Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 20

— Want my gebeente is verskrik —

Оглавление

Hulle stryk aan, hulle stryk aan. Rebekka is ’n absolute GPS, sy weet presies watter voetpaadjie om te kies. Sy is klein en rats, met nie ’n ons oortollige vet aan haar vietse skelet nie. Haar oë is groot en wyd, vol ontsag en ontsetting. Sy lag maklik. Sy het ’n goeie begrip wat minder as ’n halwe woord benodig. “Julle wil allereers Katdoorn toe, om jou oumatjie te raadpleeg, nie waar nie, Keneuoe?”

Met die son in die middel van die hemel gaan hulle sit. Hulle knoop die vadoek oop en breek die brood. Kaïn het ’n paar skerpioene onder ’n klip verras en kou sappig en met groot smaak daaraan, terwyl hy hulle op en af kyk met ’n uitdrukking van: “Wat’s jou probleem?” Hy herinner Aga aan die voormalige Jeugligaleier Julius Malema; iets in die vanselfsprekende toe-eiening, as daar wel so ’n woord bestaan. Tortelduiwe koer oorverdowend. Hoe ver moet hulle nog gaan?

Dis namiddag. Aga herken die landskap. Hulle is weer op Kat­doornvlei, die erfplaas. Die werf lyk verlate en effens ver­waarloos. Hulle vermy die hoofopstal met sy versonke ron­dawel waarmee hulle heeltemal te goed vertroud is. Agter, onder die bloekoms, is ’n kleiner opstal, netjies afgewit. Die skaduwees is al lank. Rebekka klop nie, maar uiter ’n skril fluit. Na ’n hele paar minute verskyn Oumie se kappiekop bo die onderdeur. Sy leun op die deur, krom soos ’n vraagteken, amper deursigtig in die agtermiddagson. “My kinders. Kom terstond binne. Julle is seer welkom. Soet is die lig, en goed is dit vir die oë om die son te aanskou. Net die abjater betree nie my drumpel nie. Die Skrif sê die honde en towenaars sal buite bly.”

“Die wagbobbejaan bly altoos buite, Oumatjie,” verduidelik Rebekka geduldig.

Oumie se voorkamer dateer uit die vorige eeu, nee, die een daarvóór. Wakis, houtvloer, kerse, riempiesmeubels. Ontdaan van versiering, geen gehekelde tafellappie of armleuningdoilie in sig nie, geen geraamde tapisserieë of uitgeborduurde Bybelverse teen die wit mure nie. Dienlike gordyne sonder motief of kleur, soos Oumie se kleredrag. Onder haar kappie hang ’n lang sil­wer vlegsel uit, tot op die heup. Sy loop moeisaam, met ’n kierie. Sy het wel hulp: “Consolashooooeeeen!” gil sy oor haar skouer. “Kom skenk vir ons tee-hee.”

Consolation, in wit kappie en voorskoot, die ene glimlag, kom groet en bring tee. Bossiestee. Koffie is boos, onthou Aga; ’n gevaarlike stimulant. Suiker ook. Daar is darem vars room. Hulle sluk dorstig aan die warm bruin vloeistof.

Oumie lyk bleek en uitgeput. Sy val met die deur in die huis, soos iemand wat min tyd het: “Ek wis van jul soektog. Julle moet julle haas om die seun se ma op te spoor, die verloopte Fumane. Haar wat heen is se grootmaakkind. Om lig te werp op die duister saak.”

Oumie benodig weer die dienste van ’n groot wit sakdoek. “Ek is reg om te gaan, na my suster. Oor hom, Herder, die eerste, het ek geen enkele traan gestort nie. Oor die laaste Herder, haar seun, wel ’n paar trane. Ons het saam grootgemaak aan hom, tot sy vort is na die Ongeskonde Susters.

“Sy het nou heengegaan om vir my ’n plek te berei, die roos van my hart. Soos ’n narsing van Saron, ’n lelie van die dale, goud van Ofir, topaas van Kus. Vort na ’n stad met fondamente, waarvan Hy die boumeester en oprigter is. In hierdie dal der doodskadu het daar vir my weinig oorgebly. Alles tevergeefs, ’n gejaag na wind, seg die Prediker.

“Maar dit was ’n blye dag om jou weer te aanskou, my Ra­gel­tjie se kind. Hoewel liederlik verniel deur die wêreld, ’n ge­knakte riet, my stomme kind.”

’n Hoesbui oorval haar en Consolation help haar regop. “Oumatjie moet eers gaan lê. Ek wys julle kamers.”

Wenkbrou

Подняться наверх