Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 17

— Ek, ellendige mens —

Оглавление

Nog ’n reëndag, nog ’n wandelende stoet, nog droewe engel­gesange. Ses mans kon Moeder Motle se kis nie tot op skouer­hoogte lig nie, daar is spesiale handvatsels geprakseer. Die Volge­linge is daar, elke enkele een, of ten minste die oudstes, hoede teen die bors, kappies vasgeklem onder kennebakke in die aangesig van die wind. Jesse is verwese. So ook, snaaks genoeg, Oumie. Haar gesig is verberg in ’n groot mansakdoek. Haar snikkende lyfie word aan weerskante ondersteun en dit lyk asof sy haar in die oop graf wil werp. Sy kyk reg voor haar en probeer nie weer om met Jesse te praat nie.

Aga en Jesse skaar hulle by die Ongeskonde Susters, op ’n veilige afstand van die Volgelinge.

Toe die kis toegegooi is, kom die segsman van die Volgelinge ver­sigtig nader. Hy haal sy hoed af en trap ongemaklik rond. Hy spreek nie vir Jesse nie, maar vir Suster Rut aan.

“Suster. Sy wat heen is het gisteraand, kort voor haar afsterwe, vir ons woord gestuur. Ons is bewus van haar sterwenswens. Dit weeg swaar. Daar is geskryf: ‘Verwerp die onderwysing van jou moeder nie.’ Dit is deurslaggewend. Johanna moet met ons mee­kom. Sy moet voorberei word vir die salwing. Ons is in die eindtyd. Des te meer namate julle die oordeelsdag sien na­derkom.” Die nat wind verleen gewig aan sy woorde.

Soos ’n lam ter slagting, kom dit van êrens af by Aga op. En: laat hierdie beker by haar verbygaan. Begin sy ook nou in Bybelverse dink?

Suster Rut plant haar weer ferm voor die Volgeling. “Broe­der Izak. Daar sal dadels van kom. Dis buite die kwessie, dit sal eenvoudig nie deug nie. Keneuoe bly tot tyd en wyl by die Ongeskonde Susters. Ons sal haar voorberei op haar taak. Julle het haar van kindsbeen af verban.”

Dit val Aga weer op hoe min outoriteit hy in die teenwoor­digheid van Suster Rut het, die druipstert broeder, die natge­reënde kraai. Sy onderkaak sak tot teen sy hoenderbors. Hy draai met ’n hulpelose handgebaar om en beur teen die wind terug na die boesem van sy gebroeders.

Aga vat Jesse se hand. Suster Rut ondersteun haar aan die ander kant. Hulle stryk aan kliphuis toe, onder droewe trek­klavierbegeleiding.

Wenkbrou

Подняться наверх