Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 7

— Die tone van die lied verdof —

Оглавление

Aga se maag grom soos ’n MGM-leeu. “Dit word al skemer, Jesse. ’n Hele dag is verby. Nie jou oom of enige ander siel het kos gebring of die emmer kom leegmaak nie. Dit voel onmens­lik. Wat presies behels eensame aanhouding hier?” Haar stem is dun.

Sy stap op en af, op en af in die kleinerige rondawel. ’n Tier in ’n kou. Ses treë, omdraai op die hak van haar Eskimostewel, weer ses treë, omdraai, herhaal. Kompulsief, om onheil en ver­lammende angs op ’n armlengte te hou. Gelukkig is daar water in die wasbakkraan. Hulle het die klein stafie Milkybar in Jesse se rugsak net halfpad verorber, met ysere selfbeheer. Hulle is groot vroue.

“Ek hoor hoe die hoenders slaapplek skrop. Het my selfoon nog nie ontvangs nie, Aga?”

“Dood soos ’n mossie. Nie eers een strepie nie. En so te sê pap.” Paniek styg soos kwik in Aga se keel.

Dit word donker en dit word nag, die tweede nag in die ondergrondse tronk. Dis bedompig. Aga gaan lê plat op die se­­mentvloer en haal vlak asem soos ’n akkedis. Sy rol in ’n bon­deltjie; ’n embrio, ’n boontjiesaad in watte. Daar kom nie ’n ge­luid uit die huis bokant hulle nie. Die stilte van bo druk swaar, onheilspellend op hulle neer. ’n Lugleegte.

Sy moes vir ’n rukkie ingesluimer het. Sy skrik wakker van ’n engelekoor. Dis donkerder as donker. Sy lê nog op die vloer, styf en yskoud. Jesse roer op die krakerige bed. Sy prewel: “Die Sêsi. Ek het hulle laas gehoor toe ek vier was. Cutt Glas kan gaan slaap.”

Jesse, self geseën met ’n formidabele engelestem, begin saggies saamsing:

Modimo wa rona

Modimo wa borare

O a utlwa: …

Thaka tsa me

Ha le nkutlwe na?

Ke le Ruta thuto tsa molao

Molao ke o neheloe

“Ek het nie geweet ek ken dit nog nie. My ma’t dit vir my gesing toe ek klein was. As die Sêsis sing, in ’n woonhuis sing, beteken dit een van twee dinge: geboorte of dood, Aga.”

“As ons húlle kan hoor, moet hulle óns kan hoor, Jesse.”

“Goeie punt, maar as ek reg onthou, is daar twaalf van hulle en hulle het longe soos blaasbalke, boesems soos boeë, ribbekaste soos katedrale.”

“Tonge van nagtegale,” voeg Aga by.

Aga klim op die bed. Hulle lê en luister. Paniek klop nog dringend in haar linkerslaap.

Die stilte na die lied is tasbaar, ’n karos. Na ’n paar oomblikke hoor hulle gedempte kapgeluide. Stilte. Nog kapgeluide. Aga kyk rond vir iets waarmee sy teen die plafon kan hamer. Die plafon is lagerig. Al wat daar is, is die emmer. Gelukkig van blik. Sy maak dit gou leeg in die wasbak; ook maar goed nie een van hulle het ’n dermbeweging in eensame aanhouding gehad nie. Sy klim met bewerige knieë op die tafel en slaan die emmer desperaat teen die plafon. Tat-tat-tat. Taffeteffie-tat. Tatterat-tat-tat. Doodse stilte. Die gekap het opgehou. Sy hamer weer. Tatterat-tat. Hulle wag. Steeds stilte. Sy neem haar emmer op en hamer herhaaldelik, nou buite beheer. Stilte. ’n Knarsgeluid op die houttrap. Stilte. ’n Klop aan die deur.

Wenkbrou

Подняться наверх