Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 5

— Die son hyg —

Оглавление

Agathe Gruber word langs Jesse wakker. Sy het miskien ’n uur geslaap. Sy is klam van die sweet – die eerste simptome van ’n aanval. Haar ruggraat is ’n trapleer vir koue angs, haar hart fladder in ’n kou. Engtevrees tas-tas teen die wande; ’n paniekerige mi­miekkunstenaar.

Hulle is in ’n vreemde ruimte. Dis nog nie mooi lig nie. Die môre ruik na kraalmis en varkhok, die lug vibreer met plaas­geluide: ’n helse kabaal by voerkrip, waterbak, hoenderhokvloer, speen. Bedrieglik gewoon, amper gerusstellend. Maar in haar linker­slaap klop ’n aardige voorgevoel. Onheil.

Hulle is êrens in die sogenaamde Herder se opstal. Gisternag het hulle hom die sleutel met finaliteit in die deur hoor draai, aan die buitekant.

“Jesse, jy wakker?”

“Ja.”

“Jess, ons moet uit. Dit begin flikker agter my ooglede. Ek kan nie opgesluit wees nie. Ek sukkel om asem te haal.”

Aga en Jesse staan al twee ongeveer ses voet in hul sokkies. Of liewer, hulle lê op hierdie oomblik in hul sokkies, in al hulle klere op ’n bulterige driekwartbed.

“Ons gaan ’n manier kry,” sê Jess in ’n kalmerende toon en kom regop op haar arm.

“Aga, vertel my die kamer.”

“Dit was stikdonker laas nag en nou’s dit nog steeds sterk skemer. Een bed, ’n tafel, ’n kers, geen vuurhoutjies in sig nie. Dis al, minimalisties. Wasbak, emmer. Daar is nie vensters nie, net klein luike hoog teen die plafon. Ek sien nie ’n lig nie. Dis rond, ’n rondawel? Ruik die gras en teer, Jess.”

“En klam grond en sement en klip. Jou beste reuke. Haal diep asem, Aga. Daar sal nie ’n lig wees nie, want elektrisiteit is boos, so glo die Volgelinge.”

Die Herder is die profeet van die Volgelinge, ’n klein en eks­klusiewe sekte wat net in hierdie deel van die wêreld voorkom; die Oos-Vrystaat. Amper almal in die sekte is verlangs familie van Jesse. Daaroor het sy lank stilgebly: haar vreemde wortels in die Vrystaat. Jesse ken nie die Herder of sy plaas nie, want haar pa was van Buite en hulle is nooit in die klein kring van die gemeente opgeneem nie.

Aga haal diep asem. Ja, die klam grond en die klip. En Jesse se nek wat na naeltjies en anys ruik. Nardus en saffraan, kalmoes en kaneel.

“Ek vermoed ons is onder die grond, Jess. Ons is mos by ’n lang stel trappe af laas nag. Kan dit wees?”

“Nie onmoontlik nie. ’n Ondergrondse rondawel. Hectic. Dit wil ’n klokkie lui. Ek dink my ma en pa het eenkeer gepraat oor die Kerk se sensuur: eensame aanhouding, niemand weet waar nie.”

“Jess. En jou ma was die pastoor se dogter?”

“Ja, die eerste een. Herder noem hulle hom. Hy is dood sonder dat sy visioen ooit vervul is van ’n wederkoms in die Vrystaat. Hulle het hom twee weke in die melkkamer laat lê in die hoop op ’n opstanding.”

“En die huidige Herder, die man wat ons laas nag hier op­gesluit het, hy is jou oom?”

“Ja, my ma se enigste sib. Maar ek ken hom nie. Hy het alle kontak verbied met sy afvallige suster en haar gesin, selfs deur my ouma. Vir haar sal ek graag weer wil sien, Aga.”

“So ons is in eensame aanhouding. Hoekom op aarde?”

“Aga, ek vermoed die aanklag teen ons is nuuskierigheid. Dat ons kom rondkrap het en vrae vra oor die moord.”

’n Kabaal breek uit in die beeskraal.

Wenkbrou

Подняться наверх