warm water waarby ’n paar druppels pepermentekstrak gevoeg is.

✓Kou ’n mentblaar of ’n stukkie drop.

✓Lig die koppenent van jou bed effens of slaap op twee kussings sodat jou kop gelig is.

✓Doen dié strekoefening:


Sit op jou hurke sowat 30 cm van ’n muur af met jou knieë wyd uit mekaar. Hou jou hakke weg van mekaar af en draai jou tone na mekaar toe.

Gaan sit op jou hakke en sit jou hande plat teen die muur met die palms na voor.

Loop met jou hande teen die muur af terwyl jy jou boude en skouerblaaie so laag moontlik hou totdat jy kan voel dat jou blaaie rek en die druk op jou diafragma verminder.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As dié raad nie genoeg verligting bring nie. Gebruik slegs teensuurmiddels wat deur jou dokter of apteker voorgeskryf is, omdat jou stelsel gedurende swangerskap reeds meer alkalies is.

GESONDE GESLAGSDELE EN URIENWEG

Daar is nie een deel van ’n vrou se liggaam wat nie deur swangerskap geaffekteer word nie, maar die voortplantingsorgane word uiteraard by verre die meeste geraak. Daarbenewens is vroue dikwels meer vatbaar vir infeksies, aangesien jou immuunstelsel onderdruk word sodat jou liggaam nie die baba verwerp nie.

Bestaande toestande kan meer akuut word en irritasies soos sproei word meer algemeen omdat swangerskap jou liggaam se pH-balans verander. Daarom is die kanse om sistitis of blaasinfeksies te ontwikkel ook groter wanneer jy verwag.

Die twee algemeenste vaginale infeksies is vaginale candida (sproei) en bakteriële vaginose (BV). Albei kan die kanse op voortydige kraam verhoog en dit is dus noodsaaklik dat dit behandel word.

1.Candida

Meer daaroor:

•Vaginale sproei (ook bekend as candida of ’n gisinfeksie) word deur ’n fungus veroorsaak. Alhoewel dit ’n verleentheid kan wees, is vaginale sproei algemeen tydens swangerskap.

•Die simptome sluit ’n onwelriekende, dik wit of geel vaginale afskeiding, ’n gejeuk en branderige gevoel in. In sommige gevalle is daar ook effense bloeding.

•Vaginale sproei moet behandel word om te keer dat jou baba dit opdoen as jy natuurlik geboorte gaan gee. Dit sal dan as mondsproei manifesteer.

•Jou maat moet ook behandeling ontvang om te keer dat jy weer dieselfde infeksie opdoen. Hy kan dieselfde vaginale room as jy gebruik of ’n ander voorskrif by ’n dokter of apteker kry.

Tuissorg:

Gelukkig is dit redelik maklik om sproei te behandel.

✓Die homeopatiese middel calendula is spesifiek geskik vir sproei in vroue, babas en selfs mans.

✓Neem die weefselsout Kali Mur drie keer per dag as ondersteunende behandeling.

✓Moenie badskuim gebruik nie. Voeg liefs ’n paar druppels teeboomolie of essensiële laventelolie by jou bad.

✓Dra katoenonderklere en vermy sintetiese stowwe.

✓Moenie douche nie!

✓Neem minder verwerkte suiker en koring, asook suiwel- en graanprodukte in en sny kos soos gepekelde groente wat gis bevat heeltemal uit.

✓Wend calendula-room uitwendig aan om jeukerigheid en branderigheid te verlig en die vel te help genees.

✓’n Kursus probiotika sal jou minder vatbaar maak vir candida-infeksies, veral as jy onlangs antibiotika geneem het, en kan vaginale sproei behandel.

✓Talle vrouehigiëneprodukte bevat probiotika. Die meeste is veilig vir swanger vroue en kan sonder ’n voorskrif gekoop word.

✓Jy sal tien teen een die beste resultate behaal as jy twee of meer van dié wenke kombineer.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

•As dié raad nie help nie, het jy moontlik ’n voorskrif vir antiswam-medisyne of antibiotika nodig. Raadpleeg egter jou dokter of apteker en lees die biljet in die verpakking sorgvuldig; sommige medisynes is nie veilig vir swanger vroue nie.

•As dié raad glad nie help nie, het jy moontlik ’n ander infeksie soos BV of ’n seksueel oordraagbare infeksie wat ander behandeling nodig het.

2.Bakteriële vaginose (BV)

Bakteriële vaginose (BV) is ’n bakteriese infeksie en word geken aan vaginale irritasie en ’n gladde, onwelriekende witgrys afskeiding wat meer opmerklik is ná omgang. Tot 60% van vroue met BV toon egter geen simptome nie en dit maak dit nie pynlik om te urineer of seks te hê nie. Doktersbehandeling is nodig.

3.Ander seksueel oordraagbare infeksies (SOI’s)

Hierdie infeksies word tydens seksuele kontak oorgedra. Simptome sluit ’n swaar, onwelriekende geel of groen vaginale afskeiding, vaginale irritasie en gejeuk, swere of sere op die geslagsdele, laerbuikpyn, pynlike urinering, geswelde limfkliere, koors of ’n algemene siek gevoel in. Dit kan lei tot ernstige langtermynkomplikasies as dit nie behandel word nie. Rapporteer dus enige simptome aan jou dokter.

Weer eens is voorsorg beter as nasorg. Bly in ’n monogame verhouding met ’n maat vir wie jy lief is en vertrou of gebruik ’n kondoom elke keer wanneer jy genitale of orale seks het. Indien jy met ’n SOI gediagnoseer word, sal jy sowel as jou maat antibiotiese of antivirale medikasie moet neem om herinfeksie te voorkom.

4.MIV/vigs

MIV-toetse is beskikbaar vir alle swanger vroue as deel van hul roetinevoorgeboortelike sorg. Dit is vrywillig, maar dit is belangrik om daarvoor te toets. As jy MIV-positief is, is dit beter om vroeër eerder as later uit te vind, sodat jy die nodig medikasie kan kry en belangrike besluite omtrent jou baba se welstand kan neem. Indien jy weet dat jy MIV-positief is wanneer jy swanger raak, moet jy aanhou om jou medikasie te neem en jou vroedvrou, dokter of kliniek so gou moontlik raadpleeg.

Indien jy MIV-positief is, moet jy in gedagte hou dat goeie voeding, gereelde oefening, ’n positiewe ingesteldheid en antiretrovirale behandeling alles ’n groot rol speel om ’n lang en gesonde lewe te verseker.

Jou dokter of kliniek sal ’n behandelingsplan uitwerk wat jou én jou baba tydens swangerskap sal beskerm. Dit is uiters belangrik dat jy dié plan noukeurig volg om te verhinder dat jou baba ook met MIV besmet word. Dit kan beteken dat jou baba se kanse om MIV op te doen minder as 1% is. Jou dokter of kliniek sal waarskynlik reg deur die swangerskap bloedtoetse doen om jou virale lading te monitor en seker te maak dat die behandeling werk.

Geboorte:

Dit is belangrik om geboorte te skenk op die manier wat die veiligste vir jou baba sal wees. As jy al die nodige behandeling ontvang en goeie voorgeboortesorg het, is ’n normale vaginale geboorte die veiligste. ’n Keisersnee behoort slegs in ’n noodgeval gedoen te word of as jou virale lading uiters hoog is.

Ná geboorte:

Jou baba sal onmiddellik ná geboorte vir MIV getoets word en, ongeag die uitslag, op ’n kort kursus antiretrovirale (ARV) terapie geplaas word. Dit verlaag die kanse op infeksie drasties. As jou baba MIV het, sal hy dadelik met ARV-behandeling begin. As jou baba nie MIV het nie, moet jy hom nogtans fyn dophou om seker te maak dat die medikasie wat jy tydens swangerskap geneem het, hom nie aangetas het nie.

Navorsing toon dat dit die veiligste is om jou baba vir die eerste ses maande van sy lewe nét te borsvoed as jy ARV-behandeling ontvang. Hy moet nie eens formulemelk kry nie. Daarna kan jy begin om hom geleidelik aan vaste kos bekend te stel terwyl jy hom ook borsvoed tot op een jaar. Wanneer hy genoeg vaste kos inneem om sonder borsmelk te kan voortgaan, kan jy hom stadigaan begin speen indien jy wil. Dit is egter nie nodig om dit nou reeds te doen nie.

Kyk na jouself:

Swangerskap is selfs in die beste omstandighede stresvol en daarom moet jy ’n punt daarvan maak om na jouself om te sien. Behalwe om met jou ARV-behandeling te volhard, moet jy ook baie vrugte en groente eet en genoeg oefening kry. As jy besonder gespanne is, moet jy jou dokter of vroedvrou inlig en vra om jou te verwys vir berading of ’n MIV-ondersteuningsgroep voor te stel waarby jy kan aansluit. Om goed na jouself om te sien, is die beste ding wat jy vir jou baba kan doen.

5. Urienweginfeksie

Meer daaroor:

•’n Urienweginfeksie (UWI) of sistitis word veroorsaak deur bakterieë afkomstig van jou vel, dikderm of stoelgang wat in jou urienweg beland.

•Vroue is meer vatbaar daarvoor omdat die rektum en uretra (blaaspyp) so na aan mekaar is.

•Seksuele omgang kan UWI-simptome vererger. Wag dus totdat jou infeksie opgeklaar het voordat jy seksuele aktiwiteit hervat.

•Indien ’n UWI nie behandel word nie, kan dit lei tot nierinfeksie.

•Antibiotika is dikwels nie genoeg om herinfeksie te voorkom in vroue wat buitengewoon vatbaar is vir UWI’s nie en sommige studies het bevind dat antibiotika jou juis vatbaarder maak vir herinfeksie.

•Algemene simptome van ’n UWI sluit in:

–’n brandsensasie tydens urinering

–’n behoefte om meer dikwels bietjies-bietjies te urineer

–drukking op die blaas

–effense koors

–onwelriekende urine (’n vis- of ammoniakreuk)

–’n bloederige afskeiding

–pyn in die lae of middelste deel van die rug

Tuissorg:

✓Drink agt glase water per dag om die risiko van ’n UWI tot die minimum te beperk.

✓Vee jou van voor na agter af nadat jy die toilet gebruik het om te verhinder dat bakterieë jou uretra (oftewel blaaspyp) binnekom.

✓Vroue wat vatbaar is vir UWI’s moet ook in die gewoonte kom om hul geslagsdele en boude ná ’n stoelgang te was.

✓Moet nooit uitstel om te urineer wanneer die natuur roep nie en maak seker dat jy jou blaas heeltemal leegmaak. Maak ook seker dat jy ná seks urineer.

✓Vermy skuimbaddens, badolies en lekkerruikseep.

✓Dra katoenonderklere en vermy sintetiese materiaal en baie stywe broekies en langbroeke.

✓Volg ’n gesonde dieet en leefstyl om jou immuunstelsel op te bou. UWI’s kom gereeld voor wanneer jou weerstand laag is.

✓Drink elke dag drie koppies bosbessie- (“cranberry”-) tee of gebruik ’n bosbessiegebaseerde middel. Die terapeutiese waarde van bosbessies vir UWI’s is omvattend nagevors en as baie voordelig bewys.

✓Gebruik ’n homeopatiese middel wat aktiewe bestanddele soos Petroselinum, Berberis en Cantharis bevat.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As die infeksie nie verbeter nie, jy ’n hoë koors het of die pyn vererger. Jy kan medikasie neem om die branderigheid te verlig, maar dit sal nie die infeksie opklaar nie.

’N GESONDE MOND EN TANDE

Goeie mondhigiëne tydens swangerskap is noodsaaklik om tandpyn, tandbederf, slegte asem, tandvleissiekte en ’n algehele nadelige uitwerking op jou gesondheid te vermy. Sekere studies tref selfs ’n verband tussen swak tandgesondheid tydens swangerskap en voortydige babas of babas met ’n lae geboortegewig.

Dit is noodsaaklik om tydens jou swangerskap vir ’n tandartsondersoek te gaan. Maak egter seker dat jou tandarts weet dat jy swanger is sodat hy slegs verdowingsmiddels en medikasie gebruik wat veilig is.

Daarbenewens blyk dit dat baie vroue se tande ná swangerskap in ’n slegter toestand is. Dit is nie soos baie mense glo omdat jou baba al die kalsium uit jou tande “gesuig” het nie, maar wel om een of meer van dié redes:

•Jy is dikwels baie moeër wanneer jy swanger is en dit kan daartoe lei dat jou mondhigiëne nie voorrang geniet nie.

•Hormonale veranderinge tydens swangerskap veroorsaak geswelde tandvleis en periodontitis. Sonder behoorlike mondhigiëne is die kanse op tandbederf groot.

•Al die soetgoed waarvoor jy so lus is, gaan tandbederf veroorsaak.

•Wanneer jy op jou sy slaap, versamel speeksel in die kant van die mond; en omdat speeksel suur neutraliseer, sal die tande aan daardie kant van jou mond gewoonlik minder tekens van bederf as die ander kant toon.

Wenke vir ’n gesonde tandroetine:

✓Gebruik ’n sagte tandeborsel. Medium en harde tandeborsels kan jou tandemalje beskadig. Vlos ook jou tande gereeld.

✓Borsel jou tande soggens ná ontbyt en saans voor jy bed toe gaan.

✓Drink ’n glas water nadat jy geëet het om van enige stukkies kos wat in jou mond agtergebly het, ontslae te raak.

Tandvleis wat bloei

As jy ’n gesonde dieet volg, is dit gewoonlik nie ernstig nie. Moet dit egter nie ignoreer nie aangesien dit kan veroorsaak dat die tandvleis om jou tande los raak en kan lei tot tandbederf, slegte asem en tandvleissiekte.

Tuissorg:

✓Borsel jou tande drie keer per dag met ’n sagte tandeborsel en vlos elke dag tussen jou tande.

✓Gebruik die weefselsout Ferrum Phos as aanvulling om inflammasie te voorkom, en Nat Mur om verhewe tandvleis teen te werk.

✓Gebruik ’n homeopatiese middel teen infeksie of om jou immuniteit te versterk as jou tandvleis ontsteek is of seertjies het.

Raadpleeg jou vroedvrou of tandarts:

Indien hierdie selfsorgwenke nie positiewe resultate het nie.

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх