Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 25

die voor-gedig

Оглавление

ek sou vir jou ’n sprankelnuwe Mercedes

met wieldoppe van chroom

kon gee vir jou geboortedag –

maar dan sou die dorp se mense mos sê:

“kyk nou net hoe windgat is Koesee,

waar sou hy die geld gesteel het?”

het dit wel oorweeg om ’n wit hings te bring

met silwer beslaande stiebeuels en saal

sodat jy Saterdagaande oor die meent kan galop

wanneer sterrewinde fladdervlag bo Sneeukop

(“so tik ek hom met die handsambok . . .”)

maar wat weet jy van diere voer?

die perd sou vrek met opgeblaasde pens

en die buurt bestink tot in die spens

toe dog ek wat van kraaknuwe skoene

van dié wat die hemel swart laat blink?

maar dan sou jy van kerk tot kerk wou Sondag

en die gemeente se siele versondig

in hulle gebedel om verlossing

op die nipper het ek jou amper ’n ingewyde maagd aangebied

’n mollige blondine met skraps ondergoete van kant

en ’n moesie in die kruis –

maar jy sou die arme mens flinters verniel het

en dan was ék die koppelaar skillig aan mishandeling

opsie wyn was buite die kwessie

siende jy so vals sing wanneer jou gat stamp

en bowendien jou hemp ook beproes,

en van boeke het jy en die vismotte tog al genoeg

toe soek ek ’n eerlike politikus as handlanger

om op afdae die slakke in die agtertuin

bokland toe te help –

maar hulle was almal uitverkoop

wat sou dan ’n geskikte present wees

om die oudagkoms van my tjom te vier?

’n gedetailleerde kaart van Lapland dalk?

maar takbokke vertrap mens glo

as jy daar sou pis in die sneeu –

of ’n plastiekkabouter om dambord

mee te speel?

kén jy ooit dambord se reëls?

nee, daarom skryf ek maar vir jou hierdie gedig

sodat jy jou eie papier saam kan vat

as spaarsamigheidsdaad van intellektuele gewig

en voorkoming van ’n verlies aan gesig

wanneer jy weer by die keffie vis en tjips gaan koop

Die beginsel van stof

Подняться наверх