Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 9

— Die smeltkroes van ellende —

Оглавление

“Ons kan die sleutel nie vind nie, Keneuoe. Staan opsy, staan ver terug, Josias gaan die deur uit die aarde loop. Die kalf is in die put.”

Jesse gaan sit langs Aga op die bed. Daar is drie slae met ’n swaar voorwerp, dan knars die soliede kosyn. Die deur word oopgebeur. Op die drumpel, omlyn deur die lig van ’n lamp, staan ’n swart man in ’n swart pak, wit hemp tot by die adamsappel toegeknoop, swart hoed. Hy het ’n yl wit baard, soos kouewater-Omo-skuim. Blinkswart skerppuntskoene. Gas­lantern in die hand.

“Keneuoe, dis ek. Josias. Julle is welkom, ook die vreemdeling in ons poorte. Jammer oor die deur, maar dis wêreldsgoed.”

Hy en Jesse skud plegtig hand. Hy takseer haar. “Dit is jy. Waar is die jare heen? Ons het verneem van jou oë. En arm. Kom na bowe, maar trap liggies. Daar is dood in die huis.”

Hulle stap agter hom aan met die trappe op, Jesse se hand op Aga se skouer. Aan die bopunt van die trap is ’n toe deur. Hul gids sit die lantern versigtig neer en knip dit dood. In die donker verduidelik hy eerbiedig: “Geen gaslig by die dodewaak nie.”

Aan die ander kant van die deur is ’n groot, leë vertrek met donker houtvloere. Die swaar gordyne is diggetrek en laat geen maanlig deur nie. In die middel van die vloer staan ’n enkele kers op ’n growwe houtkis. Die kis is genadiglik toe. Aga fluister teen Jesse se oor: “Leë vertrek, kis in middel van vloer. Toe. Een kers. Sêsis.”

Teen die muur staan hulle in formasie gerangskik. Hulle lyk soos ’n ry rawe, ’n koor uit die Middeleeue of die Russiese Orto­dokse Kerk, of iets veraf en vreemd. Hulle is van kop tot toon geklee in lang swart gewade. Hulle dra swart hoofbedekkings met spits kappe. Hulle sing. Asembenemend:

Oh mohau wa modimo, ke koetsa e kakaang

E ka ba o fe molomo, o ka o bolelang?

Na e sa le, o mphihlela, ke maketse feela

Na e sa le, o mphihlela, ke maketse feela

Jesse vertaal teen Aga se oor: “God se genade is ’n skat, dis­ dieper as die diepste waters, sedert ek dit gevind het, is ek verstom, is ek verstom. My ma het dit ook gesing.”

Josias haal sy hoed af en druk dit teen sy bors.

Die kers flakker, gooi die handdoek in.

Modimo o n’o mphumane, tseleng ea tahleho

Tsa lefatse di ntahile, ke fedile kutlo,

Ke pheela, ke mathela, bosaoana feela

Ke pheela, ke mathela, bosaoana feela.

… kweel die engelekoor in die donker. Buite knal donderweer en ’n bliksemstraal verlig die vensters agter die gordyne vir ’n spookagtige oomblik.

Wenkbrou

Подняться наверх