Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 18
die guns
ОглавлениеO Here, wanneer jy weer hierlangs verbykom –
dink aan oom Martin, aan Daantjie, aan my ma …
Maak hulle wakker sodat hulle nog net één keer
mag sien hoe wonderbaarlik is hierdie wêreld,
nog één keer opgewonde soos perde op stal
die vars oggendlug van oneindigheid mag ruik
Oukei, ek weet, ek weet ons het alles opgefok –
maar o Here, skud die stof uit hulle beendere
sodat hulle nog net één keer mag hoor hoe jubel
die nagtegaal in die kloof, mag sien – nee voel
hoe bloos ons aarde soos ’n ryperwordende appelkoos
wat wangdraai ooste toe as die nag haar onttrek
Moenie snoep wees nie, o Here – gee, géé
vir oom Martin, vir Daantjie, vir my ma en al die geslagte
dooies één oogknip se onthou in hierdie benoude
ewigheid van verdwyning, opdat ons almal
onder die kors vergetelheid vir ’n stonde in die tombe
weer die bons van lewe vir jou onthalwe mag deel.