Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 22

loopdop

Оглавление

die vaatjie is net groot genoeg

vir twee bottels rou whisky

maar gesout onderleë in die stadige

kuns van veroudering

al suip die hout omtrent

’n derde van die kosbare vog

proe ’n jaar later hoe puur

is die drank op die tong

so gewyd soos die heer se genade

wanneer die hand die dag te bewerig is

en die oog te dik geblink

om die bottels nog tong-sekuur

deur die klein gaatjie bo-op die vaatjie

te kan stuur en skink

– soos om te kyk in nag se oog –

wéét ek oplaas

dat ek geen dooie woord ooit

weer hoef te skryf of bedink nie

Die beginsel van stof

Подняться наверх