Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 17

berig, 16 September 2008. New York

Оглавление

In die park wuif wind plataanbome se kruine

met ’n laaste versugting van kolkende orkane

wat oor watervoos stede aan die Golf geswiep het

sodat slegs dryfhout en rotte en slym oorbly

In beeldradiofuike spartelspuit hol politiekers

verrotte formules en suwwe towerspreuke

en die gepeupel jubel soos stadige gekke

Op Union Square se plaasmark lê stapels boerpampoene

waar son haar versoen met die seisoen van sterwe

in geboepte spieëls. So flikker en flikflooi die verganklike

naderhand op die tong

Jy sal hoed begin dra

as beskerming teen die besoedeling

van berigte van bloed

en verskroeide engele wat pluim

en plons uit die bloute van onse hemel,

om jou oë te verweer teen die vlekke

van militêre vuurvliegtuie se blits en gloed

Maar wanneer die donker bedompig dog broos

spoel teen die hekke van strate

en nag die geloei van vuurwaens vul

wéét jy: as jy maar op die daknok kon klouter

hoër as die platane se mompelwind

Sal jy skrylings as vors die hoed kan lig

voor die gat bo hierdie megapool

waar Verhoeder en Behoeder en ander velerlei

moederbeelde soos ploegskare glinster en skuur

om die niet te skeur. Binnekort

dool gedagtes diep tussen berge en riviere

en hoor jy die bewussyn versamel en gedeel

deur al die dooie ekke

Stuur dan hiermee hierdie oomblik van self:

hoe ontvou dit, bly ontvou die aanhoudende gewelf!

Die beginsel van stof

Подняться наверх