Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 10

— Rouklaers sal op die straat rondgaan —

Оглавление

Aga en Jesse staan teen die verste muur geleun. Aga vat Jesse se hand en hulle skuif stadig met hul rûe teen die muur af tot hul sitvlakke plankvloer voel. Dit kan ’n lang nag word. Aga loer na haar horlosie. Dis drie-uur. Die nonnekoor sing nog. Josias het die kers weer aangesteek. Groteske skadu’s skuif oor die muur, skadupoppe van die wiegende koorlede. Aga se kop sak stadig tot op Jess se skouer. Haar oë gaan toe.

Sy ruk wakker. Dit reën nog. ’n Dun vinger daglig tas deur ’n opening in die gordyne. ’n Malse voëlkoor ding met die non­ne­koor mee. Daar is ’n klop aan die buitedeur. Josias gaan maak oop.

Aga wonder of sy ’n toeval gehad en aan die ander kant van die spieël beland het. Alles is onwerklik; ’n periodefliek in halflig. ’n Lang ry swartgeklede wit mans stap die vertrek in enkelgelid binne. Soos Josias is hulle bebaard en behoed. Hulle gaan staan in ’n halfmaan om die kis. Daarna marsjeer ’n statige ry wit vroue, ook in enkelgelid, die vertrek binne. Hulle dra lang swart rokke, kappies (sowaar!) en dienlike stewels, effens bemodderd. Hulle vorm ’n tweede halfmaan, aan die ander kant van die kis. Dit herinner aan ’n fries by die Voortrekkermonument of ’n stokou kollektiewe nagmerrie. Slaap sy nog?

Aan die een punt van die halfmaan kyk die kleinste, oudste vroutjie, krom soos ’n haakspeld, stadig op na hulle. Haar oë is rooi, sy klem ’n mansakdoek vas. Haar blik val op Jesse en sy snak na haar asem: “Johanna!” gil sy. Sy vou by die middellyf dubbel en knipmes vloer toe. Twee van die ander vroue kry haar onder die arms beet en hou haar regop. Sy hang slap, ’n voëlverskrikker, ’n marionet in ’n lang swart rok.

Jesse lig haar kop by die aanhoor van die ou vroutjie se stem. Sy ruk. “OUMIE!”

Een van die mans, met ’n lang, yl wit baard, staan nader. “Hy wat heen is het alle kontak met die afvalliges ten strengste verbied. Johanna is van die teenswoordige wêreld, in sonde ontvang en gebore. Buite die raadsplan. Onrein. Sy hoort nie in die binnekring tuis nie.”

Hy tel die Oumie-lappop op en dra haar dieper die huis in. Aga vat Jesse se hand, fluister soos ’n kommentator: “Jou ouma het flou geword. ’n Volgeling het haar weggedra. Toemaar, ons sal ’n manier kry om haar te sien. Johanna?”

Wenkbrou

Подняться наверх