Читать книгу Die beginsel van stof - Breyten Breytenbach - Страница 11
liefling, taal
Оглавлениеliefling, ek skryf vir jou in hierdie taal
want ek kan my nie daarvan loswoord nie.
dis ’n grusame ervaring
om in die grafte van voorouers te krap.
ek skaam my
hierdie taal, liefling
verdwyn in die mond as die laaste smaak
van die klippie wat ons gesuig het teen die dors,
verdwyn omdat dit in die mond
van besoedelde witmense was
al het dit ook iets van ’n heelal getong
met skamel woorde
wil ek nog ’n laaste keer ons liefde besing
van mond tot wond tot genadelose grond.
ek skaam my dat ek my nou daarvoor moet skaam
die mond is te geheim om pyn nie te voel nie.
ek sal die graf oopkrap
en die klippie tussen jou dye begrawe
en die laaste spoegie speeksel sluk.
die dood is om nooit weer dors te word nie,
my liefling taal