Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 10
New York, September 2007
ОглавлениеOunooi: wat ’n verrassing
dat jy vir die eerste keer sedert al die jare
hier in die vreemde
kom besoek aflê
terug in die boonste donker kamer
van daardie ouhuis
waar wind soms in die luike fluit
en die vloerplanke kraak
onder tyd se tred
en die hitte somers swaar en wit
soos ’n broeis hemel die aarde versmoor
nou kan jy my dogter
wat jy nooit ontmoet het
nooi na jou vertrek
sodat sy oplaas haar grootmoeder
met ’n snikkende ‘goeie rus’ mag begroet –
uit die skemer hoor ek die gefluister
van oumatjie-raad
die sagte geskinder oor ’n ewigheid
jy sal ontuis wees in hierdie miernes
van mense en motors
waar jy my kom kry, Oumens
jy sal huiwer om die straat oor te steek
en verdwaal in supermarkte van spieëls en rook –
of is alle aarde en ruimte nou aan jou bekend
en wat is my naam?
tog wil ek dit vir jou wys –
die dartelende helikopters
die torings met in duiselende dakverdiepings
hoerhuise vir engele
en hoe met die oorgang na herfs
die newel van die heuwels rol
om as ondeursigtige grys gewig
te beweeg oor die rivier
ek is tevrede in die vreemde, Ounooi
noudat ek weer van jou kon weet
in die boonste kamer
aan die einde van die gang
waar jy op die bed uitgelê
nog staar na die eindeloosheid
van voëls en son anderkant die plafon
en in die weeg-beweging
tussen hand en papier
jou liewe gesig hier
iewers sigbaar kon bly in die gedig