Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 13

22-12-07

Оглавление

(Vir Hans ten Berge)

winter en blou

voor die swaar hek van die Luxembourgtuin

verkoop ’n sigeunervrou met lang swart vingernaels

stomende kastaiings in kardoesies

kyk op

hoog die silwer vaandel

wasemstreep agter ’n spuitvliegtuig

kyk op, kyk op

in die diepte wat verbeelding

te bowe gaan

in die doodgaan van die nag

dieper as die geboortevlies van die Melkweg

’n seweduisend ligjare weg van Urd

waar dit glinsterend en galmend is

op die Berge van Skepping

in die skitterbeeld Kassiopeia

waar in ’n spiraalkolk van baring

die newel opbreek in fragmente

om pad te gee onder hul eie gewig

te verskiet te begin skyn

met die lewensgeheime van kool- en suurstof in die hart

kyk op, kyk op

ons blou en silwerige planeet

soos ’n eensame baringsvrug van ondenkbaarheid

in ’n wiegie asem

siembamba siembamba

in die doodgaan van die nag

waar dit glinsterend en galmend is

so ver van die see

loop meeue met klinkerende naels

oor die bevrore oppervlak

dik soos ’n blinde bril

van die dammetjie in die Luxembourgtuin

Die beginsel van stof

Подняться наверх