Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 16

— Woorde van die wyse manne —

Оглавление

Dis die volgende oggend. Aga en Jess sit op die rantjie agter die kliphuis. Die reën het opgehou, maar die lug is nog swaar bewolk. Aga verlekker haar tot in haar tone in die reuk van nat grond en gekneusde gras. Die geur is soos ’n aanraking, ’n omhelsing. Dit streel oor haar nekhare. In hierdie selfde provinsie het sy grootgeword, in ’n sandsteendorpie by ’n ongenaakbare vrou. Tog was daar in die onherbergsame landskap van haar kinderjare ’n handvol oomblikke wat haar nou nog sterk maak: hier en daar ’n bewolkte oggend in die agtertuin wanneer ’n ligstraal deur die wolke breek en ’n onaardse groen stralekans om die struike laat opslaan.

Hulle sit skouer teen skouer. Jesse se gemoed is onstuimig soos die weer.

“Hemel, Aga. Soos my ma, die afvallige dogter van die eerste Herder, by uiterste provokasie sou sê: ‘My goeie liewe hemel en verblerriedomp.’ My lewe lank probeer ek onder die skadu van die Volgelinge uitkom en hier loop ek my vas in my twyfelagtige erfenis. Ek voel soos Henderson the Rain King, soos Kurtz in Heart of Darkness, soos ontdekkingsreisigers in ou stories – gewone, sondige mense wat deur die inheemse bevolking as gode omhels word. Klink dit rassisties? Ek voel soos ’n tydreisiger. Ek voel gatvol. Dink jy ou Moeder se kop het haar gelos? Hierdie mense maak nie grappies nie, Aga. Alles is dodelike erns. Ek’s lus en los die hele byenes net so en fokkof terug beskawing toe, soos Claude sou sê. Terug een en twintigste eeu toe.”

“En tog, Jesse. Ek kan sien; die milieu, die gebruike, die manier van praat, die ingesteldheid lui by jou ’n klokkie. Iets ouds en edels. Dit resoneer, dis bekend, dis amper geneties inge­pro­grammeer. Al het jy nie in die sekte grootgeword nie.”

“H’mmm. Ek dink die Herder – die eerste een, my oupa – het my ma eers afgeskryf toe ek al vier of so was, nie met my ouers se troue reeds nie. Iets moes later gebeur het. Ek het vae herinneringe, van Oumie, maar veral van Moeder Motle. Die gevoel van ’n sterk band. Veral die nonne, die Sêsis soos my ma hulle genoem het – met groot respek moet ek jou sê – hulle sang roer iets baie diep en primitief aan. Dit laat my voel soos ’n rot onder die geklank van die fluitspeler van Hamelin se note. Musiek was nog altyd my moedertaal.”

“Soos reuke vir my. In ’n millisekonde los die mis op en val tonele oop wat ek nie met my bewuste geheue kan bykom nie, Jess. Mense is so programmeerbaar, so fyn gedraad. Wat gaan jy vir Moeder Motle sê, wanneer sy weer helder is?”

“Ek gaan sê ek is nie gereed nie, Aga. Maar ek wil nie Moe­der Motle se oor verloor nie. Sy ken elke misterie rondom die Volgelinge, van die heel begin af. Weet jy, sy en my oupa, die eerste Herder, het saam grootgeword, op Katdoornvlei. Oumie op die buurplaas. Die visioene het hom oorval op agtien. Dit was die begin van die Volgelinge. Die Herder wat nou oorlede is, was die oudste kind. Dus was my oupa en Motle in ’n verhouding voordat hy met Oumie getroud is. Wie weet, dalk ook daarna. Moontlik tot aan die einde? Maar toe hy en Oumie getroud is – hulle was albei agtien en Motle ’n paar jaar jonger – was die kind al daar of sterk op pad. Hy het by hulle grootgeword asof hy Oumie se eie kind was, met Motle agter die skerms, in die kombuis, in die buitekamers. Dit het ek my ma en pa hoor bespreek, ’n snars hier en daar, agter die hande, deur die jare, en gister in die eetsaal het die volle prentjie skielik tot my deurgedring. Wat ek toe op die plek uitblaker. Dit verduidelik hoe die Susters so ’n gesagsposisie verkry het. Sterk vroue, swart vroue wat in ’n paternalistiese, rassistiese opset mag in die hande gekry en gehou het. ’n Vreemde opset.”

Suster Rut doem uit die mis op. Sy staan en wieg, haar arms om haarself geslaan. Daar loop ’n kraak deur haar formidabele stem. “’n Seder het geval. Ons is wees. Sy is heen. So pas. In ’n oogwenk. Sy het die aardse kleed afgeskud. Die kruik by die fontein is gebreek.”

Wenkbrou

Подняться наверх