Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 6

— Die net van die voëlvanger —

Оглавление

Hoe word twee vroue in hul laat veertigs teen hul wil in ’n on­dergrondse rondawel aangehou? Dit voel onwerklik. Aga wil ver­ontwaardiging uitgil, maar sy is slegs ’n toeskouer in ’n ver­stikkende nagmerrie.

Voordat Aga en Jesse ’n florerende reuknavorsingsinstituut ge­vestig het, was Aga ’n agterplaas- private eye. Met lastige per­soon­likheidsafwykings, vol verlammende fobies. Sommige daar­van het sy tot ’n mate oorkom, met die hulp van Jesse, en Claude, haar voormalige buurman en steeds goeie vriend. Sy is lank en benerig met groot hande en voete, haar neus enorm en krom soos ’n sekel. Sy het ’n wilde haredos, sout-en-peper kurktrekkerkrulle tot onder haar skouers. Haar pa was Boas Birkenbaum, ’n Joodse olfaktoriese genie, ook bekend as Die Neus. Kort nadat sy Jesse ontmoet het, het hulle die geheim van haar vreemde verlede ontrafel.

Jesse se verlede was ’n geslote boek. Al wat sy ooit verklap het, was dat haar idilliese vroeë kinderdae op ’n plaas haar kwalik voorberei het vir die uitdagings van die regte lewe, selfs al het sy later in Standerton grootgeword. Sy het al gepraat van ’n ouma wat naby Senekal woon, met wie sy min kontak het. Sy hét al die wens uitgespreek om terug te gaan op haar spoor, om na haar ma, wat reeds oorlede is, se mense te gaan soek.

En toe, eergister, vang ’n klein beriggie op bladsy vyf in Beeld Aga se oog en lees sy dit vir Jesse voor. ’n Jong seun, Kotsi Mokoena, van die plaas Katdoornvlei in die Senekal-omgewing, het verdwyn en is na wat vermoed word, vermoor. Mokoena se ma, wat nie kommentaar wou lewer nie, is ’n lid van ’n ge­heimsinnige sekte wat net in daardie omgewing voorkom. Be­sonderhede is nog nie beskikbaar nie.

Die beriggie het Jesse laat regop sit. “Die plaas Katdoornvlei naby Senekal in die Oos-Vrystaat behoort aan my ma se enigste broer!” sê sy. En toe vertel sy. Dis die erfplaas waarop haar ma grootgeword het in die skadu van daardie geheimsinnige sekte. Jesse was as klein kind soms daar, maar hulle het vervreemd geraak van haar ma se familie omdat haar ma met ’n buitestander, iemand van Die Wêreld, getrou het. Fumane Mokoena, die ma van die vermoorde seun wat nie kommentaar wou lewer nie, is die aangenome dogter van Motle Mokoena, moederowerste van die sogenaamde Sêsi, ’n Basotho nonne-orde in die Lekker­kerk, het Jesse kortasem vertel. Lekkerkerkers is wat buitestanders hulle noem. Hulle noem hulself die Volgelinge. Motle het saam met Jesse se ouma grootgeword.

Dié keer is dit Jesse se raaiselagtige verlede wat uit die bloute opgeduik het, dink Aga. En hier is hulle nou. Aga en Jess. Holm­es en Watson, Starsky en Hutch. Cagney en Lacey. Op die spoor. En uit die staanspoor loop alles verkeerd.

Hulle het laterig in die nag op die plaas Katdoornvlei aan­gekom. Natuurlik is hulle nie opstal toe nie. Aga het buite die grensdraad stilgehou en hulle het by die werkershuisies mense gaan opklop om navraag te doen na Mme Fumane Mokoena, Mmakotsi (ma van Kotsi). Daar was maar ’n handvol huisies, skoon en ivoorbleek in die maanlig. Die Volgelinge het min plaasarbeiders, want die hele gemeente spring glo in om te help met die boerdery, soos die Amish. Die wat daar is, is geslagte al in die familie en aan die buitewyke van die gemeente, semi-Volgelinge. Hul huise het ook nie elektrisiteit of moderne ge­riewe nie, want die teenswoordige wêreld moet ten alle koste op ’n afstand gehou word. Die Sêsi is wel volwaardige lidmate van die Volgelinge, met heelwat gesag, het Jesse vertel. Suster Motle, as sy nog leef, sal glo in ’n kliphuis op die heuwel woon, die Sêsi se imposante klooster, met streng sekuriteit.

Die Volgelinge glo nie in Telkom, Vodacom of MTN nie, maar die bostelegraaf is verstommend effektief. Binne ’n halfuur na hul aankoms, voordat hulle nog vir Fumane Mokoena onder oë kon kry, het Jesse se oom, die Herder, in ’n stofwolk stilgehou en hulle vriendelik versoek om in sy Hummer te klim. Moderne voertuie het skynbaar tog deur die net geglip. By sy donker op­stal is hulle onseremonieel met trappe af hierdie ruimte in begelei. En toegesluit.

Wenkbrou

Подняться наверх