Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 19

— Soos ’n leeu in sy lêplek —

Оглавление

Aga en Jesse staan in die ingangsportaal voor Suster Rut. Soos skuldige skoliere voor ’n skoolhoof, hangskouer maar met ’n on­uitgesproke uitdaging in die houding van die heup. Hulle dra hul gewone klere, intussen gewas, en Jesse het haar rugsak op die rug. Hulle is omgord en paraat.

“Aga en ek gaan die motor by die werkershuisies haal, Suster Rut,” sê Jesse beslis. “Dis seker ’n goeie entjie se stap, maar die reën het darem opgehou.”

Suster Rut lyk glad nie ingenome met die plan nie. “Dis ’n dagreis te voet. En sou julle die spoor byster raak, Keneuoe? In meer as een opsig. Jy is die aangewesene; die gekose een. Ek durf julle nie alleen laat vortgaan nie. Ek stuur ’n gids en rigtinggewer saam.”

Haar streng oë gly oor die jonger nonne wat nuuskierig staan en toekyk. “Laat sy Rebekka kies, laat sy Rebekka kies,” prewel Aga woordeloos. Jesse, ’n meester van omgekeerde sielkunde, lig haar wysvinger. “Wat van Suster Maria, Suster Rut?”

Suster Maria is ’n gatkruiper, Suster Rut se ywerige regter­hand, vroom en emosieloos, kort en dik soos ’n petrolblik. Sus­ter Rut oorweeg dit vir ’n oomblik. “Nee, ek kan haar nie spaar in die huishouding nie. Ons lê groente in vandag en sy is ’n vlytige werker. Rebekka, maak jou gereed en ryg toe jou stapstewels. En Kaïn gaan met julle mee.”

Hulle stryk aan met ’n tuisgebakte brood in ’n vadoek en ’n kruik water, soos reisigers in sprokies. Suster Rebekka, die water­draer, lyk steeds senuagtig. Aga dink sy vermoed die uit­stappie gaan om meer as die motor. Kaïn is ’n opgeskote bobbe­jaan met agterdogtige ogies, na aan mekaar. Hy vorm die agter­hoede, min beïndruk. Hy is die soort bobbejaan wat, as hy ’n mens was, ’n grasspriet in sy kies sou gehad het, of ’n sigaret agter die oor. Doodluiters. Hy straal terloopse minagting uit, soos ’n jeugmisdadiger. So begin hul ontdekkingsreis, met nie alle bemanningslede bo verdenking nie.

Wenkbrou

Подняться наверх