Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 12

NOODSAAKLIKE VOEDINGSTOWWE

Оглавление

Die volgende afdeling is veral gemik op diegene wat op hul verstand eerder as hul instink staatmaak ten opsigte van gesonde voeding. Swanger vroue word oor die algemeen aangeraai om goeie, betroubare aanvullings te neem, maar dit is belangrik om te weet dat voldoende hoeveelhede van talle voedingstowwe wat noodsaaklik is vir ’n gesonde swangerskap, in plantkosse aanwesig is. Jy kan hierdie ses belangrike voedingstowwe uit die regte plantkosse kry:

✓Yster word aangetref in groen groente, vrugte, neute, sade, rosyntjies en avokado’s.

✓Foliensuur kom voor in groen groente, avokado’s, spanspek, winterspanspek, pomelo’s, nartjies, pere, aarbeie, amandels, haselneute en sonneblomsaad.

✓Kalsium is te kry in vye, appelliefies, avokado’s, dadels, druiwe, koejawels, kiwivrugte, suurlemoene, mango’s, spanspek, lemoene, papaja, pere, turksvye, neute en sade.

✓Magnesium word aangetref in sade, piesangs en neute.

✓Vitamien A kom voor in rooi, oranje en groen groente en helderkleurige vrugte soos mango’s. (Let wel dat jy versigtig moet wees om te veel vitamien A in te neem in die vorm van aanvullings, maar dit is veilig en noodsaaklik om te sorg dat jy dit uit jou dieet kry.)

✓Sink word aangetref in neute, sade, peule, soja en grane.

Voedingstowwe onder die vergrootglas

Mense wil toenemend meer weet van die kos wat hulle eet en die voedingswaarde daarvan. Maar moet asseblief nie elke happie ooranaliseer nie! As jy meestal gesond eet en baie vars groente en vrugte inneem, is die kanse goed dat jou dieet gebalanseerd – en gesond – is. As jy swanger is, is dit egter goed om meer uit te vind omtrent verskillende makro- en mikrovoedingstowwe en die belangrikste minerale.

Makrovoedingstowwe is proteïene, koolhidrate en vette, en dit is nodig om dié drie in die regte verhoudings in te neem om gesond te bly. Daarvoor moet jy die volgende kosse eet, selfs as jy nie swanger is nie. Nommer een is die belangrikste en moet die grootste deel van jou dieet vorm, terwyl nommer agt die minste belangrik is.

1.Rou, heel vrugte Jy kan soveel vrugte eet as wat jy wil mits dit in seisoen en ryp is. Dit moet ook verkieslik rou wees. Wissel soet en suur vrugte af vir optimale spysvertering.

2.Rou slaai Eet ’n mengelslaai as voorgereg by elke maaltyd of maak dit jou hoofmaal om jou inname van ongesonde kos te verminder en jou liggaam ’n vitamien- en mineraalhupstoot te gee.

3.Groente Kook groente liggies of stoom dit om die meeste voedingstowwe te behou.

4.Peule en bone Ertjies, lensies, kekerertjies en die meeste boonsoorte is ’n goeie bron van proteïen, maar moenie geneties gemodifiseer wees nie.

5.Grane Dit moet so onverwerk moontlik wees sodat die suiker daarin so stadig as moontlik vrygestel word om volgehoue energie te verseker in plaas daarvan om jou bloedsuiker ongesond hoog op te jaag. Dit is graankosse met ’n lae glikemiese indeks. Graankosse sonder enige chemiese bymiddels is ook verkieslik. Daar is ’n wye verskeidenheid soos gort, manna, rog, koring, sorghum, mielies en bruin- of volgraanrys om van te kies.

6.Rooivleis, pluimvee, vis en eier Eet minder van dié proteïene terwyl jy swanger is en kies waar moontlik vrylopende produkte wat nie sintetiese hormone bevat nie. Bly ook liefs weg van verwerkte vleis wat bymiddels bevat.

7.Suiwel Verlaag ook die hoeveelheid suiwelprodukte soos melk, kaas, jogurt, karringmelk en room in jou dieet en kyk uit vir produkte wat nie enige hormone, kunsmatige versoeters, kleurstowwe en preserveermiddels bevat nie.

8.Vette en olies Beperk jou inname van vette en olies, maar moet dit nie heeltemal uitsny nie. Dit is belangrik dat dit goeie, suiwer koudgeparste olies is.

Mikrovoedingstowwe is vitamiene en minerale wat die liggaam in klein hoeveelhede nodig het ten einde gesond te ontwikkel en te funksioneer. ’n Tekort aan dié spoorelemente kan ernstige gesondheidsprobleme veroorsaak. Dit kom in klein maar voldoende hoeveelhede in sekere kosse voor.

Enkele belangrike vitamiene:

•Vitamien A is nodig om essensiële vetsure te kan verteer en die spysverteringskanaal, longe en mukusmembrane gesond te hou. Wees versigtig om nie te veel in te neem nie; dit word met geboortedefekte geassosieer. (Sien Noodsaaklike voedingstowwe vir ‘n lys van kosse wat vitamien A bevat.)

•Vitamien B2 is nodig vir energiemetabolisme, met ander woorde om voedingstowwe in energie om te skakel, en vir die gesonde groei en ontwikkeling van sekere liggaamsweefsels vir jou en jou baba. Dit kom in peule, neute, groen groente, heelgraankos, suiwel en eiers voor.

•Vitamien B6 is nodig vir die vorming en groei van nuwe liggaamsweefsel in jou en jou baba en is ’n teenvoeter vir naarheid. Dit kom voor in heelgraankos, suiwel, eiers en maer vleis.

•Vitamien B12 is nodig vir die normale verdeling van rooibloedselle en ’n tekort sal tot bloedarmoede lei. Dit kom voor in organiese vrugte en groente (wat nie met chemikalieë gewas is nie), maer vleis, hoender, kalkoen, suiwel en eiers.

•Foliensuur is nodig vir die gesonde ontwikkeling van jou baba se neuraalbuis waaruit die brein en senustelsel weer ontwikkel. (Sien Noodsaaklike voedingstowwe vir ‘n lys van kosse wat foliensuur bevat.)

Enkele belangrike minerale:

•Yster hou liggaamsweefsel sterk, verseker dat die liggaam genoeg suurstof opneem en bied beskerming teen infeksie. (sien Noodsaaklike voedingstowwe vir ’n lys van kosse wat yster bevat.)

•Kalsium bou gesonde spiere, vel, bene en tande en help om eklampsie en kardiovaskulêre siektes te voorkom. (sien Noodsaaklike voedingstowwe vir ’n lys van kosse wat kalsium bevat.)

•Magnesium en kalsium vorm ’n span en voorkom krampe. (sien Noodsaaklike voedingstowwe vir ’n lys van kosse wat magnesium bevat.)

•Sink is nodig vir die gesonde vorming van DNS en liggaamsweefsel asook vir die ontwikkeling van die immuunstelsel. (sien Noodsaaklike voedingstowwe vir ’n lys van kosse wat sink bevat.)

•Jodium is noodsaaklik vir die vervaardiging van skildklierhormone in ma’s sowel as babas en is belangrik vir normale groei en metaboliese prosesse. Dit kan ook help om preëklampsie te verhoed. Jodium kom voor in seekos, seewier en ander seegrasse asook gejodeerde sout.

Drie belangrike punte1.Studies het bevind dat swangerskapnaarheid moontlik ’n natuurlike meganisme is om te keer dat swanger vroue kosse eet wat skadelik vir hulle en hul babas is; dit dien as ’n vorm van beskerming in die mees kritieke stadium, die eerste trimester.2.Soet happies en suikerryke gaskoeldrank ontwrig bloedsuikervlakke en het geen voedingswaarde nie. Vermy dit dus en eet eerder ’n paar dadels as jy lus is vir iets soets!3.Ons liggame bestaan uit minstens 70% water, wat verklaar waarom dit so belangrik vir jou en jou ontwikkelende baba se gesondheid is dat jy genoeg vloeistof inneem solank jy swanger is.
Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх