Читать книгу Wenkbrou - Deborah Steinmair - Страница 23
— Sodat jou dae verleng mag word —
Оглавление“Ek wonder of Oumie weer gaan praat. Gaan jy nie ’n dokter ontbied vir haar nie, Jess?”
“Dis nie die Volgelinge se manier nie. ’n Mens moet dit respekteer. Sy is baie oud, hoor. Seker byna honderd.”
“Jammer dat Oumie nie gesê het wie ‘hulle’ is nie. Wat vir Kotsi gaan haal het. En wie was op die werf nou die nag?”
Oumie is nie dood nie, maar sy word nie wakker nie. Twee dae al. Aga reken hulle moet die motor gaan haal en navraag doen oor Fumane. Kaïn raak rusteloos op die werf, hy waggel vir kwaadgeld rond en vreet die hoendereiers uit die neste. Aga en Jesse stap met ’n mandjie tussen die neste rond. Hulle het aangebied om die oorblywende eiers te gaan uithaal voordat Kaïn almal bykom.
“Hoe het die Susters die bobbejane afgerig gekry?” wil Aga weet.
“My ma het vertel dat Suster Rut van jongs af ’n bobbejaanfluisteraar is. Sy en die nonne maak al jare lank kleintjies hans groot. As die boere hulle ma’s vergiftig of skiet. Dis glo vir jou ’n storie. ’n Klein bobbejaantjie is nie soos ’n mensbaba wat jy soms kan neersit nie. Hulle klou dag en nag soos ’n neet aan jou. Vier en twintig uur. Hulle moet in die nag ’n paar keer gevoed word, met ’n tietiebottel. Hulle dra doeke. As hulle bietjie groter is, word ’n klompie van hulle in ’n bobbejaancrèche gesit, maar hulle het nog steeds baie aandag nodig.”
’n Hen vlieg met ’n gefladder en geraas op van haar nes toe Aga vooroor buk om eiers uit te haal.
“Ek het Rebekka gevra,” gaan Jesse voort. “Rut hou glo die kleintjies dop en kyk wie van hulle vorm alliansies. Dan hervestig sy troppe in die omgewing. Die ou grote, Habakuk, die tropleier, was glo haar persoonlike grootmaakkind. Hy het ’n ding oor haar. Ander gaan weg as hulle groot is, die mannetjies, want hulle moet ’n trop kry waar hulle ’n beter kans het om te paar. Maar Habakuk is hierdie trop se alfamannetjie, solank sy slagtande hou. Net hy dek die wyfies. Sy trop bly in die grot onder die kliphuis. Nie almal is ewe mak nie, maar Kaïn het ook ’n band met Suster Rut; hy was ook haar persoonlike babajaantjie, vertel Rebekka. Maar hy word glo nou rusteloos, hy sal binnekort vir hom ’n ander trop moet gaan soek.”
“Ek wonder of hulle gidsdiere sou kon wees?”
“Hulle is slim genoeg, maar dalk nie gretig om te plesier soos honde nie! Daar was in die 1800’s ’n stasiemeester op die spoor tussen Kaapstad en Port Elizabeth, Jumper het hulle hom genoem omdat hy so rats tussen treine en spore kon spring. Maar eendag het hy gegly en onder ’n trein beland. Al twee sy bene verloor. Hy’t vir homself houtbene gemaak en ’n spoorwegtrollie geprakseer waarmee hy vinnig kon beweeg. Hy het ’n mak bobbejaan gekry met die naam Jack. Jack het geleer om hom in die trollie rond te stoot. Wanneer ’n trein verbykom, moes Jumper vir die drywer ’n sleutel van die steenkoolskuur gaan gee. As ’n drywer steenkool wou oplaai, het hy die trein vier keer laat fluit. Toe Jack eendag die vier fluite hoor, spring hy op, gryp die sleutel en gaan gee dit vir die drywer. Jumper het hom ook geleer hoe om die sinjale te verander op grond van verskillende fluite. Hy het nooit ’n fout gemaak nie en ’n celeb geword. Hy het selfs ’n maandelikse rantsoen van die spoorweë gekry en was lief vir brandewyn oor die naweek. Daar is foto’s van Jumper en Jack, as my foon se battery nie pap was nie, kon ons dit google.”
“Ek twyfel of Kaïn sou deug as sinjaalman, hy is net te plein ongepoets!”
Toe hulle terugdraai na die klooster toe, sê Aga in ’n dringende toon: “Weet jy, Jesse, eintlik het Oumie ons klaar in die regte rigting gewys. Ek dink ons moet eers na Fumane gaan soek. Rebekka sal ons dalk kan help.”