Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 14
die onvoltooide vers
Оглавлениеheeldag ry hulle deur landskappe oop
soos ’n gemoed waar spoed geen verskil maak nie
teen die einder altyd ’n bergreeks uitgeknip
soms ’n vaal gordyn verlate/gelate want wat agter is
kan net dieselfde wees dan weer ruig soos ’n blou wolk
of potsierlik net nog ’n brok in die collage
van afstand en aanwesigheid
heeldag bekruip hulle die begrip ‘berg’
opberg/verberg/bergenis
deur wingerde, verby perde en koeie
langs arm boerderytjies waar klere soos vlae van identiteit
verslete aan drade wapper
lyke, lyke die stank van onthou
heeldag ry hulle deur landskappe met die goeie bedoeling
om die reis sinbaar te maak, en daarom versinbaar
en singmatig
en wat gesing word moet jy kan dans
met versengende hittegolwe ’n dynserigheid
totdat dit aand skep naby ’n see so glinsterend
versilwer soos satyn of ’n gelakte spieël waar lig versuip
lyke, lyke die stank van onthou
om hierdie land uit die geheue te verban
in die donker kantel swaels hulle arabeske in die donker
kom daar sterre ’n flonkerende lafenis
lyke, lyke, lyke