Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 12

— Beroem jou nie op die dag van môre —

Оглавление

Aga fluister teen Jesse se nek: “Die kliphuis lyk reusagtig, Jess. Mooi soos ’n katedraal van hier af. Hoë, spits grasdak. Oppas, eerste trappie. Daar is ’n lang stel, al met die rantjie op. Geen pad vir motors sover ek kan sien nie.”

Hulle is nog steeds in ’n kunsfilm. Die lug is grys, die geel­groen grasvelde wasig. Op die boonste trappie gaan Suster Rut staan. Sy fluit deurdringend. “Sy roep die bobbejaan,” fluister Jesse. “Hulle het altyd ’n bobbejaan. Die kliphuis se brandwag.” ’n Uitgevrete bobbejaan kom waardig nadergewaggel en wys sy agterstewe in ’n groetgebaar. ’n Entjie agter hom is ’n troppie van nege. Hulle sit afgetrokke na die horison en tuur. Toe die hele groepie op die hoogte voor die kliphuis staan, beweeg die hoofbobbejaan doelgerig op Aga en Jess af. Sy stert sekel en sy geel tande is ontbloot. Dis nie ’n verwelkomende gesig nie. ’n Sagte fluit en ’n handbeweging van Suster Rut laat hom neersyg op sy sitvlak. Hy kyk anderpad. Hulle stap versigtig verby.

“Nog trappies, Jess. Sewentien. Na die voordeur. Die enigste deur, lyk dit my,” verduidelik Aga.

Hulle staan in ’n ingangsportaal. Dis skemerig. Daar is nie vensters om uit te kyk oor die veld nie, net klein venstertjies vlak onder die balke van die grasdak, hoog. Op ooghoogte, ver van die gras en hout, is holtes vir kerse uit uitstaande sandstene gekalwe, reg rondom die vertrek. Die dik geel kerse lyk handgemaak. Die plankvloer is hoog gepoleer. Dis strak en sober. Daar is geen versierings, geen blombakke, vase, muurbehangsels of matte nie.

Hulle stap deur ’n lang, nou gang. Die vloer is van klip. Dit moet ysig wees in die winter. Daar is deure aan weerskante van die gang; swaar houtdeure. Elke deur is toe. Aga verbeel haar spartaanse nonneselle agter die deure. Suster Rut kyk oor haar skouer.

“Keneuoe. Oornag julle tesame, of apart?”

“Saam, asseblief, Suster.”

Sy sluit ’n deur oop, haal dan die sleutel uit en steek dit in die binnekant van die deur. Aga maak haar reg vir ’n klein kamertjie met twee enkelbeddens. Die kamer, halfdonker, is ruim. Suster Rut trek die swaar gordyne oop. Daar is ’n dubbelbed, groot, van donker hout. Daar is ’n dubbelhangkas en voor die venster wat uitkyk op die vlakte doer onder, ’n groot lessenaar met twee stoele. In die hoek is ’n kleiner vertrekkie: toilet, stort en wasbak. En suite!

“Dis luuks, Jesse. Sonder fieterjasie of versiering, maar ruim en vol lig.”

Suster Rut maak die hangkas oop en beduie na handgestikte onderklere in die rak en twee lang swart gewade wat aan outydse skouertjies hang. “Skoon klere vir die reisigers. Ons nuttig oor ’n halfuur die noenmaal. Suster Sippora sal ’n klokkie laat klingel in die eetsaal aan die einde van die gang.” Haar stem is gewoond aan instruksies en bevele gee.

Wenkbrou

Подняться наверх