Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 15

Arles

Оглавление

in Arles om twaalf is die son

’n pendoring in die oog

skaduwees loop orent al langs die mure

van steë gekronkel en gekrom om die koue asem

van die mistral te mislei

en hoog bo die kerk se koepel

baldaad swaels komplekse arabeske

om nie aan die pen te ry

nie net weggooiwoorde te wees

oor die blou baldakyn van papier nie

in Arles staan die digter op die binneste plein

gegiet in brons geleun op sy stok

met ’n breërandhoed op die kop

en staar na waar agter blinde mure

die banier-bruin rivier Rhône

barke vol rys stroomop vervoer

die donker hotel se voorportaal

is swaar van wit doodslelies se geur

en teen die mure glim portrette

van jong matadors wat hier in donker kamers

by kerse voor die altaar vir die maagd

die kleed van lig aangetrek het

want in Arles verblind die wind jou oë

en die arena se klipplaveie

is met bloed bevlek

met laatnag wanneer sterre deur die gitblou

geskeurde hemel akrobaat

en sigeuners op die oorkantse oewer

sing van stiergevegte en harlekyne en die hart

ontbloot ’n blonde vrou haar borste

by die lig van Van Gogh se geel Café la Nuit

op die binneste plein

en die brons drilvlees van die digter

se wange bewe

die maan is ’n skommelende dooie boot

wat baniere lig vervoer het

swart bulle bulk uit die vleie

sonbesies is weggooiwoorde van die lewe

in Arles het die katlagter jou hart aan die doring geryg

Die beginsel van stof

Подняться наверх