Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 16

die metafoor as skepper van betekenis

Оглавление

ek gee my ma die skuld:

deur geboorte aan my te verleen

het sy my uitgelewer aan die dood

vir my pa was dit slegs

’n onbesonne daad: in die paringsritueel

wat tot ’n stolstorting moes verstyf

was hy die komeet met te veel

kosmiese saad in die stert

en van meet af

lig die dood op loer in my lyf

soos ’n skaduwee van beweging

wat die maan skyf vir skyf verorber

en uitspoeg as donker klip

ek gee my ma die skuld:

sy was die skip waarin ek

soos ’n onwettige immigrant

die grens wou oorskry

na die paradys

net soos die maan bly soek

soek na die gewig van water

as voortbestaan van sinneloosheid

in die nag vervloek ek kom en waan

die gedig van afgryse wat gaan van lip

na oorskryfvinger oor ’n see van papier

gevaarwater soos die skadustreep

van ’n verskote komeet:

en weet my pa was die woorde

maar my ma die mond:

sy kon tog die stingel

in die wond geknik het!

ek gee my ma die skuld en die skedel

wanneer ek oor die reëls en die reling leun

om weer ’n flonkerwit rimpeling

van haar immer ontwykende gesig te sien

dobber in die boot se blou afbeelding

Die beginsel van stof

Подняться наверх