Читать книгу Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids - Lilian Paramor - Страница 16

Оглавление

HOOFSTUK 6

Jou vel, voorkoms en ander kwellinge

Baie vroue straal werklik en hul vel lyk pragtig wanneer hulle swanger is, maar dit kan ook onaangename verrassings inhou.

ALGEMENE VELPROBLEME

Dis te verstane dat velprobleme jou bekommerd en ongelukkig sal maak. Hier is raad met vyf algemene kwessies:

1.Rekmerke

Jou gene sal grotendeels bepaal of jy rekmerke kry of nie, maar dieet en hidrasie speel ook ’n rol. Rekmerke verskyn wanneer die kollageenbundels onder die vel skeur. Ná die geboorte van jou baba sal hulle minder opsigtelik word, maar hulle sal ongelukkig nooit heeltemal verdwyn nie. Jy kan die skade verminder deur jou vel se elastisiteit te verbeter en velselle te versterk.

Tuissorg:

✓Neem die weefselsoute Calc Fluor en Ferrum Phos drie keer per dag tot en met geboorte om jou vel soepeler en sterker te maak.

✓Probeer om oortollige gewig af te skud voor jy swanger raak en doen gereeld oefening sodat jy soepel bly.

✓Wend ’n voedende lyfroom of natuurlike weefselolie wat met vitamien A en E verryk is aan die areas waar rekmerke geneig is om te verskyn, soos die maag, borste en dye. As jy allergies of sensitief is vir velsorgprodukte, is daar altyd rome of olies wat vir sensitiewe velle getoets is en deur betroubare maatskappye vervaardig word. Lees altyd die etiket of nader die vervaardiger om seker te maak dat ’n produk wel veilig is vir gebruik tydens swangerskap.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As hardnekkige rekmerke lelike letsels laat, kan jy raad vra by jou vroedvrou of dokter, maar buiten chirurgie, wat ook letsels laat en geen waarborg bied nie, is daar min wat daaraan gedoen kan word.

2.’n Jeukerige vel

Om jeukerig te voel, is algemeen, veral op jou maag en borste. Dit kan ook jou boude, labia, boarms en bobene affekteer. Dit is nie duidelik wat die oorsaak is nie, maar sommige kenners skryf dit toe aan jou vel wat rek of hormonale veranderinge. Dit is gewoonlik nie ernstig nie, net ongemaklik en irriterend.

Tuissorg:

✓Hou vir ’n paar dae op om sterk seep, velsorgprodukte, wasgoedseep en opwasmiddels te gebruik en kyk of een van hulle nie dalk jou vel irriteer nie.

✓Gebruik natuurlike weefselolie wat met vitamien E verryk is.

✓Voeg ’n pot rooibostee of ’n hand vol koeksoda by jou badwater.

✓Eet meer patats, wortels, vis afkomstig van betroubare verskaffers en donkergroen blaargroente. Die groot hoeveelhede vitamien A en D daarin help soms.

✓Druk mielieblom sagkens aan die jeukerige dele.

✓Gebruik die weefselsout Nat Mur en homeopatiese gousblom- (calendula-) tablette.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

•As jou hande, voetsole, maag en later die res van jou lyf kwaai jeuk.

•As jy siek en naar voel, jou uriene donker of jou stoelgang lig van kleur is, as jou ledemate erg swel of jou vel bleek of geel is.

3.Hiperpigmentasie

Tot 70% van alle swanger vroue ly aan hiperpigmentasie of verdonkering van die vel. Dit is normaal dat sproete, moesies en vlekke groter of donkerder word. Dit word in die algemeen veroorsaak deur die verhoogde vlakke van progesteroon en estrogeen in jou liggaam en ’n toename in melanien in jou vel. Dit verdwyn gewoonlik binne ’n paar maande ná geboorte.

Hiperpigmentasie affekteer meestal dié areas:

•Die areola om die tepels.

•Dele van die gesig, veral om jou mond (chloasma), die neus en wange (amper in ’n skoenlappervorm).

•’n Reguit lyn vanaf die skaambeen tot by die naeltjie (die linea nigra).

•Dele soos die geslagsdele, binnebene en onderarms.

•Enige dele wat aan die son blootgestel is.

Tuissorg:

✓Moenie lang tye in die son deurbring nie. Dra bedags ’n hoed en gebruik ’n sonskerm wat veilig is tydens swangerskap. Sinkpreparate is baie doeltreffend.

✓Bly weg van sonbeddens af.

✓Moenie bleikrome of kruiemiddels gebruik wat moontlik skadelik vir jou baba kan wees nie.

✓Gebruik ’n sagte, verkieslik organiese velroom wat nie die aangetaste dele verder sal irriteer nie.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

•Die meeste middels vir pigmentasie kan nie tydens swangerskap gebruik word nie. As jy ernstige hiperpigmentasie het wat nie binne ’n paar maande ná geboorte ligter raak nie, kan jy jou dokter vra om ’n behandeling voor te skryf.

•Vra jou dokter om moesies wat jou pla te verwyder.

4.Aknee

Baie swanger vroue het las van aknee, veral as hulle maklik gespanne raak! Swangerskapaknee is ook meer algemeen onder donkerkoppe en vroue met ’n blas gelaat. Puisies kan oral op die liggaam voorkom, maar slaan gewoonlik op die gesig, rug en boarms uit.

Tuissorg:

✓Dit is belangrik om te ontspan en na jouself te kyk, veral omdat aknee grotendeels deur stres veroorsaak word.

✓Eet minder rooivleis en kos soos pekeluie wat gis bevat, omdat dit die suurvlakke in die liggaam verhoog.

✓Eet geregte wat nie te gekompliseerd is nie en uit net ’n paar bestanddele bestaan.

✓Eet meer vrugte en groente en sluit speserye soos dille, vinkel en ment, wat ’n kalmerende uitwerking op die spysverteringstelsel het, in.

✓Werk suurheid teë deur nie vrugte saam met ander kosse te eet nie.

✓Drink agt glase water per dag en sny kafeïendrankies uit.

✓Was probleemareas met flou rooibostee.

✓Neem die weefselsoute Ferrum Phos en Calc Sulph, en homeopatiese gousblom- (calendula-) tablette. Al hierdie middels bevorder ’n gesonde vel.

✓Stap elke dag flink vir 20 minute om die bloedsomloop na jou vel aan te help.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As geeneen van bogenoemde rate help nie, moet jy mediese raad kry.

5. Droë of skilfervel

Om droë of skilfervel te kan behandel moet jy eers vasstel wat dit veroorsaak. Dit kan byvoorbeeld ’n nuwe velsorgproduk, ’n verandering in jou dieet of selfs jou vitamienaanvulling wees. As jy die skuldige kan elimineer, behoort jou vel te verbeter.

Tuissorg:

✓Gebruik plantolies wat ryk is aan omega 3-vetsure en eet kos soos dadels, avokado’s, neute en sade wat ryk is daaraan.

✓Voeg ’n pot rooibostee by jou badwater en wend koel rooibostee direk op die aangetaste areas aan.

✓Wend hipoallergeniese olie of room wat met vitamien E verryk is aan op die areas.

✓Neem homeopatiese gousblom- (calendula-) tablette drie keer per dag en wend calendula-room aan areas wat kwaai jeuk.

Raadpleeg jou vroedvrou of dokter:

As jy sleg voel of geeneen van hierdie rate help nie, moet jy mediese raad kry.

VEILIGE SKOONHEIDSPRODUKTE

Sommige chemiese middels in lyf- en gesigrome kan skadelik wees vir jou baba. Dit is belangrik om die etiket op elke produk te lees en seker te maak dat dit veilig is voor jy begin om dit te gebruik. Wees bedag op produkte wat dié bestanddele bevat en vermy hulle in die reël:

•Salisielsuur Dit word aangetref in ’n verskeidenheid reinigers, verfrissers, afskilferaars en chemiese afskilfermiddels. Dit staan ook bekend as betahidroksisuur of BHA.

•Retinoïede Dit word aangetref in teenveroudering-vogrome en weefselolie. Retinoïede wat in pilvorm geneem word, veroorsaak ernstige geboortedefekte en dit sal wys wees om ook rome waarin dit voorkom te vermy. Dit word ook Retin A, retinoësuur en tazarotene genoem.

•Ftalate Dit word gebruik om produkte “sagter” te maak en kom voor in talle produkte, van velsorgmiddels tot plastiek en kosverpakking. Daar word dikwels bloot na verwys as “fragrance”, wat dit uiters moeilik maak om ftalate geheel en al te vermy. Doen nogtans jou bes om jou blootstelling tot die minimum te beperk.

Terwyl jy swanger is moet jy skoonheidsbehandelings met groot omsigtigheid gebruik. Die volgende kan almal moontlik skadelik wees:

•Chemiese bleiking of afskilfering Die chemikalieë wat gebruik word hou gevaar in vir ongebore babas. Indien jy chloasma het, sal velsorgprodukte met ’n sojabasis dit net vererger.

•Wasbehandeling Dit is veilig, maar besoek liefs ’n betroubare salon en sorg dat die skoonheidsterapeut weet dat jy swanger is. Wasbehandelings is pynliker wanneer jy swanger is omdat meer bloed in dié tyd na jou vel vloei. Dit geld veral vir ’n bikini- of Brasiliaanse wasbehandeling.

•Sonbruin ’n Bietjie son is goed vir jou, maar sorg dat jy nie sonbrand kry nie en moenie op die warmste tyd van die dag in die son sit nie. Jou baarmoeder kan oorverhit. Moet onder geen omstandighede ’n sonbed gebruik nie en bly ook weg van sonbruinrome en -sproeie wat chemikalieë bevat wat nadelig vir jou baba kan wees.

•Haarkleurmiddels en -behandelings Die meeste salonprodukte is veilig as dit net af en toe gebruik word. Besoek ’n goeie salon en maak seker dat die stilis weet dat jy swanger is.

•Manikure en pedikure Naellak kan tolueen, dibutielftalaat en formaldehied bevat wat almal gevaarlik is vir babas. Moenie jou naels in die eerste trimester verf nie en kies daarna naellak wat nie hierdie chemikalieë bevat nie.

Omvattende swangersap-, geboorte- en ouerskapgids

Подняться наверх