Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 13

— Die tafel voor my aangesig —

Оглавление

Aga en Jess is skoongeskrop en van kop tot toon in swart ge­klee. En rasend honger. Daar is geen spieëls nie, dus is Aga die gesig gespaar van haarself; ’n mal kroeskop-professor in ’n toga. Die gewade is hopeloos te wyd vir hulle, maar kort in die lyf, sodat daar ’n spleet spierwit been tussen soom en swart sokke uitsteek. Jesse slaag nogtans daarin om grasieus te lyk met haar sagte goudbruin krulle en nadenkende voorkop bo die statige gewaad.

Hulle suiker die gang af in gebreide sokkies. Hul stewels moet eers buite die kombuisdeur ontmodder word.

In die eetkamer, ’n spieëlbeeld van die ingangsportaal, maar aan die verste punt van die huis, is net ’n lang houttafel met bankies weerskante en een majestueuse stoel aan die punt. Die stoel is leeg. Die Susters sit reeds, ’n houtbord voor elk. Hulle staan op toe Aga en Jesse instap en Suster Rut stel die nonne op die ry af aan hulle voor.

Toe hulle gaan sit, begin Suster Rut inskep en aanstuur, in­skep en aanstuur. Elkeen kry dieselfde ruim porsie: pap en ’n soort spinasie. “Ons is ’n vegetariese orde,” verduidelik Suster Rut. “Vermy die verlokkinge van die vlees. Dis ’n manneding, die ewige dors na bloed. Liewer ’n porsie groente waar liefde by is, as ’n vetgevoerde bees en haat daarby.”

“Die Herder …” begin Aga, en in die halfdonker eetkamer plons haar woorde soos ’n vet seun in ’n stil swembad, met ’n allemintige, skokkende plas. Elf pare verskrikte oë rus op haar. Jesse lê ’n hand op haar gewrig: “Hulle spreek nie die naam van oorledenes uit nie, nie in die eerste paar dae nie, Aga.”

Die nonne kyk weer af en begin eet, netjies, met die hand. Daar is geen seën of tafelgebed uitgespreek nie. Daar is geen geklets aan tafel nie. Net ’n uniforme afbuig van bedekte hoof­de, hande wat van bord na mond beweeg, soos een non se weer­kaatsing in ’n kamer vol spieëls.

Toe die laaste bord leeg is, kom Suster Rut regop, draai na hulle en sê: “Keneuoe. Ek wis jy wil Moeder Motle spreek; dit is waarom julle meegekom het. Sy is helaas verswak vandag. Moontlik môre.”

En net daar, in die halfdonker eetkamer, sien Aga hoe Jesse haarself bymekaarmaak en besluit om die bul by die horings te pak. Die bom te laat bars. Sy lig haar hand soos iemand wat ’n spreekbeurt verlang en sê helder en duidelik: “Dis te verstane dat Moeder Motle nie wel is nie, Suster Rut. Vandag is die dag waarop hulle haar seun graf toe gedra het.”

Daar is drie tellings doodse stilte, dan begin die Susters in Sesotho babbel, hoog en histeries. Suster Rut kry vir Jesse aan die arm beet. “Keneuoe. En Agathe. Kom spreek my onmiddellik in my kantoor. Sonder verwyl.”

Haar stem ysig soos die winterwind oor die Vrystaatse vlak.

Wenkbrou

Подняться наверх