Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 22

ENKELE BELANGRIKE KOMPLIKASIES

Оглавление

1.Swangerskapcholestase

As jy onbeheersd jeuk, kan jy moontlik aan swangerskapcholestase ly, wat gevaar vir jou baba kan inhou. Hoewel ’n gejeuk as ’n normale simptoom van swangerskap beskou word, kan dit ook dui op ’n veel ernstiger toestand wat veroorsaak word deur sout wat in jou bloedstroom opbou.

Jou lewer vervaardig gal, ’n geel-groen vloeistof wat belangrik is vir spysvertering en in die galblaas gestoor word tot tyd en wyl dit na die dermkanaal moet vloei. Dit bevat onder meer chemikalieë wat galsoute genoem word. As jy cholestase het, vervaardig jou lewer minder gal en hoop galsoute in jou lewer op. Hiervandaan “lek” dit mettertyd in jou bloedstroom in. Dit veroorsaak dat jou vel jeuk en kan tot voortydige geboorte lei.

Meer daaroor:

•Cholestase kom gewoonlik in die derde trimester voor.

•Die oorsaak is nie bekend nie, maar dit affekteer soms hele families, wat die vermoede laat ontstaan dat dit geneties is.

•Dit is ook moontlik dat die toename in swangerskaphormone die vloei van gal van die lewer af vertraag.

•As jy vantevore cholestase gehad het, is die kans groter dat jy dit met jou volgende swangerskap weer gaan kry.

•Die hoofsimptoom is ’n kwaai gejeuk, dikwels op jou palms of voetsole, maar dit kan ook elders voorkom. Dit kan vererger namate jou bevallingsdatum nader kom.

•Ander moontlike simptome om voor op te let:

–’n Geel kleur aan jou vel en die wit van jou oë

–Mislikheid en aptytverlies

–Donker urine

–Stoelgang met ’n ligte kleur

Is cholestase ernstig?

Jeukerigheid is ’n algemene swangerskapsimptoom en dit is dus nie nodig om jou dokter elke keer dat jy jeuk, te raadpleeg nie. As dit egter hardnekkig of ondraaglik raak, is dit raadsaam om hom te spreek, des te meer as jy enige van die ander simptome opgemerk het of as iemand in jou nabye familie ook al cholestase of ’n ander lewersiekte gehad het.

Buiten dat die gejeuk jou stapelgek kan maak, is dit onwaarskynlik dat cholestase skadelik vir jou sal wees. Dit kan egter gevaarlik wees vir jou baba en voortydige geboorte, fetale nood of stilgeboorte veroorsaak. In die lig daarvan moet jy jou baba se bewegings noukeurig monitor en jou dokter in kennis stel indien jy enige verandering in die gewone patroon opmerk. Baie dokters sal veiligheidshalwe ’n vroeë bevalling rondom 37-38 weke aanbeveel.

Die gejeuk sal binne ’n paar dae ná geboorte verdwyn en dit is onwaarskynlik dat jy verdere lewerprobleme sal hê.

2.Diabetes

Swangerskapdiabetes kan die kanse op infeksie, veral candida- en urienweginfeksies, miskraam, hipertensie en preëklampsie, oormatige vrugwater en dood by ’n pasgebore baba verhoog. Dit kan ook veroorsaak dat die plasenta swak funksioneer, wat op sy beurt jou ongebore baba se groei kan vertraag. Daar is ook ’n groter risiko van abnormaliteite.

Vanweë ongesonde lewenstyle is tipe 2-diabetes en swangerskapdiabetes regoor die wêreld aan die toeneem. Buiten die verhoogde risiko dat jou baba meer as 4,5 kg by geboorte kan weeg (makrosomie) en lae bloedsuiker (hipoglukemie) ná geboorte kan hê, wil dit voorkom of baie gesondheidspraktisyns nie te bekommerd is oor swangerskapdiabetes nie, aangesien dit grotendeels ná die bevalling verdwyn sonder langtermyngevolge.

Navorsing toon egter dat vroue wat swangerskapdiabetes ontwikkel, ’n verhoogde risiko het om tipe 2-diabetes te kry. Daar is ook studies wat toon dat babas wat verhoogde bloedglukosevlakke in die baarmoeder bereik, ’n groter kans het om later vetsug en tipe 2-diabetes te ontwikkel – vetsug bly een van die heel grootste risikofaktore wat tipe 2-diabetes betref. Navorsing toon verder ’n verband tussen oormatige gewigstoename tussen swangerskappe en swangerskapdiabetes in ’n volgende swangerskap.

Baie vroue bly oorgewig (of sit nog gewig aan) ná hul babas gebore is, moontlik vanweë veranderings in hul leefstyl. Dit benadruk die belangrikheid van ’n gesonde leefstyl tydens swangerskap en ná geboorte. Dit is nie altyd maklik met ’n nuwe baba in die huis nie, maar beslis die moeite werd.

Tuissorg:

✓Verdubbel of verdriedubbel die resep wanneer jy gesonde maaltye maak en vries dit wat jy nie nou eet nie om later te gebruik. Dit beteken nie net minder huiswerk nie, maar maak dit baie makliker om gesond te eet.

✓Die fruktose in Moeder Natuur se kitskos, heel vrugte, word stadiger vrygestel as wanneer dit verwerk, gekook of versap is. Eet ’n vrug in plaas van nagereg ná ete om jou soettand te bevredig en bloedglukose onder beheer te hou.

✓Stap elke middag flink om ’n gesonde gewig en positiewe selfbeeld te handhaaf. Oefening is noodsaaklik om tipe 2-diabetes te beveg, veral omdat dit deur ’n destruktiewe leefstyl veroorsaak word.

3.Ektopiese swangerskap

’n Ektopiese swangerskap vind plaas wanneer die bevrugte eier aan die Fallo-pius-buis of, in uiters seldsame gevalle, aan die eierstok of buikholte heg en nie in die baarmoeder (uterus) nie. Slegs ongeveer 1% van swangerskappe is ektopies.

Die oorsaak is dikwels nie duidelik nie, maar herhaalde seksueel oordraagbare infeksies, bekkenontsteking, buisafbinding (vir sterilisasie) en sekere vrugbaarheidsbehandelings maak ektopiese swangerskap meer waarskynlik. Vroue wat rook, voorheen ’n ektopiese swangerskap gehad het en ouer is as 35, loop ook ’n groter risiko.

Wat is die simptome?

Jy sal waarskynlik aanvanklik al die normale tekens van vroeë swangerskap ervaar, maar die swangerskap kan eindig met ’n effense bloeding, soos ’n ligte maandstonde. Pyn aan die een kant van die onderbuik kan enige tyd tussen week 4 en 10 begin, en as die bloed in jou buik in gelek het, kan jou skouers ook pyn.

Wat staan my te doen as ek vermoed ek het ’n ektopiese swangerskap?

Gaan sien jou dokter of kliniek. Hulle sal ’n sonar doen om seker te maak. Indien daar ’n ektopiese swangerskap is, word die embrio gewoonlik met ’n klein operasie verwyder en medikasie voorgeskryf om die swangerskap te beëindig. Hulle sal ook probeer om die oorsaak vas te stel.

Wat gebeur as my Fallopius-buis bars?

Dit gebeur as die swangerskap voortgaan. Die bekkenpyn sal vererger en jou liggaam sal in skok verkeer. Jy moet so vinnig moontlik by ’n hospitaal uitkom vir behandeling en chirurgie om jou buis te verwyder. Dit kan jou kanse om weer swanger te raak benadeel, maar nie in alle gevalle nie.

4.Onbekwame serviks

’n Serviks wat nie stewig toe bly tydens swangerskap nie, staan as ’n onbekwame serviks bekend. Dit is belangrik dat die serviks dig toe bly om te verseker dat die sak met vrugwater wat die groeiende baba omring nie in die vagina uitbult nie, want dit kan die membrane laat skeur, die amniotiese vloeistof laat uitstroom, die baba en die vrugwater aan infeksie blootstel en dikwels tot ’n miskraam lei. Jy sal eers weet dat jy dit het as jy begin bloei, vrugwater lek of ’n interne ondersoek nodig het.

’n Onbekwame serviks herhaal gewoonlik met elke swangerskap. Om dit reg te stel, word ’n “tabaksaksteek”, ook bekend as ’n Shirodkar- of McDonaldsteek, op ongeveer 14 weke ingesit. Dit word onder algemene narkose gedoen, maar is ’n vinnige prosedure en jy hoef jou nie oor jou baba te bekommer nie. Die steek word gewoonlik tussen 36 en 38 weke verwyder sodat jy normaal kan geboorte skenk.

5.Preëklampsie

Hoë bloeddruk wat die eerste keer tydens swangerskap ontwikkel, veral as dit gepaardgaan met swelsel, hoofpyne, mislikheid en sigversteurings, kan dui op ’n baie ernstige toestand wat as preëklampsie (vroeë simptome) of eklampsie (die ontwikkelde toestand) bekend staan. Preëklampsie kom gewoonlik in die derde trimester voor en kan terugkeer in daaropvolgende swangerskappe.

Simptome van preëklampsie:

•Vinnige gewigstoename

•Buikpyn

•Ernstige hoofpyne

•Verminderde urine

•Duiseligheid

•Oormatige vomering en mislikheid

Wie loop gevaar?

Vroue wat oorgewig is loop ’n groter risiko van preëklampsie. Probeer dus om jou gewigstoename met swangerskap onder beheer te hou met ’n gesonde dieet. Daar is onlangs bevind dat ’n tekort aan jodium en essensiële vetsure (EVS’e) verwagtende ma’s in groter gevaar stel. ’n Dieet ryk aan seekos (vis en seewier) en ’n aanvulling om jou inname van essensiële vetsure te verhoog, is ’n maklike manier om dit te voorkom.

Ander faktore wat preëklampsie voorspel is:

•Familiegeskiedenis As ’n nabye familielid preëklampsie gehad het, is jou risiko groter.

•Persoonlike geskiedenis As jy voorheen preëklampsie gehad het, kan jy verwag om dit weer in jou volgende swangerskap te ontwikkel.

•Sekere mediese toestande of siektes byvoorbeeld diabetes of chroniese niersiekte.

•Leefstyl Rook en alkoholgebruik verhoog jou kanse om preëklampsie te ontwikkel.

Behandeling

Die behandeling sal afhang van die ergheidsgraad, maar behels baie bedrus en spesiale bloeddrukmedikasie. Die medikasie kan jou duiselig en lighoofdig laat voel en jy sal stadig moet gaan sit en opstaan. Jy sal moontlik ’n paar dae in die hospitaal moet deurbring sodat hulle jou en jou baba kan monitor.

Kalsiumaanvullings kan help vir hoë bloeddruk en aspiriene kan bloedklonte voorkom. Raadpleeg egter altyd eers jou dokter voordat jy enigiets gebruik. Alhoewel angstigheid nie preëklampsie veroorsaak nie, kan dit die toestand vererger. Probeer om soveel moontlik te ontspan. Homeopatiese middels vir angstigheid is veilig om tydens swangerskap te neem, maar kry veiligheidshalwe eers advies by ’n homeopaat voor jy enigiets begin gebruik.

Ná geboorte sal jy vir ongeveer drie tot ses weke noukeurig gemonitor en behandel word.

Indien preëklampsie nie behandel word nie, kan dit ernstige nagevolge hê. Maak seker dat jy vir gereelde opvolgondersoeke gaan en besoek onmiddellik ’n dokter as jy enige van die simptome van preëklampsie ervaar.

Wat gebeur as ek hoë bloeddruk gehad het voor ek swanger geraak het?

As jy hoë bloeddruk gehad het voor jy swanger geraak het, sal jou bloeddruk en medikasie reg deur jou swangerskap noukeurig gemonitor word. Jy sal ook jou dieet moet aanpas deur byvoorbeeld minder sout, diereproteïene en vetterige en verwerkte voedsel, en meer vars vrugte en groente, te eet.

Dit is doodnormaal dat jou hande en voete tydens swangerskap swel. Tagtig persent van swanger vroue ervaar dit! As dié ledemate uitermate geswel is, of as jy ook oor jou bekken, arms en gesig opswel, moet jy jou dokter raadpleeg. Dit kan ’n teken van preëklampsie wees.

6.Toksoplasmose

Toksoplasmose is ’n infeksie wat deur die protosoë Toxoplasma gondii veroorsaak word. Dié parasiet word in baie voëls en soogdiere aangetref en word gewoonlik na mense oorgedra as hulle in aanraking kom met ’n besmette kat se ontlasting, veral in katsand wat nie gereeld skoongemaak word nie. As jou katte potplante of blombeddings as ’n katboks gebruik, kan jy dit ook opdoen wanneer jy in die tuin werk. Kinders se sandputte is nog ’n gevaarsone.

Indien jy toksoplasmose opdoen, kan jy griepagtige simptome hê, soos geswelde kliere, uitputting, koors en spierpyn. Baie mense toon egter geen simptome nie. As ’n verwagtende ma dit opdoen, kan dit deur die plasenta na haar baba oorgedra word en geelsug, konvulsies, wangeskapenheid en verstandelike gestremdheid veroorsaak. Jou dokter sal egter medikasie voorskryf om dit te verhoed. Slegs ongeveer 10% van besmette babas toon enige simptome.

Voorkom toksoplasmose

As jy higiënies is en jou troeteldiere gesond is, is dit onwaarskynlik dat jy toksoplasmose sal opdoen deur middel van jou alledaagse interaksie met jou troeteldiere. Jy kan wel die volgende ekstra veiligheidsmaatreëls tref:

✓Vra iemand anders om die katsand skoon te maak.

✓Dra dik handskoene wanneer jy in die tuin werk.

✓Maak seker dat die kinders se sandput altyd toe is as dit nie gebruik word nie en vervang die sand as die kat dit as ’n katboks gebruik het.

✓Was alle vrugte en groente deeglik.

✓Moenie halfgaar vleis eet nie.

✓Was jou hande nadat jy aan troeteldiere gevat het of met rou vleis gewerk het.

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх