Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 18
— Wie kennis vermeerder, vermeerder smart —
ОглавлениеAga en Jesse lê op die groot bed in hul nonnekamer. Vanoggend het niemand hulle douvoordag kom roep vir ’n diensbeurt in die skuur of groentetuin nie. Dis asof Jesse meteens onaantasbaar is, vernaam en uitverkore. Die goue kalf, of is dit die gemeste kalf. Jesse se mond – saam met haar ekspressiewe wenkbrou die verklapper van emosie in ’n gesig sonder oë – is ’n grimmige grensdraad. Tot hiertoe en nie verder nie. Basta. Maar haar gesig is ook weerloos, wees, met ’n ligte bewing in die onderlip.
Hulle praat in fluisterstemme, koppe bymekaar, soos kinders wat konkel. “So dik as diewe,” was glo Jess se ma se uitdrukking, direk uit die Engels. Teenaan mekaar word hulle altyd rustig, Aga en Jess.
“Aga. Dalk moet ek op ’n eetstaking gaan, soos my ma toe sy klaar was met skool. Sy en haar broer is ge-home school want hulle mag mos nie met die wêreld gemeng het nie. Hulle was al twee baie bright. Meisies is natuurlik hoofsaaklik opgelei in huishoudkunde, maar my ma was vreeslik leergierig en is toegelaat om saam met haar broer, wat ’n jaar ouer is, te leer. ’n Uitstekende opvoeding deur ’n verskeidenheid goewernantes en meesters. Maar toe sy sestien was, was alles verby. Daar is besluit dat sy moet trou met ’n Volgeling, ’n wewenaar sewentien jaar ouer as sy. Volgelinge se kinders gaan nie universiteit toe nie. Maar dit was my ma se enigste droom. Sy het eenvoudig geweier om uit die bed uit op te staan of te eet. Later was sy bleek en verswak en Oumie het buite haar deur gestaan en huil en gesê: ‘Rageltjie moet maar gaan leer.’
“Rageltjie was ’n topstudent; medies. Sy het nooit meer huis toe gegaan vir ’n naweek of vakansie nie. Haar ouers het haar fondse afgesny, maar sy het ’n beurs gekry en klaargemaak. Na haar studies was sy mondig en het haar eie kop gevolg. Met my pa getrou en op sy familieplaas naby Standerton gaan bly. Die kliniek daar gevestig. Daar was ’n tyd toe sy probeer uitreik het na haar mense, en op ’n manier verdra is. En toe weer: geen kontak nie.”
Aga knik. “Die patologie van families. Rageltjie was dapper. Kan jy dink hoe sy aan die begin uitgestaan het op die kampus, in haar lang rokke en velskoenstewels?
“Jesse, ek gaan die kar haal. Ek glo nie ons word teen ons sin aangehou nie, maar ’n mens wil darem weet jy kan wegkom wanneer jy wil. Die Volgelinge is miskien nie sinister nie, net koddig; ouwêrelds en geheimsinnig. Maar ek weet nie so lekker van die Ongeskonde Susters nie. Dit voel my hulle het ’n eie agenda. ’n Verskuilde een. En dis nie noodwendig die hiernamaals nie. Dis iets meer prakties. Dis iets soos mag, hier en nou.”
“Jy’s reg. Hulle HET mag, en baie geld, al lyk dit nie so nie. Ek het my ma eenkeer hoor sê die Sêsi besit meer grond as die Volgelinge, en dis nie bietjie nie, hoor. Waar sal jy die kar parkeer, jy het gesê daar’s nie ’n pad op kliphuis toe nie?”
“Darem net ’n bietjie nader aan die huis, waar die trappies begin of so. Hoekom het die Susters nie voertuie nie, Jess?”
“Goeie vraag. Ek sal vir Suster Rut vra. Daar is ’n hele paar dingetjies wat ek haar wil vra.”
“Weet jy, Jess, my gevoel is: jy moet so gou as moontlik by jou ouma uitkom. Sy is die swak skakel, of eerder, die een wat gereed is om te praat, wat bitter graag kontak met jou wil maak. Suster Rut en Kie. is sfinkse – zeir lips are sealed.”
Soos dikwels word haar intuïsie amper op die plek as juis bewys. Daar is ’n klop aan die deur. ’n Jong suster, Rebekka reken Aga is haar naam, staan op die drumpel met ’n blou koevert in haar hand. Sy lyk senuagtig, kyk oor haar skouer. “Dese skrywe kom van Katdoornvlei. Geadresseer aan Johanna. Suster Rut het dit in die herd gegooi. Ek het dit gou uitgeraap toe sy duskant toe kyk. Keneuoe.” Sy maak ’n ligte kniebuiging.
Aga skeur die koevert, swart aan die een hoekie, oop en haal die enkele velletjie blou skryfpapier uit. Die skrif is waardig, lieflik, soos geskrifte van twee eeue gelede. Effens bewerig, in vulpen:
Mij dierbare Johanna
Ik heb de behoefte om van aangezig tot aangezig met jouw te spreken. Mij voortreflike kind die kind van my Ragel ik ween oor die verlore jare. Ik ben moeg soos mijn dierbare suster wat nu ga rus het. Ik had ganog van toesmeerdery de waarheid sal ons vrijmaak. De naam van de HEER is een sterke toren, de rechtvaardige snelt erheen, en is veilig.
Kom sien mij spoedig alsjeblief.
Jouw Oumie