Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 5

Inleiding

Оглавление

’n Rustige ma, wat seker is van haarself, is die ruggraat van ’n gelukkige huis.

Ek glo (en sê dit vir alle verwagtende vroue) dat dit allerbelangrik is om van alle kwellinge en emosionele bagasie ontslae te raak wanneer jy verwag sodat jy ontspanne is en die swangerskap, geboorte en jou baba ten volle kan geniet. Ek glo ook dat die eenvoudigste aanpassings ’n reuseverskil kan maak. Elke ma is geregtig daarop om dit te geniet om ma te wees, net soos dit elke pa se reg is om pa-wees te geniet.

Daarom bied dié boek dit wat ek glo die noodsaaklikste feite is asook menings en wenke wat jou sal help om ouerskap te geniet. Dit is nie nodig om ’n lywige handleiding te raadpleeg nie, want jy het reeds die nodige kennis en weet instinktief wat om te doen. Ek beskou myself bloot as ’n fasiliteerder wat help om dié aangebore vermoëns en intuïsie te ontsluit. Daar is ook afdelings met die nodige inligting oor swangerskap, geboorte en kind grootmaak omdat dit onlosmaaklik deel is van ouerskap. Die een fase loop oor in die ander en daarom is dit goed om by die begin te begin.

Natuurlik sal daar uitdagings wees. Soms sal dit ’n haakplekkie wees en soms ’n berg wat oorkom moet word. Geen ouer kom ooit skotvry daarvan af nie en dit is belangrik om te onthou dat elke dag, selfs die heel moeilikste, altyd tot ’n einde kom en dat elke gelukkige oomblik julle altyd sal bybly. Behou dus jou fokus, vertrou Moeder Natuur en moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie.

Elke ma, pa, baba en kind wat ek in my lewe en in my loopbaan teëgekom het, leef op die bladsye van hierdie boek en ek dra dit op aan elkeen van hulle.

Ek wens jou alle voorspoed toe op jou pad as ouer!

Suster Lilian

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх