Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 23

Оглавление

HOOFSTUK 9

Praktiese sake

Die helfte van die pret is om reg te maak vir jou lewe saam met jou baba! Jy hoef nie oorboord te gaan nie en minder is dikwels meer. Daar is egter ’n paar praktiese sake waaraan jy moet aandag skenk.

KRAAMVERLOF

Dit kan kopkrap verg om te besluit presies wanneer jy kraamverlof moet neem. Dit is wonderlik om ’n paar weke voor die bevalling vry te hê om die pas teen die einde van die swangerskap te verslap, maar dan het jy weer minder tyd saam met jou baba. ’n Goeie riglyn is om minstens 10 dae voor jou verwagte datum op te hou werk.

Kraamvoordele wissel van land tot land. Op die oomblik geld die volgende in Suid-Afrika:

•Jy is geregtig op vier maande se kraamverlof*:

–Jy kan dit een maand voor jou verwagte datum neem, of later, na gelang van jou gesondheid.

–Jy mag nie binne ses weke ná die geboorte terugkeer werk toe nie, tensy jou dokter of vroedvrou meen dit is veilig.

•Net omdat jy geregtig is op hierdie verlof, beteken nie dat jy ’n salaris sal ontvang nie. Jou werkgewer se interne kraamregulasies sal dit bepaal, maar regtens is hulle nie verplig om jou te betaal nie. Jy kan wel ’n persentasie van jou salaris eis van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF).

•Terwyl jy swanger is of borsvoed, mag jy nie enige werk doen wat jou of jou baba skade kan berokken nie, soos om swaar voorwerpe op te tel of gevaarlike chemikalieë te hanteer. Praat met jou bestuurder om seker te maak dat hierdie voorwaardes streng nagekom word.

Onthou dat jou werkgewer ook regte het. As jy dit oorweeg om nie ná geboorte terug te keer werk toe nie, moet jy vir jou werkgewer kennis gee ingevolge jou werkskontrak.

* Die voordele is nie van toepassing indien jy vir die Nasionale Weermag, die Nasionale Intelligensie-agentskap of die Suid-Afrikaanse Geheimediens werk nie. Dit geld ook nie as jy ’n onbetaalde liefdadigheidswerker is, in verkope werk en jou eie werksure reël of as jy minder as 24 uur per maand werk nie.

NOODSAAKLIKE AANKOPIES

Die voorbereidings kan oorweldigend wees, maar babas het in die eerste paar jaar nie baie nodig nie, net liefde, aandag en ’n paar belangrike hulpmiddels. Dit kan duur wees, maar goedkoop is duur koop. Verminder die finansiële impak deur elke maand een of twee dinge te koop. Baie van hierdie items sal hopelik ook geskenke van familielede wees of iets wat jou vriende vir jou kan leen.

Hier volg ’n lys van die algemeenste basiese noodsaaklikhede:

Sagteware

•6 frokkies

•6 katoenkruippakkies (“onesies” of “Babygro’s”)

•3 truitjies of baadjies

•6 borslappe

•2 mussies

•4 pare babasokkies of -skoentjies (dalk kan Ouma dit sommer brei)

•4-5 katoenkombersies (“receiving blankets”)

•4-5 paslakens vir ’n bababedjie

•2-3 dikker komberse vir koue nagte

•Sagte speelgoed

Koop weggooidoeke vir verskillende ouderdomme deur die loop van jou swangerskap om die finansiële impak te versag. Hulle moet absorberend en sag op ’n baba se vel wees. Indien jy nie weggooidoeke gebruik nie, het jy 30 handdoekstof- of katoendoeke en vyf waterdigte broekies nodig.

Hardeware (toerusting)

•Motorstoeltjie (dit moet die SABS-stempel dra en geskik wees vir jou baba se ouderdom)

•Babadrasak of mantel

•Drabedjie

•Wiegie of bababed (die verf moet loodvry wees)

•’n Kampeerwiegie is nuttig, veral wanneer julle by vriende en familie gaan kuier

•Doekruiltafel

•Bababad

•Drie-in-een-stootwaentjie (die wiele moet stewig genoeg wees dat dit oor ruwer oppervlakke kan ry)

•Doeke-emmer as jy handdoekstofdoeke gaan gebruik

•Musiekbewertjie

Produkte

Gebruik produkte wat babavriendelik en omgewingsvriendelik en verkieslik organies is. Middels wat calendula of rooibos bevat, is gewoonlik sagter op ’n baba se velletjie. Maak net seker dat die roombasis ook veilig is vir babas. Minder is meer, gebruik produkte dus spaarsamig. Jou baba se vel moet nog kan asemhaal. Druk- of pompbottels sal help om jou lewe te vergemaklik. Hier is ’n paar belangrike produkte:

•Babaseep

•Babasjampoe

•Lyfroom

•Boudjiesalf

•Baba-olie

•Calendula-room of ontsmettingsalkohol om die naelstringstompie en naeltjie te reinig

•Katoenpluisies

•Watteballetjies

•Babapoeier of talkum (gebruik dit spaarsamig)

Moenie onmiddellik ná geboorte die wasagtige lagie vernix van jou baba se vel verwyder nie. Dit is ’n wonderlike natuurlike “room” wat sy velletjie soepel hou, voed en beskerm.

RIG ’N BABAKAMER IN

Dit mag wel voel of jy speel wanneer jy die babakamer inrig, maar dit moenie net mooi lyk nie. Hoewel ’n pasgeborene nie tydens die eerste paar maande baie tyd in die babakamer deurbring nie, is dit nogtans die moeite werd om ’n vrolike, pragtige ruimte te skep. En wat kan nou lekkerder wees as om die kleure te kies? Daar is talle teorieë oor watter kleure ’n baba sal stimuleer en watter sy luim kan beïnvloed, maar dit bly ’n persoonlike keuse. Strelende kleure kan prikkelbare, angstige babas kalmeer en kalm babas kan dalk meer stimulerende kleure geniet, maar as jy twyfel kan jy dit oorweeg om ’n neutrale basiskleur te gebruik en dit met bewertjies en speelgoed op te helder.

Vyf wenwenke vir die babakamer

1.Posisioneer die bababed sodat jSou kleinding by die deur kan uitsien. So sal hy minder alleen voel wanneer hy oud genoeg is om in sy eie kamer te slaap. Hou ook die bababed weg van direkte sonlig, verwarmers en lampe asook muurbehangsels en ander meubels waaraan ’n baba kan vashou om uit die bedjie te klim.

2.Bewertjies is nie net pragtig nie, die beweging help ook om ’n baba te sus. Sodra hy self op sy hande en knieë kan kom, moet jy die bewertjie buite bereik plaas om te verhinder dat sy armpie of beentjie in die koorde verstrengel raak of dat hy stukkies aftrek en in sy mond steek.

3.Maak seker dat die matras stewig pas en moenie ’n kussing in die bababed plaas nie. Jou baba het ’n ferm, plat oppervlak nodig om veilig te slaap.

4.’n Naglig is ’n blink plan. Die skynsel help ook om ’n baba te sus en die sagte lig is ideaal as jy hom in die nag moet voed.

5.Die kamer moet goed geventileer wees. Probeer egter om jou baba se bed weg van enige trekke te plaas.

Sorg vir ’n veilige bababed

Die bababed moet met loodvrye verf geverf wees en verkieslik met ’n nuwe matras en linne toegerus word. Hou ook die volgende in gedagte:

•Die bed moet diep genoeg wees sodat jou baba nie kan uitklouter nie.

•Dit moenie trappies of uitsnysels in die kopstuk of voetstuk hê waarin ’n baba se armpie of beentjie kan vassit nie.

•Daar moet ’n spasie van minstens 2,5 cm maar hoogstens 5 cm tussen die tralies wees. As dit groter is, kan ’n baba se kop daardeur glip en vassit.

JOU GEBOORTETASSIE

Namate jou verwagte datum naderkom en jy al meer opgewonde raak, is dit ’n goeie idee om jou kraamtas te pak en reg te hê. Die kraamproses vorder taamlik stadig aan die begin en jy kan die inpakkery moontlik uitstel totdat kraam begin, maar dan gaan jy dalk so opgewonde wees dat jy noodsaaklike items vergeet. Boonop is daar sommige dinge wat jy spesiaal sal moet aankoop.

Vir die kraamsaal

Hier is ’n lys van die nuttigste items om saam te neem:

✓’n Gemaklike los T-hemp om in te kraam

✓Snesies, want kraam laat dikwels die neus loop

✓Haarrekkies as jy lang hare het

✓Sokkies om koue voete warm te hou

✓Lipsalf

✓Vrugte of ’n fruktosedrankie vir ’n vinnige energie-inspuiting

✓’n Waterbottel met ’n strooitjie

✓’n Waslap om jou gesig en nek te verfris

✓Een van jou gunstelingitems uit jou huis

✓Homeopatiese middel om kraam aan te help

✓Strelende musiek, vir kraam en die nageboortesaal

✓Rekbare weggooikraambroekies en sanitêre doekies

✓Nagklere, pantoffels en ’n kamerjas

Vir die nageboortesaal

✓’n Koekie sagte rooibos- of calendula-seep

✓Deodorant, velsorgprodukte en grimering

✓Borsvoedingsdoekies

✓Verkoelende jeldoekies vir jou oorvol, teer borste

✓’n Jeldoekie om ongerief in jou perineum te verlig

✓Drie borsvoedingbra’s

✓Plastieksakke vir wasgoed

✓’n Kombers om jou baba in toe draai in die motor

✓Klere vir jou en jou baba om aan te trek wanneer julle huis toe te gaan (liefs een van jou swangerskapuitrustings, aangesien dit nog ’n tydjie gaan neem voor jy verslank)

Die hospitaal of kliniek kan moontlik die volgende items verskaf:

✓Sanitêre doekies

✓Borsvoedingsdoekies

✓Ontsmettingsmiddel om jou perineum (-steke) te ontsmet

✓Babakleertjies vir die duur van die hospitaalverblyf

✓Yspakke

✓Infrarooilampe vir seer borste of perineum

✓Weggooibabadoeke

✓Watteballetjies om die naeltjie en naelstringstompie skoon te maak

✓Ontsmettingsalkohol om die naeltjie skoon te maak

✓Basiese higiëne-items vir jou, soos seep

✓Babahigiëne-items soos vloeibare seep, sjampoe, velroom, boudjiesalf en poeier

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх