Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 11

— Dood, waar is jou angel? —

Оглавление

Die oggend is nat en grou. Aga en Jesse stap agter die begrafnisstoet aan, op ’n versigtige afstand. Voor stap die broeders. Ses van hulle dra die kis op hul skouers, die res volg in enkelgelid. Dan volg die Susters, snikkend. Die Sêsi-nonne vorm ’n waardige agterhoede, steeds singend. Die heel agterste non tokkel ’n trekklavier, blaai hom oop, laat hom hyg en weeklaag teen haar ruim buik. Die hele toneel los op in sagte reën. Die plaashuis sit op ’n rant; die vensters kyk uit oor mistige valleie. Aan en aan stap hulle deur die motreën. Dis eendeweer; universele begrafnisweer. As dit ’n kunsfilm was, sou Aga die regisseur beskuldig van ’n swaar hand, van leun op geykte clichés. Dis mistroostig soos die einde van die wêreld. Die toneel is swart-wit met spatsels groen: die grasvelde. Reëndruppels klou aan haar wimpers vas. Sy wens amper vir die beskerming van ’n kappie.

Toe hulle naby die oop gat op die skouer van die heuwel kom, steek een van die swartkraaibroeders viervoet vas. Hy wys met bewende voorvinger na hulle: “Trek nie in dieselfde juk met die ongelowige nie. Die Susters is onrein, wêrelds. Hulle hoort nie in ons midde nie. Dis ’n heilige dag.” Sy stem is te­merig, sy baard lig in die nat windjie; spookasem.

Suster Rut stap tot by hom, plant haar groot lyf voor hom. “Keneuoe bly in ons midde. Dis die volheid van die tyd. Sy is gestuur. Dis haar bloed.” Ysere gesag in haar welluidende stem. Die broeder draai om, stap druipstert weg.

Die onafgewerkte kis word sonder seremonie in die gat gegooi en ’n paar arbeiders steek grawe in ’n hoop los grond. Kluite klap en die werkers neurie. Nie ’n woord word gespreek nie. Die broeders en susters stap stadig weg terwyl die Sêsi agterbly en sing. Die trekklavier dawer nou amper triomfantelik, ’n mars. Voorwaarts in die stryd. Aga en Jess bly ook agter. Dis duidelik waar hulle moontlik ’n aks welkom is.

Suster Rut kom vat Jesse aan die hand.

“Dis volbring, Keneuoe. Die mens – soos die gras is sy dae. As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie. Ons is leierloos, skape sonder ’n herder. Julle kom aanstons saam met ons kliphuis toe. Dis veel meer as ’n hanetreetjie hiervandaan, weliswaar ’n stewige staptog.”

Wenkbrou

Подняться наверх