Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 24
al die gewig van woorde
Оглавлениеdie man loop deur die land
met onder ’n doek aan sy hand
iets wat lyk soos ’n kou:
hy sê dit is die wêreld
af en toe teen die aand se kant
gaan sit hy waar die wind nog brand
en dan is dit asof iets roer
en roekoer soos ’n sinkende son
onder die kleed
eendag het hy oplaas gestrand
teen die laaste skuinste van die labirint
waar boerinne en hul knegte
in kronkelende hangende tuine hand
in die hare staan en huil,
en die doek afgehaal
o god daar was ’n see en berge en sand
en bosse en stede van miljoene
krioelende mense met voetspore
en lyke in die beddens
en rook wat uit krematoriumskoorstene vlieg –
mens moet ’n gedig nooit te lank laat word nie