Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 18

MOEGHEID

Оглавление

Moegheid is ’n algemene klagte by swanger vroue. Onthou, jou liggaam is nou soos ’n fabriek wat 24 uur per dag moet werk met net een persoon aan diens. Dit is te verwagte dat jy ’n mate van moegheid sal ervaar. Die goeie nuus is dat dit gewoonlik beter gaan in die tweede trimester, maar dan vererger die ekstra gewig van die groter wordende baba weer sake in die derde trimester.

Tuissorg:

✓Volg ’n dieet propvol vars seisoenale vrugte en liggies gestoomde groente. Dit is deurslaggewend.

✓Drink baie water, want jy kan moeg voel as jy gedehidreer is. Koue gesonde drankies kan jou ook ’n hupstoot gee.

✓Peusel aan amandels, piesangs en vars bessies of drink ’n koppie verkwikkende kruietee as jy ’n vinnige opkikker nodig het.

✓Gebruik kruie wat ’n kalmerende uitwerking het in kos, soos ment wat angstigheid en ongemak verlig. Pikante speserye soos kaneel en gemmer sal jou weer ’n hupstoot gee as jy koud kry en lusteloos voel.

✓Vee jou gesig gereeld met ’n koel waslappie af.

✓Jy sal waarskynlik ’n paar aanvullings vir swanger vroue moet uittoets voor jy die regte een kry, maar as jy een neem wat werk, kan dit jou energie gee deur die voedingstowwe wat dalk ontbreek in jou dieet, aan te vul.

✓Slaapversteurings sal jou moeg maak. Knip ’n uiltjie wanneer jy kan en gaan vroeg bed toe. Die slaap wat jy voor middernag kry laat jou meer uitgerus voel. Daar is ook homeopatiese middels wat veilig is en wat jou sal help om beter te slaap.

✓Gereelde oefening sal jou meer energie gee. Hoe fikser jy is, hoe meer stamina sal jy hê en hoe sterker jou liggaam is, hoe makliker sal dit wees om die ekstra emosionele en liggaamlike las van swangerskap te hanteer.

✓Gaan stap elke dag buite. Sonlig en vars lug kan wondere verrig vir enigiemand se energievlakke.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

Indien jou moegheid nie verbeter nie of jy gereeld duiselig voel, moet jy jou dokter vra om jou te laat toets vir lae bloeddruk en bloedarmoede.

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх