Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 14

— Ons het almal verdor soos blare —

Оглавление

Waaraan is die Herder dood en hoe vind ’n mens uit as jy nie sy naam of titel mag uitspreek nie?

Aga se kop is aan die gons, ’n miernes vol boodskappers en werkers wat aflosstokkies aangee, oor bruggies spring, paadjies bou. Sy is gek oor raaisels en logika-legkaarte. Trek ’n rooster op, maak kruisies, elimineer moontlikhede tot die enigste skuldige oorbly. Sy weet nou Jesse se oom was nie Jesse se ouma se kind nie, maar die buite-egtelike seun van Motle die moederowerste en Jesse se oupa, die eerste Herder. Dus was hy Jesse se ma se halfbroer. Was dit ’n oop geheim? Hy is deur Oumie groot­gemaak soos haar eie, het Jesse gesê. Aga dink terug aan hul enigste ontmoeting twee aande gelede, in die maanlig. Hy het eerder vaagweg Oosters as half-Basotho gelyk; die blas, be­plooide Herder. Motle het mos ’n aangenome kind, Fumane, ma van die vermoorde Kotsi. Waar is Fumane? Volgens die koerantberiggie behoort sy aan die sekte. Sy was nie een van die elf Susters wat voor die ete aan hulle voorgestel is nie. As sy ’n kind het, kan sy seker nie ’n non wees nie? Sy reken Jesse se oom was diep in die sewentig. Hoe oud is sy ma, Moeder Motle dan? En Oumie?

Hulle sit in Suster Rut se kantoor, ’n klein vertrek met een hoë, ronde venster, een lessenaar, vier stoele. Sy is kalm-briesend. “Jy is bekend met ons kultuur, Keneuoe. Ek verwys nie na die Sesotho-kultuur nie, maar dié van die Ongeskonde Susters.”

So. Uiteindelik weet Aga wat hulle hulself noem, die soge­naam­de Sêsis. Die Ongeskonde Susters klink soos die naam van ’n alternatiewe Afrikaanse girl band.

“Ons orde is gebou op dissipline en diskresie. Ons blaker nie somaarso inligting uit nie. Jy het in kwader trou gespreek, vurige kole op die hoof gewerp.”

“Ek is jammer, Suster Rut. Ek beroep my op vergifnis. Ek wou reaksie uitlok, ’n sweer oopsteek. Hoe is iets ’n geheim as almal dit weet? Is dit ’n geheim omdat niemand daaroor praat nie?”

“Die helfte is jou nimmer vertel, Keneuoe. Jy sien deur ’n spieël in ’n raaisel. Soms is ’n geheim bloot ’n halwe waarheid. Onder die water lê ’n hele stad versteek. Daar is dinge wat ons nie aanraak of bevraagteken nie.”

“Dis heel digterlik, maar ek is moeg van spreekwoorde en kodes, Suster Rut. Ek het grootgeword op ’n dieet van gelykenisse en fabels, van kindsbeen af. Ek wil weet. Dis my familie. Hoe is hy dood?”

Aga kom agter dat Jesse ook meer formeel en outyds praat, met ’n skeut Bybelvers hier en daar ingegooi. Dis aansteeklik.

“Hy is aan natuurlike oorsake heen, ’n hartaanval. Die skok van jou koms het gewis iets daarmee te doen gehad. Lykskouing is in ieder geval teen ons geloof. Dit gaan gewis weer ’n lollery afgee met die polisie. As die wêreld ons maar in vrede wou laat, soos ons vir hulle. Julle is welkom om te vertoef, maar julle sal hand aan die ploeg moet slaan, skouer aan die wiel moet sit. Julle sal teen vieruur gewek word. Onthou jy nog hoe om te melk, Keneuoe?”

“Met een hand? Liewe land. Ons sal inval, maar mag ons eerder in die groentetuin diens doen? Wanneer die son al op is, Suster Rut.”

Wenkbrou

Подняться наверх