Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 21
weglêbrief vir gedig
ОглавлениеLiewe gedig, bly by my.
Moet my nie nou so na aan die einde
in die steek laat nie. Ons kom al baie stories saam
oor jare en getye, deur lande en landskappe en liefdes
en geheime kamers waar galge getroon het,
van die een masker na die ander
apestreek of apostroof of begrafnis. Wie ken my beter?
Ek het jou nie altyd goed behandel nie,
het jou misbruik, met jou gehoer, jou selfs
soos ’n wafferse Petrus verraai as sentimentele swakte
of iets wat mens onder die mantel vir vegters in die berge fluister
nog voor die haan ’n derde keelskoonmaak kraai.
Tog het ek jou eintlik nooit versaak nie.
Ek het gesien hoe hard jy probeer
om my voorhoede te wees en my agterhoede
van angs en ekstase te dek, hoe dikwels jy
verskoning vir my moes maak.
En nou is jy mondig – of doodgewoon gatvol?
Nou kan jy kammalie op jou eie sonder my leef.
Maar vertoef nog ’n wyle. Hou my hand vas
en lei my nou ek al hoe minder weet of kan sien
om die woorde soos skaars kleingeld af te tel.
Kom ons maak ons hou nog van mekaar
en reis die laaste lettergrepe saam
tot waar ek jou uit die hand kan laat loop
na die dood van die tong.
O, ons kon verder gegaan het, ek gee jou dit
toe, tot aan die grense van oorgang
waar ek te bang was om jou, my gidsklong, te verloor.
Onthou jy nog ons verre ontdekkings
in donker treine deur die nag, klik-klak,
en die drome wat ek jou aangegee het,
om voordag te ontwaak en hongerig
deur die venster te kyk op nuwe landskappe
van regoplê-berge waar ánder wilde gedigte woon –
wat maak die mense daar?
Jy is die enigste een wat ek ooit toegelaat het
in die intieme verloorplekke, om sáám met my
en die geliefde onder die laken te lê
met jou voete soos skurwe metafore.
En nou is ons oud. Ek soek jou, roep bokkie-bokkie
op die werf, blaai deur verflarde notaboekies
om te kyk of jy dalk ’n boodskap gelos het
(jy het altyd te veel los gedagtes gehad).
Maar jy is soek. Jy wil jou tog nie wréék nie?
Wanneer ek wakker word uit die nag het jy
’n leë vel papier vir my gelos.
Oor die werktafel kyk jy stom na my.
Wat wil jy sê?
Dat dit verby is? Ek te oud en vol vlekke?
Dat ek ons gedagtes nie meer kon beskerm,
die praatklier nie meer in jou wou steek,
en jy verkies om soos ’n ondier in die bos te bly
om te sing en te dans van vergete gode?
Maak my dan liewer dood voor jy gaan.
Bly my by.
Sny my keel-af as sluitreël!