Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 20

1 Januarie 2010

Оглавление

wanneer dit lig word

en die son ’n skip in vlamme

oor die watereinder styg

is die hele eiland klip.

hoog in die hemel hang die harmattan

met roet en stof

van ’n dorre binneland

se distansies wat vergeet het van tyd

maar hier is dit stil. in die nag

het klappers ontplof

met die donker klank van dooie rotte

in ’n droë put gegooi

luister weer hoe stil is die lig

wat kleur aansteek oor vullishope,

oor verskimmelde mure,

oor die kraai met die borslap

op die moskee se dak,

oor die klopkeel akkedis met die kerfie

skaduwee, die uitgespoelde vis met die uitpeuloog,

die bok, die hond, die vlieg, die wou.

wanneer dit lig word

besluit jy om te lewe,

om die nuwe jaar met ’n gedig

te begroet: maar ook te wéét

die offerande van bok, hond, vlieg en wou

soos ook ander woorde wat jy nou onthou –

liefde, genade, leefsterwe en rou –

se gewig is minder as wind se gesig

Die beginsel van stof

Подняться наверх