Читать книгу 100 dae van dankbaarheid - Francine Prins - Страница 10

Versadig

Оглавление

“Versadig en verkwik,” het my ouma altyd gesê nadat sy ’n lekker bord kos geëet het.

“Versadig en verkwik,” het ek ook al dikwels ná ’n lekker ete gesê. Verkwik, want soos die woordeboek sê: Ek voel voldaan. Die kos op my bord was genoeg. Ek is versadig, my maag is vol. Ek is gelukkig en tevrede.

Dankbaarheid het ook die manier om ’n mens versadig en verkwik te laat voel. Net soos daardie voldane gevoel wat kos aan ’n maag gee, so kan dankbaarheid help om ’n hart vol maak.

In Psalm 36 getuig Dawid daarvan: Hy vertel van mense wat God se goedheid raaksien en onder sy vleuels skuiling soek. Dit is wat dankbare mense doen. Van hulle sê hy: “Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge” (Ps 36:9 – 1933/1953-vertaling).

In sy beroemdste psalm sing Dawid oor hoe God ’n mens se hart vol­daan maak: “Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil” (Ps 23:3 – 1933/1953-vertaling). Ook wanneer jou lewe vol onrus is, help God jou deur jou hart vol te maak: “As my ge­dagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel” (Ps 94:19 – 1933/1953-vertaling).

Dis deur dankbaarheid dat ons God se verkwikking ontvang. Dank­baarheid is die hande waarmee sy genietinge en vertroostinge in ontvangs geneem word. Só word ons hart vol. En dan kan ons nie anders nie as om te sê: “Nou is ek versadig en verkwik. Ek begeer niks meer nie; ek voel voldaan. Die kos vir my siel is genoeg, my hart is vol. Ek is gelukkig en tevrede.”

Here, dankie dat U ons hart vol maak van u genietinge.

100 dae van dankbaarheid

Подняться наверх